Seëninge in Openbaring vir die ewigheid

Lees hiér wat die sewe saligsprekinge in Openbaring alles belowe aan die gelowiges in vervolging en hierna.
deur MJ du Plessis
In die boek Openbaring openbaar die Here hoe Hy sy volle heerskappy uitoefen, en hoe Hy sy koninkryk deur die ganse heelal vestig en tot stand bring. Hy openbaar ook ons plek in hierdie groot raadsplan. Die Here beskryf hoe die uitverkorenes in sy koninkryk in volle saligheid sal lewe.
Die sewe saligsprekinge in Openbaring neem toe in erns en dringendheid, totdat die Here die laaste verse van die Bybel skryf, en ons as ‘t ware met die laaste een groet. Al sewe lê binne die raamwerk van die eerste een (Openbaring 1:3). Die seën en saligheid van God rus op die gelowiges wat die openbaring en misterieë van God eerbiedig. Wanneer jy die saligsprekinge van Openbaring lees is dit belangrik om te onthou dat die Here van ons eis om sy Woord getrou en aanhoudend te lees, daarna te luister en dit te bewaar.
1. Openbaring 1:3
Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.
Om Bybel te lees en daarna te luister is baie belangrik. God openbaar sy wil in die Bybel. Die mense wat God se wil glo en daarvolgens lewe, is salig. Daar moet iemand wees wat die Woord voorlees, en mense wat daarna luister.
Dis egter nie genoeg om net te lees en te hoor nie, ons moet dit “ter harte neem”. Dit beteken dat ons dit moet onthou. Ons moet dit deel maak van ons gedagtegang en alles wat ons doen. Verder moet ons ook die Woord bewaar. Dit verwys weer na die eerste opdrag van God aan Adam om die skepping te bewaak.
2. Openbaring 14:13
Toe het ek ’n stem uit die hemel hoor sê: ‘Skryf op! Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.’ ‘Ja,’ sê die Gees, ‘hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle.’
In Openbaring 14 word die verskriklike vervolging, verleiding en afval beskryf. Daarmee saam word beskryf hoe die gelowiges gaan vashou aan die Here en sy Woord. Die ware gelowiges sal ten spyte van vervolging in die Here sterwe wanneer hulle in die geloof volhard. Wat nog verder belowe word is dat niks wat hierdie gelowiges gedoen het vergeet word nie. Dis nie sinneloos en verdwyn in die niet nie. Die geloofsdade gaan saam die ewigheid in, maar uiteindelik wag daar vrede en rus.
3. Openbaring 16:15
Geseënd is die een wat wakker bly en sy klere reghou, sodat hy nie kaal hoef te loop en die mense sy skande sien nie.
In daardie tyd het mense kaal geslaap. Só as jou klere nie reg was nie of as jy aan die slaap was, sou ‘n dief jou onkant betrap. Om wakker te bly en jou klere gereed te hou, beteken dat jy die Woord so ken dat jy dadelik leuens en valse profete sal raaksien. Boonop is jy altyd gereed, want die Here gaan onverwags kom.
4. Openbaring 19:9
‘Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.’ Verder sê hy vir my: ‘Dit is die woorde van God, en hulle is waar.’
Openbaring 19 vertel van die vernietiging van die goddeloses. Al is hierdie vernietiging verskriklik hoef ons nie bang te wees nie. As jy tot redding uitverkies is, kan jy weet dat God se beloftes vir jou vas en waar is. Ons weet ook verder dat die uitverkiesing voor die skepping al deur die Here vasgelê is (Efesiërs 1:4). Die mense wat só glo is geseënd.
5. Openbaring 20:6
Geseënd en heilig is dié wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom die duisend jaar lank regeer.
Die eerste opstanding wys na die oomblik wanneer gelowiges sterf en dadelik by God in die hemel is. Hulle is ewig geluksalig, vry van die sonde en volkome met Jesus verbonde. Vanselfsprekend gaan hulle aan die tweede opstanding deelneem wanneer die Here by sy wederkoms verskyn. Dan sal die liggame weer uit die aarde opstaan en met die siele verenig word. Openbaring 20:14 en 21:8 verduidelik dat die tweede dood slegs vir die ongelowiges is wanneer hulle in die doderyk in die poel van vuur gegooi word. Maar die gelowiges word geseën tot priesters en konings wat regeer (Openbaring 5:10).
6. Openbaring 22:7
Jesus sê toe: ‘Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.’
Nadat die Here sy openbaring oor die Nuwe Jerusalem en sy inwoners afgehandel het (Openbaring 22:5), word die kerk vir oulaas opgeskerp om by die Woord en die profesieë van die Here te bly. Om dit sterk te beklemtoon, herhaal die Here die eerste saligspreking in ander woorde.
7. Openbaring 22:14
‘Geseënd is dié wat hulle klere was, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en deur die poorte in die stad kan ingaan.’
Skoon klere kry ons slegs in Christus. Die smet en vuilheid van ons sondige lewe is skoon gewas deur Jesus Christus se bloed (Openbaring 7:14). Ons word totaal rein gemaak – en daarom verklaar die Here ons salig. Die verwysing na die boom van die lewe sluit aan by die skeppingsgeskiedenis, en sluit die aarde se geskiedenis finaal af. Wanneer ons ingaan deur die poorte word die deur van haat en ellende vir ewig agter ons toegemaak. God se lig gaan oor ons skyn en ons gaan deel in die boom van die lewe. Nog gedeeltes verwys na die boom van die lewe: Genesis 2:9; 3:22-24, Esegiël 31: 4-14 en Openbaring 2:7 en 22:2.
Wil jy nog meer leer? Besoek www.gkbellville.org/bybelstudie.htm om die volle studie oor die saligsprekinge van Openbaring af te laai.