Leesplan: Bybeldagboek vir Paasfees

Gebruik ‘n week se stiltetyd om te lees en te oordink wat Christus se kruisiging vir jou beteken.

Deur Karin Bain (Verwerk uit YouVersion se leesplanne)

Dag 1

  • Lees vandag Johannes 13 en 14.

Jesus dien sy dissipels tot die einde toe. Hy het geweet Hy gaan sterf en tog was Hy die dissipels se voete. Judas se voete is ook gewas en so dui dit op Christus se volkome selfvernedering. Jou naasteliefde moet altyd gerig wees tot opoffering. Die grootste werk wat die Here in jou lewe wil doen is om gehoorsaamheid aan Hom en die evangelie te verkondig. Heel aan die einde sal jy lees dat jy nie alleen hierdie offers moet bring nie. Jesus stuur die Heilige Gees om jou te help.

Hoe lyk “om voete te was” in jou eie verhoudings en omstandighede? Hoe kan jy ander dien in hierdie mees basiese manier soos Jesus vir Sy vriende gedoen het? Vra vandag die Here om jou opnuut bewus te maak van die leiding van die Heilige Gees.

 

Dag 2

  • Lees vandag Johannes 15 en 16.

In die beeld van die wingerd moet jy seker maak dat jy weet wie jy is. Jy is die takke. Jou enigste taak is om vas te hou aan Jesus, die wingerdstok. Deur dit te doen sal jy vrug dra wat by bekering pas. Al die ander werk wat in die wingerd plaasvind sal deur die tuinier gedoen word. Dit is God. Nie ek nie. Nie jy nie. Jou taak is om Hom toe te laat om deur ons te werk deur aan die wingerdstok gekonnekteer te bly. Christus gee nie ‘n lys opdragte nie. Hy beveel jou slegs tot Christelike liefde. Dink vandag oor wie jy is en wat jy geroep is om te doen. Groei al hoe vaster en nader aan Jesus Christus. Wy jou opnuut aan Hom toe in geloof. Jy kan m.et vrymoedigheid bid, want Christus het dit vir jou verkry.

 

Dag 3

  • Lees vandag Johannes 17 en 18.

Jesus bid vir sy volgelinge en ook vir jou. Die enigste wat Hy vir Homself vra is dat sy offer aanvaar sal word. Verder kan jy in sy gebed sien wat God se wil vir jou lewe is.

Wees ‘n antwoord op Jesus se gebed hierdie week. Gaan reël vir reël deur sy gebed om te sien hoe. Maak Jesus se gebed jou gebed, dat die wêreld sy heerlikheid sal sien en Hom sal leer ken.

 

Dag 4

  • Lees vandag Johannes 19 tot 21.

Plaas jouself in die skoene van die eerste volgelinge van Christus wat by sy dood was. Jou hart sal gebroke wees. Jou gedagtes sal weghardloop. Hulle het glad nie gedink dat dít met die Koning van die Jode moes gebeur nie. Hy was veronderstel om alles reg te stel, heel te maak wat gebreek was, te herstel wat verlore was, maar nou lyk dit asof alles verlore is. Alles is gebreek. Niks is reg nie. Dink vandag hoe was dit vir sy volgelinge in die tydperk tussen die kruis en die leë graf, nadat hoop weg is, voordat hulle verstaan het.

 

Dag 5

  • Lees vandag Lukas 22, 23 en 24.

Dit is belangrik om altyd in die kruisiging Christus se verheerliking en heerskappy te sien.Paulus skryf in Filippense 3:10 “Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood.” Alhoewel dit onmoontlik lyk om hierdie verskriklike beeld te wil ervaar, is die wonderwerk hiervan dat jy Christus werklik kan ken. Wanneer jy na die vrede, vreugde, rustigheid en genade kyk wat skyn deur al die geweld, kan jy die mooiheid sien van om soos Hy te word in sy dood.

Jesus het geen aardse belange gehad nie. Daarteenoor fokus sy dissipels altyd op die hier en nou en die aardse dinge. Dink oor hoe jy in jou daaglikse lewe eerder gefokus kan wees op die groter prentjie. In hier die gedeel te sal jy ook sien dat leierskap ‘n verantwoordelike diens is wat in nederigheid voor God gedoen moet word. Christus was ten volle toegewyd aan die roeping waarvoor God die Vader Hom gestuur het. Sulke toegewydheid is aan jou ook ‘n opdrag om nederig volmaak gehoorsaam te wees.

 

Dag 6

  • Lees vandag Markus 14 tot 16.

Die vrou het haar fles gebreek en al haar parfuum uitgegooi. Deur die fles te breek het sy elke moontlikheid om sommige vir haar eie gebruik te hou, toe of later, uitgeskakel. Sy het alles wat sy gehad het – verlede, hede en toekoms – vir Hom gegee. Jesus het gesê dat mense haar uitsonderlike liefde altyd sal onthou. Hierdie toewyding is ook wat Christus doen. Lees die woorde: “Hy het Sy liggaam gebreek en Sy bloed vir ons uitgestort.” Hy het ons genooi om te doen wat Hy gedoen het: Stort jouself uit voor Hom en gee alle beheer oor aan Christus. Hoe behoort “gebroke en uitgestort” in jou lewe te lyk?

 

Dag 7

  • Lees vandag Matteus 26 tot 28.

Op hierdie wonderlike dag moet jy dink oor die kruis, die leë graf en alles wat dit vir jou beteken. Gaan ook verder oor die werk wat jy moet doen: “gaan en maak dissipels.” Die suiwer evangelie wat Jesus aan Sy dissipels oorgedra het was die goeie nuus van ‘n genade wat aangegee moet word, nie net ontvang word nie. Jesus het Sy dissipels toegerus om ander dissipels te maak, om vrugte te dra. Terwyl jy vandag tyd spandeer om God te aanbid en te dank vir die genade wat jy ontvang het, bid ook dat jy meer uitgedaag sal wees as ooit om daardie genade oor te dra en jou Groot Opdrag uit te leef.

 

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui