Hou die Sabbatdag heilig, sê die Here

Lees hier wat dit beteken as die vierde gebod sê dat ons die Sabbatdag heilig moet hou. Dan sal jy verstaan hoekom die Sabbatdag ’n geskenk van God af is.

deur Jaco Roets

Die vierde gebod sê:

Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier van jou of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag het Hy gerus, en daarom het die Here dit as gereelde rusdag geheilig.

Eksodus 20 vers 8 tot 11

In die oggend, veral oor die naweek is dit moeilik om op te staan. Die week was lank en hard, skoolwerk, leerwerk en dan ook nog sport oor die naweek.

Om laat te slaap is mos dan rus, is dit nie?

Wat beteken die opdrag wat die Here vir ons in die 4de gebod gee?

Jesus het geleer dat die Sabbatdag tot ons voordeel gemaak is (sien Markus 2:27). Die doel van die Sabbat is om vir ons ’n sekere dag van die week te gee waarop ons ons gedagtes en optrede op God kan rig. Dit is nie ’n dag om net van die werk af te rus nie. Dit is ’n heilige dag wat in aanbidding en eerbied deurgebring moet word.

Hierdie dag is ’n dag van rus en vrede – rus van die sonde, en vrede van die wêreld se uitdagings.

Hou die Sabbatdag heilig

Dan is dit ook vir ons baie belangrik dat die Bybel vir ons leer dat die Sabbatdag heilig gehou moet word.

God het die Israeliete die opdrag gegee, in Levitikus 19: “wees heilig want Ek is heilig”. En God leer ons dat die heiligheid wat Hy van ons verwag is om afgesonder te wees.

Dié woord afgesonder beteken eenvoudig eenkant gesit. Maar hier in die Bybel bedoel God ons moet heilig wees en daarom opsygesit wees vir God. Dit beteken dat iemand sonde, en spesifiek sy eie sonde, sien vir wat dit is: in stryd met God se karakter en wil. Iemand wat hulself dus werklik sien as iemand wat opsygesit is vir God, is iemand wat voortdurend met sonde in hul eie lewe afreken sodra hulle daarvan bewus word.

Om afgesonder te wees vir iets, beteken eenvoudig om daaraan toegewy te wees. Dit is iemand wat in verhouding met God staan wat aan Hom toegewy is en daarom vir God afgesonder is. Iemand wat ’n kind van God is, behoort aan God en nie meer ‘aan die wêreld’ nie.


Word God dan self ook moeg?

Iets wat nogal van hierdie gebod vir ons uitstaan, is dat die teks van Eksodus stel dit dat God gerus het. Ons lees in Jesaja 40:28-31:

Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.

So die antwoord vraag is dan, beslis nie – God word nie moeg nie.


Die Sabbatdag is ’n geskenk

Dan sien ons vanuit die belydenis van die Skrif, dat God hierdie dag vir ons as geskenk gegee het. Hierdie is ’n dag wat ons in ontmoeting met God kom. Elke dag is God teenwoordig in ons lewe, maar die besige druk van skool, universiteit en ons werk trek soms ons aandag en fokus af van die belangrikheid en ons dankbaarheid van God se genade.

Daarom gee God vir ons rus, nie net fisiese rus nie maak ook geestelike rus. Die erediens op Sondag is ’n diep persoonlike en terselfdertyd gesamentlike ontmoeting met God: Dit is die ontmoeting met God wat jy in jou persoonlike lewe vervul met die kennis van die Woord van God. Ook is dit ’n geleentheid om saam medegelowiges die Here te loof en prys vir Sy voorsienigheid en krag.


Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou, sodat jy kan rus kry van God en in die wysheid van die Here kan groei. Sodat God jou kan lei en sterk maak in die troosryke genade van Jesus Christus. Sodat jy die in die wêreld kan wandel in die leiding van die Heilige Gees.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui