Hoe word ek deur die Gees vervul?
deur ds. Marnix Boersema

Dis een ding om te sê dat ons moet wegbly van die slegte, en deur die Gees vervul moet word, maar ’n ander om dit te doen. Hier is drie punte om jou te help.
1. Fokus op die langtermyn
Dié opdrag, om deur die Gees vervul te word, verwys nie na ’n ervaring nie maar ’n leefstyl, want net enkele verse voor vers 18 sê Paulus “let … sorgvuldig op hoe julle leef” (vers 15). So ook in vers 8: “leef as kinders van die lig!” Die vervulling deur die Gees is ’n langtermyn opdrag om te lewe in die lig en dit is nie ’n soeke na ’n bepaalde ervaring of emosie nie. Dit is om oor ’n tydperk van jou hele lewe op te groei in geloofsvolwassenheid. Ons kan nie ’n Geesvervulde lewe lei, as ons aanhou dinge doen wat die Gees se werk in ons verhinder nie (Efesiërs 5:3-5 en Kolossense 3:5-9).
2. Dit is ’n dag-tot-dag-missie
Ons moet verstaan, dat die verseëling met die Heilige Gees (die wedergeboorte) nie dieselfde is as die vervulling met die Gees nie. Die verseëling deur die Gees, soos ons lees in Efesiërs 1:13, is ’n eenmalige gebeurtenis, wanneer ’n mens tot geloof in Jesus Christus kom. Net soos wat ’n mens net een keer gebore word, so is die wedergeboorte ook eenmalig. Alle gelowiges het eenmalig en altyd die Heilige Gees, wat in hulle woon, want hulle is verseël – geestelik vir ’n tweede keer gebore.
Die vervulling deur die Gees, aan die ander kant, dui daarop dat jy nou dag-tot-dag in pas met die Gees marsjeer (Galasiërs 5:25). Al is ons wedergebore, kan ons soms meer of minder in pas (vervuld deur die Gees) marsjeer. Om Geesvervuld en in pas met die Gees te leef is om jou nie te laat beheers deur jou menslike begeertes nie (soos om dronk te word van wyn nie), maar eerder deur die wil van die Gees te lewe. Om in seksuele losbandigheid, allerhande onreinheid en gierigheid te leef is die teenoorgestelde van ’n Geesvervulde lewe (Efesiërs 5:5). ’n Geesvervulde lewe, is ’n lewe van goedheid, geregtigheid en waarheid (Efesiërs 5:9). Vir dié rede beveel die apostel ons om nie hierin te verslap nie, maar Geesvervuld aan te hou lewe.
Maak dit jou dag-tot-dag-missie om téén jou ou natuur in te lewe en eerder in pas met die Here se Heilige Gees te lewe.
3. Kweek ’n hart wat deurdrenk is met die Woord
Efesiërs 5:18 se parallelle gedeelte is Kolossense 3:16: “Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon…” Om “vol te word met die woord van Christus” is daarom presies dieselfde as om “vervul te word met die Gees”. Ek kan nie ’n Geesvervulde lewe lei, as die woord van Christus nie in sy volle rykdom in my woon nie. Dit beteken, dat ek die Bybel moet lees en indrink. Die Here se Woord moet die basis vorm vir al my besluite. As ek Bybel lees, moet ek nie net my oë oor die woorde laat gaan nie, maar elke woordjie in my hart laat insink, oordink en dan ook doen wat dit sê! ’n Geesvervulde persoon is ’n dader en nie net ’n hoorder nie. Wanneer die Here se Woord in ons woon, groei ons al hoe meer om te word soos Hy is.
So, hoe word ek deur die Gees vervul?
Hier is, vir nou, die drie, kort en kragtige handvatsels wat ons hierbo uitgepak het:
- Moet nie ‘n ervaring of ‘n emosie najaag nie, maar stel jou visier in om te fokus op lewenslange gehoorsaamheid aan die Here.
- Vermy en beveg alles wat die Gees blus en bedroef en Sy werk in jou verhinder. Sien onder andere Efesiërs 5:3-5 en Kolossense 3:5-9.
- Maak dit jou daaglikse missie om die Woord te oordink en ook toe te pas, selfs in die kleinste besluite wat jy moet neem.