Lewe uit die seëninge in die Psalms

Die saligsprekinge in die Psalms vertel jou hoe God sy kinders seën. Lewe in dankbaarheid in hierdie seëninge en laat dit jou lewe beïnvloed.
deur Jozelle Smit
Seëninge is baie soos die genade van die Here. Jy kan nie een van die twee verdien nie. Het jy geweet dat daar seëninge sal volg as jy God se Woord onderhou en jou lewe volgens die Here se wet en wil rig? Die saligsprekinge is riglyne om te wys hoe jy die Here in dankbaarheid moet aanbid. Dié saligheid gaan daaroor om in die wonderlike teenwoordigheid van jou allerhoogste Vader te kan leef. Dit is wonderlik watter oorvloedige seën die Here aan jou in die Ou Testament belowe. Voor die boodskap van die Evangelies word daar al van die seën van die Here vertel. Veral die Psalms vertel hoe die Here sy kinders seën.
Daar is drie spesifieke seëninge waarop die Psalms vir jou ‘n duidelike verkondiging van God se seën deur die saligsprekinge gee.
Die seën van die Godsvrug
Die Here openbaar Homself aan ons regdeur sy Woord en ook elke dag deur die skepping. Dit is ’n onbeskryflike seën dat hierdie almagtige Skepper en Vader ook persoonlik by ons lewens betrokke is. Deur hierdie saligsprekinge wys Hy vir ons hoe ons in ’n intieme persoonlike verhouding met Hom kan leef.
“Gelukkig is die mens …”
- wat by die Here skuil (Psalm 2:11-12; Psalm 34:9).
- wie se God die Here is (Psalm 33:12; Psalm 144:15).
- wie op die Here vertrou (Psalm 40:5; Psalm 84:13).
- wat by die Here woon (Psalm 65:5; Psalm 84:5).
- wie hulle krag in God vind (Psalm 84:6).
- wat geregtig is (Psalm 106:3).
- wat die Here vrees (Psalm 112:1; Psalm 128:1).
- wat God van ganse harte soek (Psalm 119:2).
- wat sy hoop op die Here vestig (Psalm 146:5).
Jou verlossing is ‘n seëning
Al is die Psalms lank voor die verlossingsboodskap van die vier Evangelies geskryf, is die boodskap van die seën van verlossing duidelik. As jy verlos is deur Christus kan jy leef en is jy ‘n geseënde mens wat jubel en juig oor hierdie verlossing.
“Dit gaan goed met die mens wat …”
- verlos is deur die Here (Psalm 32:1).
- jubel tot eer van die Here (Psalm 89:16).
Die Woord van God is ‘n seëning
Ons glo dat God se wil volkome in die Bybel uiteengesit word. Daarin word alles geskryf wat jy nodig het om salig te word en ook hoe jy die Here moet dien. Die volgende saligsprekinge wys hoe ons die Woord van die Here moet gebruik om in saligheid te kan leef, in ’n wêreld wat ons konstant sal versoek om anders te doen.
“Gelukkig is die mens wat …”
- in die Woord van die Here sy vreugde vind (Psalm 1:1-2).
- in die Woord van die Here onderrig word (Psalm 94:12).
- wandel volgens God se Woord (Psalm 119:1).
Om in die saligheid van die Here te mag lewe, is ’n seëning vir jonk en oud. Dit sal elke situasie in jou lewe in die toekoms beïnvloed en bepaal. Alles wat goed is kom van die Here af, en die Here self is ook goed. Daarom seën Hy jou, alhoewel jy dit nooit kan verdien nie.