Laat staan die bekommernisse

Wanneer daar ’n bekommernis is wat aan jou knaag en maak dat jy jou naels kou, lees hier wat die Bybel ons in Filippense 4 beveel.  

deur ds Coenraad Vrey

Daar is verseker nie een mens wat kan sê dat hy hom nog nooit oor enigiets bekommer het nie. Baie maal gebeur dit dat bekommernis stadig in ’n mens se hart en gedagtes insluip en die besorgdheid al dieper en dieper aan jou begin knaag. Wanneer jy hierdie bekommernis nie beheer nie, word dit naderhand angstigheid totdat al wat ’n gedagte is jou in ’n paniek laat uitslaan. As die paniek eers toeslaan kan jy nie meer konstruktief en positief besig wees nie. Dis wanneer ons, ons na die Bybel draai. Lees hier wat sê Filippense 4:6-7 vir ons:

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.


Hoe verstaan ons Paulus se woorde?

Miskien is daar nou so ’n bekommernis wat aan jou knaag en stadig maar seker van binne af so laat bewe dat jy nie weet waarheen nie. Nou sit jy en lees dat Paulus sê dat jy oor niks besorg moet wees nie. Jou eerste gedagte is heel moontlik dat Paulus anders sou gevoel het as hy in jóú skoene was! Wat weet hy van huweliksprobleme en moeilikheid in ’n gesin? Hy was dan nie eers getroud nie. Hy het nie hartmoeilikheid of kanker gehad waaraan die dokters niks meer kon doen nie. Iemand anders sal kan sê: Ja, as Paulus vandag in Suid-Afrika gelewe het, sou hy nie so maklik sê dat jy oor niks besorg moet wees nie. Hier is politieke onstabiliteit wat sommer alles deurmekaar krap. Die finansiële prentjie word elke maand net donkerder. Daar is regtig mense wat bekommerd is of hulle nog volgende maand ’n werk gaan hê. Daar is mense wat wonder of hulle ooit ’n werk gaan kry.


Paulus gee die woorde van die Here

Onthou dat hierdie nie net Paulus se opinie is nie. Hy het hierdie brief geskryf omdat die Heilige Gees hom daartoe geïnspireer het. Dit is inderwaarheid die Here self wat vir die Filippense, en vir jou en my, sê dat ons oor niks besorg moet wees nie.

Wanneer die Heilige Gees hierdie woorde vir ons sê, sluit Hy aan by Jesus se eie woorde in die Bergpredikasie. In Matteus 6 sê Jesus dat ons, ons nie moet kwel oor goed soos kos en klere en blyplek nie.

Dit was egter nie die enigste keer wat Jesus gesê dat die gelowiges nie bekommerd moet wees nie. In daardie laaste nag voor sy kruisiging het Hy dit ook gesê. Luister wat sê Hy vir sy dissipels in die nag waarin Hy nog doodsbenoud sou word: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie” (Johannes 14:27).


Dis God wat vrede gee
Kyk weer na die verse in Filippense. Daar word drie dinge vir ons gesê: Daar word gepraat van bekommernis wat ons nie moet hê nie; ons word aangesê wat ons moet doen – ons moet bid; en dan sluit die Here af met die resultaat van hierdie gehoorsaamheid aan Hom – Hy belowe aan sy biddende kinders vrede.


Jou vrede is nie in jou hande nie

As die Here vir ons sê dat ons nie bekommerd moet wees nie, is daar ’n baie goeie rede daarvoor. Bekommernis en besorgdheid is nie maar net menslik nie, dis in werklikheid ’n sonde. Angstigheid, vrees en besorgdheid is tekens van ongeloof en wantroue.
Jy bemoei jou met die uitkoms en afloop van ’n saak wat glad en geheel nie in jou hande is nie maar in die hande van God. Bekommernis is ten diepste ’n gebrek aan vertroue op God. Jy wantrou die Here, want jy glo nie die belofte dat die Here jou sal versorg nie. Wanneer jy jou bekommer oor kos en klere en werk, dan wil jy eintlik sê dat die Here nie die waarheid praat nie wanneer Hy sê: “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle” (1 Petrus 5:7).


Wat móét jy doen?
Moenie die fout maak om te dink dat jy maar ’n sorgelose lewe kan lei omdat die Here jou beveel dat jy nie besorg moet wees nie. Met hierdie woorde word gelowiges nie aangespoor om onverantwoordelik en traak-my-nie-agtig te lewe nie. ’n Mens het die verantwoordelikheid om te werk as jy werk het. Gebruik jou gawes en talente wat die Here aan jou gegee het voluit. Maak voorsiening vir die toekoms. Wanneer jy dan alles na die beste van jou vermoë gedoen het, is die afloop en uitkoms in die hande van God. Laat dit dan ook daar!


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui