God noem ons sy kinders en verwag dat ons so sal leef

Ons kry die wonderlike woorde dat God ons sy kinders noem in 1 Johannes 3. Lees hier wat dit vir ons beteken en hoe ons waarlik as God se kinders moet leef.

deur ds. Johan Nel

Johannes se eerste brief is ’n brief waarin die Here ons van sy liefde en sy genade vertel, waarin Hy ons moed inpraat en aan ons geloofsekerheid gee. Die derde hoofstuk van hierdie brief van Johannes begin met van die wonderlikste woorde wat ‘n mens in hierdie lewe sal hoor: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Johannes 3:1).


God noem ons sy kinders

God se Woord is lewend en kragtig. Wanneer God praat, gebeur wat Hy sê moet gebeur. Dit is waar van elke woord wat in die Bybel staan. Ons sien dit reeds in die skepping. God het gesê: “‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig” (Genesis 1:3). Met dieselfde Woord waarmee God met die skepping gepraat het, sodat alles wat Hy gesê het, gebeur het soos Hy gesê het dit moet, praat Hy deur die Bybel. Hierdie keer sê Hy dat ons, dit is elkeen met ware geloof in God in sy of haar hart, sy kinders is. Omdat God sê ons is sy kinders, is ons sy kinders. Op grond van Jesus se kruisiging en opstanding noem God ons sy kinders. Dit is wonderlike genade wanneer God ons sy kinders noem. Niemand is vanselfsprekend sy kinders nie. Elke mens op aarde is ook nie ‘n kind van God nie.

Hoe kan ons seker wees dat ons sy kinders is?

Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser is die rede waarom God ons uit genade sy kinders noem! God het sy eniggebore Seun na die aarde gestuur. Jesus Christus het mens geword. Hy het ons sonde op Hom geneem. Met ons sonde op Hom het Jesus Christus baie swaar gely en ’n verskriklike dood aan die kruis gesterf. Deur sy dood het Hy al ons sonde voor God weggeneem. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Hy het die dood oorwin en aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe by God gegee.

God noem ons sy kinders en ons is dit

Die Vader in die hemel noem ons sy kinders en ons is sy kinders. Ons is kinders en erfgename van Hom. Ons leef nou elke dag onder sy sorg, sy liefde en sy genade. Ons kan, as kinders van ons Vader, nou reeds seker wees dat ons erfgename van die ewige lewe is. Die Heilige Gees in ons, gee ons hierdie sekerheid. Dit is wonderlike genade om ’n kind van die lewende God genoem te kan word, en dit deur God self. Hierdie genade en hierdie sekerheid gee soveel troos in ’n sondige en stukkende lewe. Dit bring ook ‘n baie groot verantwoordelikheid mee.


God verwag dat ons soos sy kinders sal leef

Aan die einde van hoofstuk twee en deur die hele hoofstuk drie, maak ons Vader aan ons bekend dat Hy wil hê dat ons soos sy kinders sal leef en ook hoe Hy wil hê ons as sy kinders sal leef.

1. Leef deur die Gees in ‘n innige verhouding met God (1 Johannes 2:28)

Ons Vader wil dat hê dat ons in Jesus Christus, sy Seun sal bly en deur sy Seun ook in Hom, ons Vader sal bly. Hoe bly ek in Jesus en my Vader in die hemel? Die woord “in” beteken “in ’n innige verhouding”. Ek bly in Jesus Christus deur ’n innige geestelike verhouding met Hom te hê. ‘n Innige geestelike verhouding met Jesus Christus beteken –

  • Ek glo met my hele hart net in Hom as my enigste Verlosser.
  • Hy is in my hart en in my gedagtes.
  • Ek het Hom lief met my lewe.
  • Ek wys my liefde deur Hom te dien en te gehoorsaam.

2. Leef rein (1 Johannes 3:3)

As kind van God leef ek rein. Rein is om nie sonde te doen nie. Ongelukkig leef ek nog in ’n sondige wêreld en ek is self nog sondig. Dit beteken nie ek hoef nie rein te leef, omdat dit nog nie vir my moontlik is nie. Inteendeel! Ek leef rein op die volgende manier –

  • Ek ken God se wet baie goed, sodat ek my sonde kan ken.
  • Ek leef met die sekerheid dat Jesus Christus my van al my sonde verlos het.
  • Ek veg met alles wat ek het teen die duiwel, die sondige wêreld en my eie sonde.
  • Ek veg teen die verkeerde deur ’n lewe van bekering te leef, waar ek breek met sonde en al hoe nader aan God en al hoe meer vir Hom leef.
  • Deur die Heilige Gees wat my lei, leef ek ’n lewe van heiligmaking deur in alles nie na my sondige wil nie, maar na God se wil te vra en sy wil te doen.

3. Moenie deur die duiwel mislei word om sonde te doen nie (1 Johannes 3:7, 8)

Die duiwel is ’n baie gevaarlike vyand van elke kind van God. Hy wil my van my Vader laat wegdwaal. Hy sal my nie openlik laat wegdwaal nie. Nee, hy probeer my mislei om sonde te doen. As kind van God het ek nodig om in die krag van die Heilige Gees die duiwel te weerstaan. My Vader gee die belofte dat die duiwel dan van my af sal wegvlug (Jakobus 4:7).

4. Wees lief vir mekaar (1 Johannes 3:11)

My Vader wil dat ek sy groot gebod sal gehoorsaam. Hy vra van my om vir medegelowiges lief te wees. Die woord vir liefde beteken “om soveel om te gee dat jy bereid is om opoffering te maak vir ’n ander gelowige”. Die liefde waarvan Johannes in sy brief skryf, is liefde vir medegelowiges.

5. Liefde mag nie net woorde wees nie, maar moet tot dade oorgaan (1 Johannes 3:18)

Baie belangrik: Liefde mag nie net by woorde bly nie. Die woord vir liefde, wat die Heilige Gees Johannes laat skryf het, is ’n woord wat beteken dat elkeen wat hoor en lees, iets moet doen. Liefde mag nie net lippetaal wees nie. My Vader het uit liefde gedoen – Hy het sy Seun gegee (Johannes 3:16). Jesus Christus het uit liefde gedoen – Hy het sy lewe vir my afgelê (Johannes 15:13). Nou vra my Vader van my om ander gelowiges lief te hê en my liefde met dade te wys.

6. Bewaar sy gebooie (1 Johannes 3:22-24)

God is ook duidelik oor hoe ons, ons liefde vir mekaar moet wys. Ons het sy gebooie. Ons kry God se gebooie in Eksodus 20:1-17 en Deuteronomium 5:6-21. Dan verduidelik Jesus Christus die gebooie in sy Bergrede wat ons in Matteus 5-7 kry. Indien ek hierdie dele in die Bybel nie ken nie, sal ek mos nie God se gebooie kan bewaar nie. Daarom is dit nodig dat ek my Vader se gebooie God sal ken. Ek sal dan sy gebooie in my verstand en my hart kan bewaar. Met sy gebooie in my gedagtes en my hart, sal ek Hom uit liefde kan gehoorsaam.


Ons is kinders van die lewende God, ons Vader in die hemel. Sy Seun het ons nuwe mense gemaak. Die Heilige Gees in ons lei en help ons om nuut te leef. Luister dan na jou Vader in die hemel. Doen wat Hy van jou vra. Leef saam met al jou mede-gelowiges as kinders van ons Vader in die hemel.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui