Dink waaroor jy bid

deur Dinand Zwemstra

“Heer, vir spys en drank bring ons U lof en dank.”

Hoe goed ken ons nie hierdie gebed nie, en vir baie is dit die gebed wat hulle bid elke keer voor hulle eet. Baie kindertjies het ook ’n gebedjie wat hulle geleer word om aan tafel te bid. Maar kan en mag ons gebede bid wat ons gememoriseer het, of moet ons eerder uit die vuis uit bid?

Dié vraag kan ons eers beantwoord nadat ons gekyk het na hoekom ons bid. Die Skrif vertel ons dat gebed se belangrikste funksie is om God te dank en te prys. Te dank dat ons God as ons Vader kan en mag aanspreek. Prys omdat Hy God is, almagtig, ewig en goed. Gebed is nie ’n inkopielys waarmee ons na God gaan en Hom vertel wat ons alles graag in die lewe wil hê nie.

Gebed kan ons ook laat besef hoe diep ons van God afhanklik is. Ons asem, gawes, gesin, álles word deur God aan ons gegee. Deur gebed kan ons voor die Here ons harte uitstort en Hom vertel van al die probleme en moeilikhede waarmee ons te doen het. Gaan lees in die Psalms hoe gelowiges met hul probleme na God toe kom. Dit is hoekom ons moet bid, want God wil hê dat ons ’n verhouding met Hom moet hê. Gebed is die asemhaling van ons geloof. Gebed is praat met God. Regdeur die evangelies lees ons van hoe baie Jesus gebid het, juis omdat Hy in ’n wonderlike verhouding met sy Vader geleef het.

Noudat ons weet hoekom ons bid, wat van die tafelgebed? As ons alles onthou van hoekom ons bid, dan besef ons dit gaan nie daaroor of jy ’n gememoriseerde gebed opsê of een uit die vuis opmaak nie, dit gaan daaroor of jy dit opreg bedoel. Wanneer ons met God praat, wanneer ons tot Hom bid, moet ons dit in opregtheid doen. Ons belydenis (die kategismus) leer ons dat ons God in ons gebede van harte moet aanroep. Die beteken dat ons gebede werklik uit ons harte moet kom. Elke woord in ons gebede moet opreg bedoel wees. ’n Etenstydgebed moet dus nie nét rympies wees wat ons opsê nie. Dit beteken nie dat dit verkeerd is om meer as een keer dieselfde gebed, soos byvoorbeeld die Onse Vader, te bid nie. Dit is egter belangrik dat ons elke woord in ons gebede opreg moet bedoel.

Gedagtelose gebede is vir die Here ’n gruwel. Ons kan Hom nie met ons mond en lippe probeer eer as ons harte ver van Hom af is nie.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui