9 Riglyne vir jou gebed
Wanneer laas het jy gedink oor hoe jy bid? Lees hier watter riglyne die Bybel gee vir hoe jou gebed moet klink.
Deur ds. Joop van Schaik
Gebed is ’n noodsaaklike deel van jou lewe as gelowige kind van God. God eis gebed van jou. Hy wil hê dat jy sy genade en die werking van die Heilige Gees biddend van Hom moet vra. Gebed is absoluut noodsaaklik sodat jou lewe altyd op God gerig kan wees. Ons kyk hier na die vereistes wat die Bybel gee, wat jy as riglyne in jou gebed kan gebruik.
1. Roep die enige ware God aan
Die Bybel leer ons daar net een God is, en dit is die enigste God wat jy moet aanbid. Hiermee word die gebruik wat sommige kerke het om God deur iemand te aanbid afgewys. Baie sektes, kultusse en nie-Christelike kerke is voorbeelde hiervan. Lede van die Rooms-Katolieke Kerk bid byvoorbeeld deur die heilige Maria.
Dit kan wees dat jy ’n valse voorstelling van God maak. Só bid jy tot die God wat jy vir jouself in jou gedagtes gemaak het en nie tot die God wat Hom in sy Woord openbaar nie. Die Bybel leer jou dat God nie ’n koue, harde en onbekende God is nie; Hy is jou Hemelse Vader deur Jesus Christus. Hy is die hoorder van ons gebede (Jesaja 49:8).
2. Bid eerste tot eer van God
Jakobus skryf aan mense wat bid om hul selfsugtige begeertes te bevredig (Jakobus 4:3). Hulle wou dit wat hulle van God gevra het, in diens van die sonde gebruik, en nie tot God se eer nie.
Pasop dat jy nie in dieselfde slaggat trap nie. Gebede kan baie keer oor jouself en vir jouself wees. Dis nie verkeerd nie, maar jy moet waak daarteen om nie net om selfsugtige redes te bid nie. Jou gebede moet heel eerste op God se eer gerig wees. Hy moet uitstaan. Sy koninkryk moet altyd eerste kom. Die Onse Vader gee ons ’n goeie voorbeeld hiervan: “… laat U Naam geheilig word; laat u wil ook op die aarde geskied …” (Matteus 6:9b-10).
3. Onderwerp jou aan God
Onderwerp jou meer en meer in jou gebede aan
God se wil. Dink aan Jesus wat biddend in Getsemane met God die Vader worstel:
“My Vader, as dit moontlik is, laat
hierdie beker by my verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos
U wil” (Matteus 26:39).
God weet altyd wat die beste vir jou is. Daarom moet jy bid met die wete dat
God enigiets kan doen. Wanneer God jou gebed anders verhoor as wat jy gevra het,
is dit omdat God besluit wat die beste vir jou is, omdat “Hy alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom lief het”
(Romeine 8:28).
4. Roep God met jou hele hart aan
Jy kan spontaan en opreg vir God sê wat uit jou hart kom. Jy moet elke woord in jou gebed opreg bedoel. Dit beteken dat jy nie met ’n hoogmoedige houding moet bid nie (Psalm 131:1). Jou hart moet naby aan God wees (Jesaja 29:13).
Gebed mag nie net lippetaal wees nie, ook nie ‘n rympie wat jy uit gewoonte aframmel nie. Dit vereis konsentrasie en doelgerigtheid. Daarom praat mense soms van gebedsworstelinge. Dink aan hoe Jesus in Getsemane bloed gesweet het terwyl Hy gebid het.
5. Verootmoedig jou voor God
Wanneer jy jou eie swakheid en sondes ken en
bely, kan jy nederig voor God staan. As jy nie weet dat jy siek is nie, gaan jy
mos nie bid dat jy gesond word nie. Net so, as jy nie die werklikheid en diepte
van jou sonde besef nie, gaan jy nie presies weet waarvoor om te bid nie.
Met ernstige selfondersoek sal jy soos Dawid in Psalm 39 die brandpyn van jou
sonde voel en daaroor huil. Dan sal jy jou werklik voor God kan verootmoedig en
soos Esra kan bid: “My God, ek is skaam,
ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog
opgestapel, ons misdade staan hemelhoog” (Esra 8:9).
6. Bid smekend
Wie werklik met verootmoediging bid, kan nie
anders as om ook smekend te bid nie. In 1 Timoteus 2:1 word die opdrag gegee
dat daar met smeking gebid word. Die woord wat daarvoor gebruik word sê “dat
iets met groot dringendheid gevra word op die basis dat dit noodsaaklik is om
te ontvang”.
Smeek behels verder dat jy weet dat jy niks verdien nie, en dat dit alleen op
God se goedheid, liefde, guns, genade en barmhartigheid vir jou berus. Daarom
vra jy nie net nie, jy pleit. Jy vra God om Hom oor jou te ontferm, om aan jou sy
guns te bewys, om jou genadig te wees.
7. Bid met vertroue

Jy moet glo en vertrou dat God jou gebed ter wille van Jesus Christus verhoor, al verdien jy dit nie. In Jesaja 49:8 sê die Here baie duidelik: “Op ‘n tyd wat Ek dit goeddunk, sal Hy jou gebede verhoor, wanneer Ek wil sal Ek jou red.” Jy vertrou met dié woorde dat God jou gebed werklik hoor en dat Hy sal besluit hoe en wanneer Hy jou gebed gaan verhoor.
Die Here waarsku baie streng dat jy nie moet twyfel terwyl jy bid nie. As jy dink dat God jou tog nie sal verhoor nie, maak jy ’n klug van jou gebed. In Jakobus 1:6-8 gee die Here dié waarskuwing: “Maar ’n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie …”
8. Bid volhardend
Soms verhoor God jou gebed vinnig. Dit is wonderlik, maar dit beteken nie dat ons net twee of drie maal moet bid en dan ophou as ons nie ontvang wat ons vra nie. In Lukas 18:1 lees ons dat Jesus die opdrag gee dat jy moet aanhou bid en nie moedeloos raak nie : “Jesus het vir hulle ’n gelykenis vertel om duidelik te maak dat ’n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word.”
Dikwels dien so ’n aanhoudende gebed juis om jou al hoe nader aan die Here te bring, want jy besef al hoe meer hoe afhanklik jy van God is. Jy moet aanhou bid, gereeld en getrou, ongeag van hoe maklik of moeilik jou omstandighede is.
9. Bid uit dankbaarheid
Dit kan maklik gebeur dat jy vergeet om dankie te sê as dit goed gaan, maar as dit swaar gaan gryp jy met smeking aan die Here vas. Jy moet te alle tye dankbaar bid. Jy mag nie vergeet om die Here te dank vir al die seëninge wat jy reeds van Hom ontvang het nie. Deur Kolossense 4:2-3 praat die Here met ons: “Wees daarby waaksaam en dankbaar en bid tegelykertyd ook vir ons.” In 1 Timoteus 2:1 word ook ’n opdrag gegee: “Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense …” Hierdie verse vra van jou ’n ontsettende dankbaarheid vir die gawes en seëninge wat jy ontvang.
Weesgegroet in die Here Baie dankie vir die gebede voorbeeld het dit baie geniet en opreg waardeur. Dit het my baie gehelp nogmals dankie. Sterkte bou voort op u goeie werk.
Sal waardeur as I my ophoogte word Jackie.