Dis Johannes 3:16-Dag!

Deel vandag die boodskap van Jesus en die liefde van God met almal wat jy ken!

‘n Luisteraar van die radiostasie, K-Love in Amerika, het in 2011 voorgestel dat al die luisteraars op daardie dag, 16 Maart, Johannes 3:16 deel met ander mense. So het die dag begin bekend staan as Johannes 3:16-Dag.
Die idee hiermee is dat jy die boodskap van Jesus met ander mense deel en hulle van God se liefde vertel soos ons in Johannes 3:16 lees:

God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.


Johannes 3:16 is egter nie die enigste vers in die Bybel wat ons geloof verduidelik nie. Hier is nog twaalf 3:16-verse wat jy kan deel!

Matteus 3:16

“Jesus is toe gedoop en het dadelik daarna uit die water gekom. Meteens het die hemel bokant Hom oopgegaan, en Hy het die Gees van God soos ‘n duif sien neerdaal en op Hom kom.”

Lukas 3:16

“Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.”

Handelinge 3:16

“Deur die geloof in sy Naam het Hy die bene van hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak. Die geloof wat van Hom kom, het die man volkome herstel, hier voor julle almal.”

1 Korintiërs 3:16

“Weet julle nie dat julle die tempel van God is en dat die Gees van God in julle woon nie?”

Galasiërs 3:16

“God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling” , net een, en hierdie nakomeling is Christus.”

Efesiërs 3:16

“Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word,”

Filippense 3:16

“In elk geval, laat ons koers hou op die pad waarmee ons tot hiertoe gekom het.”

Kolossense 3:16

“Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.”

2 Tessalonisense 3:16

“Mag die Here, wat vrede gee, julle altyd in alle opsigte vrede gee! Die Here sal by julle almal wees!”

1 Timoteus 3:16

“En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is: As mens het Jesus in die wêreld gekom, deur die Gees is bevestig dat die reg aan sy kant is, aan die engele het Hy verskyn; aan die heidennasies is Hy verkondig, in die hele wêreld is Hy geglo, en in heerlikheid is Hy opgeneem.”

2 Timoteus 3:16

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,”

1 Johannes 3:16

“Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.”


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui