Die Psalms as ’n boek van gebed

Die Psalms is gebede en kan jou help om jou gebedslewe te verryk. Só word ons in die Bybel geleer hoe om in Jesus Christus se Naam tot God te bid.
deur ds. Werner Brotherton
In die Bybel is daar een wat heeltemal anders is as die res van die boeke. Dit is anders omdat dit net gebede bestaan. Hierdie boek is die Psalms. Dit is eintlik vreemd om te dink dat daar ’n gebedeboek in die Bybel is. Die Bybel is tog die heilige Woord van God en gebede is die woorde van mense.
Hoe pas gebede in die Bybel in?
Die hele Bybel is die Woord van God, ook die Psalms. Dit beteken dan dat die gebede aan God, God se eie Woord is. Dit is moeilik om te begryp. Ons kan dit alleen begryp wanneer ons onthou dat ons ware gebed alleen by Jesus Christus kan leer, Hy is die Woord wat vlees geword het. Hy het onder die mense kom woon.
Hoe bid mens die gebede in die Psalms?
Wanneer ons die gebede in die Bybel wil lees en bid, en veral in die Psalms, is dit belangrik dat ons nie in die eerste plek vra wat die gebed met ons te doen het nie. Ons moet vra wat dit met Christus te doen het.
Ons moet vra hoe ons die Psalms as God se Woord kan verstaan, dan sal ons hulle kan bid. Dit hang dus nie af of die Psalm op die stadium weergee wat in ons hart aangaan nie. As ons reg wil bid is dit dalk goed om juis die teenoorgestelde te bid van wat in ons harte aangaan. Kyk na Dawid se psalms. Hy is omring deur vyande. Sy lewe is in gevaar, en tog word hy stil in die Here. Hy sit nie in wantroue nie, maar in vertroue.
Dit gaan nie altyd oor wat ons wil bid wat belangrik is nie, maar wat God wil hê ons moet bid. Ons gebede moet ooreenstem met die wil van God. As dit aan onsself oorgelaat was sou ons net die vierde bede van die Onse Vader bid. Tog wil die Here dit anders hê. Die rykheid van God se Woord behoort ons gebed te bepaal, nie die armoede van ons hart nie.
Bid in Jesus Christus se Naam
Uit die stelling dat daar ’n gebedeboek in die Bybel is, kom ons agter dat die Bybel ons nie net leer wat die Here wil hê ons moet hoor nie. Ons leer ook watter woorde die Here ván ons af wil hoor, want dit is die Woorde van sy geliefde Seun.
Dit is alleen genade dat die Here ons leer hoe om met Hom te praat en gemeenskap met Hom te hê. Ons kan dit doen deur te bid in die Naam van Jesus Christus. Die Psalms is vir ons gegee juis vir hierdie doel, sodat ons mag leer om in die Naam van Jesus Christus te bid.
Die Psalms en die Onse Vader
In antwoord op die dissipels se vraag oor hoe om te bid leer Jesus hulle die Onse Vader. Elke gebed in die Bybel is in hierdie gebed opgevang. Alle gebede in die Bybel word saamgevat in die Onse Vader. Martin Luther, die kerkhervormer, het oor die Psalms gesê:
Dit dring deur tot in die Onse Vader, en die Onse Vader dring deur tot in die Psalms. Dus word die Onse Vader die fondament vir of ons in die Naam van Jesus Christus bid, of in ons eie naam. Dit maak sin dat die Psalms so baie aangehaal word in die Nuwe Testament. Dit is die gebede van die Christelike kerk deur die eeue. Dit hoort by die Onse Vader.
Het jy al daaraan gedink?
Wanneer jy die gebede, en veral die Psalms bid of sing, doen jy dit saam met die kerke deur die eeue heen. Wanneer ons in die erediens sing, dan bid ons. Ons bid saam as liggaam van Christus. Dink aan byvoorbeeld Psalm 90. Dit is ’n Psalm deur Moses geskryf. Dit is al oor die 6000 jaar oud, en ons kan dit vandag nog sing! Daar is nie ’n meer populêre lied om te sing, of gebed om te bid as die Psalms nie.
Die Psalms is ’n gawe uit God se hand. Wanneer jou lewe voel of dit in duie wil stort, word net stil in die Here. Bid die Psalms. Ja, wanneer jy nie enige woorde het vir gebed nie, bid die Psalms. Bid God se Woord vir Hom terug, want Hy wil dit hoor. Dit troos ons om te weet dat ons Vader in die hemele ons hoor wanneer ons saam met Christus, in Christus bid. Om te bid is deel daarvan om stil te word en in die Here te rus. As gelowiges kan, mag en moet ons bid want ons het vrede met God in Christus (Romeine 5:1).