Sê nee vir versoeking

Deur ds. Karel Steyn

Elke dag kry ons met beproewings te doen. Dis nie altyd ’n groot keuse of besluit nie, maar wel keuses wat vertel van Wie of wat jou lewe beheer. Dit gaan hier oor die besluit van wat jy met jou begeertes gaan doen. Hierdie keuses, of beproewings, is geleenthede waar ons geloof getoets word. Wanneer ons met beproewings te doen het, het ons ook met versoekings te doen.

Versoekings is daardie geleenthede waar mens ’n keuse moet maak vir God en om God se wil uit te leef óf teen God en om jou eie kop te volg.


Hoe keer mens dan dat hierdie versoeking jou nie weglei van die Here af nie?

Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring, sodat ons, om dit so te stel, eerstelinge kan wees van alles wat Hy geskep het” (Jakobus 1:18).
In hierdie vers gee Jakobus vir ons ’n besonderse antwoord: Deur vas te hou aan wie jy deur die woord van die waarheid voor God is! Anders gestel: jy bly staan deur te onthou dat jy in Jesus Christus nuut gemaak is en dat God se Woord nou jou lewe bepaal.

Jakobus gebruik hier ’n baie besonderse beeld wat byna verlore geraak het in die Nuwe Afrikaanse Vertaling. Jakobus sê hier in werklikheid dat God aan ons weer ’n geboorte gegee het, sodat ons nou werklik kan lewe. God het hierdie geboorte aan elke gelowige gegee deur die woord van die waarheid. Met die “woord van die waarheid” wys die Here ons op die evangelie: die boodskap dat Jesus Christus Koning en Verlosser is en dat ons net na God toe kan gaan deur Hom. Hierdie boodskap bring vir ons lewe; ’n lewe wat nie net bestaan uit asemhaal nie, maar uit ’n betekenisvolle verhouding met God Drie-Enig en met die mense in jou lewe.


Só is ons, van alles wat gemaak is, afgesonder vir God. Ons is eenkant geplaas en in sy diens geplaas om Hom te dien in hierdie wêreld, ten spyte van die versoekings wat oor ons kom.


Hoe oorkom jy dan versoekings?

Ons moet versoekings sien vir wat dit is: geleenthede waar jy voor ’n keuse gestel word om óf op God se Woord te staan óf om weer die eerste sonde te pleeg. Die eerste sonde, wat Adam en Eva gedoen het, was nie net om van die boom van kennis van goed en kwaad te eet nie, maar om die oordeel oor of dit goed of kwaad is in eie hande te neem.
Onthou, toe die Satan hulle verlei het om van die boom se vrugte te eet, het hy begin deur hulle te laat twyfel. In hierdie twyfel het hy van hulle gevra om te besluit oor wat God gesê het werklik só is. Op daardie oomblik was God se Woord en God se besluit nie meer die bepalende faktor vir hulle nie, maar hulle eie manier van kyk na ’n saak.


Wanneer ons in versoekings val begin ons begeertes ons aanlok en saamsleep. Op daardie oomblik neem ons self die besluit oor of iets werklik dan verkeerd is of nie. Hierdie begeertes is nie noodwendig verkeerd nie. Die uitleef op die verkeerde manier is wel! Ons word versoek om hierdie begeertes uit te leef op ’n manier wat nie volgens die Here se wil is nie.

Sonde lei ons al hoe verder van God af weg, deurdat ons weer-en-weer self wil oordeel oor wat reg en verkeerd is. Ons neem só God se reg om te oordeel tussen goed en kwaad in eie hande. Só probeer ons god speel oor God. God het reeds besluit oor wat goed en wat kwaad is. Ons kan en moet hierdie oordeel van God gebruik om ons lewens mee te bepaal. Só lewe ons as die eerstelinge wat deur God geskep is om ons lewens aan Hom te wy. Só kan ons staande bly en as oorwinningsprys die lewe ontvang wat God beloof het.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui