Die geestelike testament van Paulus
In 2 Timoteus 3:10-17 lees ons Paulus se geestelike testament aan Timoteus. Lees meer daaroor en hoe dit ons kan bemoedig vir die toekoms.
deur ds. Jan-Louis Lee
’n Testament is ‘n dokument wat vir jou naasbestaandes na jou dood ’n aanduiding gee oor wat met jou aardse besittings moet gebeur. Dit kyk na die verlede: Dit wat die persoon bymekaargemaak het, wys op hul belangstellings, waarop hy of sy gefokus het en hoe hulle geleef het. Dit kyk ook na die toekoms: Dit sê wat met daardie dinge gaan gebeur, en daardie besittings gaan ’n invloed hê op ’n ander persoon se lewe en bowenal veronderstel dit ’n verhouding met die afgestorwene.
Lees vir agtergrond 2 Timoteus 3
Paulus se geestelike testament
2 Timoteus is in ’n baie egte en besondere sin Paulus se geestelike testament aan sy geestelike kind, Timoteus. Dis ’n baie dringende brief, diep persoonlik en besonder pastoraal. Paulus staar die dood vierkantig in die gesig vanuit die dodesel, en voordat die uur van sy heengaan aanbreek, moet hy vir Timoteus toerus en versterk vir die taak wat vir hom voorlê.
Hierdie testament-aspek van 2 Timoteus kom pragtig na vore in 2 Timoteus 3:10-17. Paulus maak seker dat Timoteus die verlede onthou, maar dat hy sal onthou dat hy deur waardige en getroue rentmeesters aan die Skrif gebind is en hy maak dan ook doodseker dat Timoteus die aanslae van die toekoms met die Woord tegemoet stap, want dit is hierdie Woord wat lewe wek in Christus Jesus.
Die verhouding tussen Paulus en Timoteus
Paulus het vir Timoteus in Listre ontmoet en dadelik sy gawes raakgesien. Timoteus is daarom dadelik ingespan as medewerker en eindig so op ’n baie jong ouderdom in Efese, waar hy die Woord van die Here bedien het. Paulus se prediking het ’n onuitwisbare indruk op Timoteus gemaak – veral omdat Paulus nie net gepreek het nie, maar ook geleef het soos wat die Evangelie hom leer. Dit is die Heilige Gees wat Timoteus se hart so ontvanklik vir die verkondiging gemaak het.
Die gevolg van die verandering in Paulus se lewe
Ons weet dat Paulus radikaal deur die Here tot bekering gebring is, en deur die waarheid verander is. Na dié verandering het hy in opregtheid en egtheid sy belydenis geleef. Sy geloof was nie “maak soos ek sê, moenie maak soos ek maak nie…” Hart, mond, hand – dit alles het in perfekte harmonie geleef. Maar meer as dit; omdat Paulus sy Verlosser geken het en die evangelie verstaan het – was hy selfs in staat om die onmoontlike vervolging waarvan daar sprake is in Antiochië, Ikonium en Listre te kon deurstaan. Selfs op sy spreekwoordelike sterfbed is hy blymoedig en kon hy selfs vir Timoteus oproep om vas te staan, want die Here het hom uit alles gered. Dit – hierdie evangelie – eerder as Paulus, is wat Timoteus najaag.
Paulus se raad aan Timoteus
Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.
1 Timoteus 3:14-15
Paulus skryf dat Timoteus baie mooi moet weet dat die omstandighede van kwaad na erger sal gaan. Dit gaan moeiliker én moeiliker word, maar Timoteus moet vasgeanker bly in wat hy glo. As Paulus sê, “omdat jy weet van wie jy dit geleer het” (vers 14b) dan verwys hy na twee ander spesiale mense in Timoteus se lewe: sy ouma Lois en sy ma Eunice (1 Timoteus 1:5). Timoteus se pa was ‘n Griek, maar sy ma was ‘n getroue Jood. En Timoteus se ma het met Deuteronomium 6:6-7 in gedagte, voordat sy tot die Christendom bekeer is, hom telkens geleer, en die Woord by hom ingeskerp. Timoteus ken van kleins af die Heilige Skrifte.Letterlik vandat hy kan onthou, is hy in die woord onderrig. Hulle het hom dit ingeskerp en konstant met hom daaroor gepraat. En toe hulle tot die Christendom bekeer is, het hulle aangehou om navolgers te wees – hulle het die Skrifte ondersoek, om vanuit die Ou Testament die gestalte van Christus as die Messias – die een wat deur God gestuur is, raak te sien.
Kom ons plaas onsself dan nou in die posisie asof ons besig is om Paulus se testament te lees. Dis asof hy sê:
‘My seun, ek het nie veel op die terrein van aardse middele om jou te gee nie. Ek het in der waarheid niks van stoflike waarde nie. Maar wat ek het is dit, en dit is joune en jy moet daarin vasstaan. Jy moet dit soos ‘n vuur aanblaas en dit preek en dit glo. Jy moet nie vir ‘n enkele oomblik in hierdie wedloop verslap nie, selfs al weet jy dat dinge erger gaan word – ja, hoe ondenkbaar ook al – erger as wat dit nou is.
Die hoogtepunt van ons troos in hierdie lewe
Ons troos is dat al dring en dryf die wilde heidendom in opstand teen die Koning, in anargie en verset, al gaan daar tye van tekorte, moeite en swaarkry wees; al moet mens fyn meet en pas om by alles uit te kom, het ons in die Woord, in die prediking, in die samekoms van gelowiges – met ander woorde in die onvervalsde evangelie van Christus se geregtigheid – die ware lewe.
Wat is dan ons ware erfenis?
Christus se rykdom, die gawes en skatte van geloof en liefde is ons ware erfenis. Om te mag besef dat ek, nietige sondaarmens, sonder enigiets wat ek vir God kan bied – vrygespreek is. Nie op grond van wie ek is nie; maar op grond van die feit dat God my so liefgehad het, dat Hy my nie los in wie ek was nie, maar gewas in sy geliefde Seun se bloed, rein en skoon voor Hom verskyn. Anders as met die aardse testament waar ons alles kan verloor is hierdie testament ‘foolproof’. Dit is nie iets wat jy kan verloor, vergeet of verlê nie. Dit is nie iets wat diewe by ons kan steel nie. Dit is die geloof in ons Verlosser, wat – kom wat wil – ons deur elke nood en onheil en hartseer en pyn en swaarkry en moeite dra. En merk op – dit is die testament wat elkeen van ons nalaat.
Paulus se testament kyk terug én vorentoe
Paulus sê as ’t ware vir Timoteus in sy testament dat hy twee bronne van hulp in hierdie lewe van teekanting het: die voorbeeld wat sy voorgangers gestel het, wat hom na die Skrif toe lei. So kyk Paulus se testament terug – maar dit kyk ook vorentoe. Dit troos, want ons moet bou op die fondament van die Skrif.
Wat beteken Paulus se testament vir ons?
Paulus sê dat Timoteus lankal reeds op die regte pad begin stap het. Hy het die navolger van Paulus geword – en eintlik die navolger van Christus. Te midde van ’n sekulêre, goddelose, onversoenlike wêreld, sê die Here nou by monde van die apostel: Bly by wat jy geleer het. Bly by dit wat jy vas glo. As gelowiges nou, in 2021, moet ons besef, dat waar ons dalk ooglopend in ‘n situasie van skaakmat is, dit by verre nie die situasie is nie:
- Ons wandel in die voetstappe van gelowiges wat ons voorafgegaan het en met hulle woorde en dade ons telkens bemoedig en vermaan om vas te hou aan ons geloof in onsekere tye.
- Ons skryf die testament vir opvolgende geslagte en daarom moet ons antwoorde op hierdie onmoontlike situasie nie ’n gepoetste, bo-langse, paaiwoordjie wees nie, maar Skrifgefundeerd.
- Ons kan ware hoop hê wat op ’n egte sekerheid gebou is, in dié wete dat waar dit soos ’n hopelose einde lyk, dit eintlik eindelose hoop is.