Skep moed – die Here seën jou!

Of dit met jou goed of sleg gaan, hou altyd aan die seëninge wat God jou belowe het vas. Lees hierdie Bybelverse om die uitdagings van die lewe tegemoet te gaan.


deur Henriëtte Mulder

Wanneer ons aan seëninge dink, dink ons gewoonlik dat dit net die goeie dinge in die lewe is. Tog is die slegte dinge wat met ons gebeur tot groter seën as wat ons ooit kan dink. Soms raak die slegte tye lank en uitmergelend – vra maar vir Job. Soms gaan dit vinnig verby, maar wanneer ons uit daardie omstandighede is, vergeet ons dat God dit so beskik het. Ons lewens is vol uitdagings, maar ons kan altyd vasklou aan die seëninge wat die Here ons belowe het.


God se seëninge vir jou

Jy is nie alleen nie

Nou dan … skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die HERE, en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare …

Haggai 2:4

Die Here sê Hy is met jou. Al gaan dit hoe swaar, skep moed en doen alles so goed as wat jy kan.

God sorg vir jou

Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. … Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.

Psalm 37:1-5

Jy moet onthou dat die Here vir jou sorg en daarom mag jy nie toelaat dat slegte mense jou hele lewe versuur nie. Vertrou op Hom.

God gee wysheid en insig

Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig.

Psalm 111:10

Wanneer jy die Here dien, gee Hy aan jou die nodige wysheid.

Jy groei onder druk

As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?

Job 2:10

Wanneer jy in slegte omstandighede beland, moet jy dit aanvaar en glo dat die Here jou sterker maak. Jy kan die Here ook vra wat jy uit die situasie moet leer.


Wees vir ander tot seën

Net soos jy seëninge ontvang kan jy dit ook uitdeel. Dikwels is jy juis in ’n moeilike situasie om as ‘n gelowige ander te ondersteun en Christus se lig daar te laat skyn.

Wees anders

Jy mag nie agter die meerderheid aan doen wat verkeerd is nie.

Eksodus 23:2a

Moenie net dinge agter die groep aan doen nie. Maak jý ’n verskil met jou woorde en dade. Só kan jy iemand se dag opkikker of hulle weer hoop gee.

Respekteer ander

Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of Grieke of aan die gemeente van God nie. Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.

1 Korintiërs 10:31-33

Paulus leer ons hier dat ons almal moet respekteer. Tog moet ons oppas dat ons nie mense so respekteer dat ons nie na God luister nie. As ons God se lliefde uitstraal, sal ons ander mense respekteer.

Waak teen onkunde

God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy al die mense oral op om hulle te bekeer.

Handelinge 17:30

Ons moet elke dag daarteen waak om verkeerde dinge te doen. Soms is dit baie maklik om die groep mense om ons te volg sonder om te dink aan wat ons nou eintlik doen. Wees bedag op wat jy doen.

Veroordeel sonde, nie mense nie

Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. Een glo ’n mens mag alles eet; ’n ander een is swak in die geloof, en hy eet net groente. Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem.

Romeine 4:1-4

Net soos wat ons nie deur ander mense veroordeel wil word nie, moet en mag ons nie ander veroordeel omdat ons anders as hulle dink en doen nie. God het ons almal gemaak, daarom mag ons hulle nie veroordeel nie. Ons moet hulle wel op die regte pad help indien hulle teen God sondig.

Hou aan goed doen

Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.

Galasiërs 6:9

God het ’n tyd vir alles in die lewe. Hy weet ook wanneer elke ding in ons lewens gaan gebeur, maar soms kan ons nie die groot prentjie sien of verstaan nie. Daarom sê God vir ons dat ons moet aanhou en uithou en alles vir Hom moet doen. Dit wat ons elke dag in ons doen, doen ons tot eer van God en Hom alleen.

Doen jou bes

Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in ’n goddelose tyd.

Efesiërs 5:16-17

Hoewel ons Christene is en elke dag ons werk vir God doen en moet doen, gebeur dit dat ons moeg en uitgeput raak. Dan begin ons om nie meer ons beste te gee soos wat God wil hê nie. Ons moenie net ons beste in ons geestelike lewens gee nie, maar in elke aspek van ons lewens.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui