Wat Christus se koms vir Hóm beteken het
As jy beter wil verstaan wat Kersfees vir jou, en die wêreld om jou, beteken, staan stil en dink aan wat Jesus se geboorte vir Hóm beteken het.
deur ds. Werner Brotherton
Wanneer ons dink aan Kersfees word ons baie opgewonde. Dit is ’n vrolike tyd waar mense gewoonlik vriendelik is, en waar families saam kuier en lekker eet. Tog is dit soms nodig om te dink wat Jesus se koms vir Hom beteken het. Ons weet vir ons het dit beteken dat Hy vir ons sondes sou kom sterf. Tog was dit nie sonder implikasies vir Jesus nie.
In Filippense 2:6 lees ons:
Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk te word; en in die gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.
Hiervoor was Jesus gebore. Dít is waaroor Kersfees gaan. Dit gaan oor Christus, wat waarlik God is, wat mens geword het. Hy is die Woord wat vlees geword het (Johannes 1:14). Hy het aan die kruis kom hang, dit is die hout wat deur God vervloek is (Galasiërs 3:13). Dit was ’n baie groot prys wat Jesus moes betaal, en tog het Hy dit geen roof geag nie. Hy het gewillig mens geword om ons te kom loskoop van die dood.
Jesus het wel met sy hele lewe geweet wat kom. Hy was gebore as die sondelose, sodat Hy vir ons sonde kon sterf (2 Korintiërs 5:21). Iets so verskriklik, wat so wonderlik is vir ons: Christus is gebore, om te sterf, sodat ons nooit die ewige dood ingaan nie.
Wanneer ons besig is om vrolik te wees oor Jesus se geboorte kan ons dit nooit losmaak van die res van Jesus se werke nie. Jesus se geboorte was die begin. Hierna moes Hy gehoorsaamheid leer, Hy moes aan die kruis gaan hang, Hy moes opstaan uit die dood, opvaar na die hemel, en sal ook eendag weer terugkeer.
Terwyl ons hierdie tyd die geboorte van Jesus vier kan ons met alle vreugde en verlange uitsien na Jesus se tweede koms, waar ons Hom sal sien kom in, deur, op en met die wolke. Want in die hele feesseisoen gaan dit nie oor ons nie, maar alleen oor Hom wat was, wat is en wat kom.