Moenie die Naam van die Here misbruik nie!
deur Pieter Deysel
Wat beteken dit om te laster? Beteken dit bloot om God se naam aan te roep wanneer jy nie werklik bedoel om met God te praat nie? Hoekom is laster in die eerste plek so ’n groot probleem? Hoekom is God so erg daarop ingestel?
Om te verstaan hoekom laster so ’n groot probleem is, moet ons die heiligheid van God verstaan. God word deur die ganse Skrif geloof vir sy heiligheid. Ons sien in Openbaring 4:8 dat selfs die engele om God se troon Hom vir sy heiligheid loof.
Wat beteken dit dat ons sê God is heilig?
As ons sê dat God heilig is, beteken dit dat Hy totaal en al anders as enigiets op aarde is. Hy is nie anders in die sin dat Hy vreemd is nie, Hy is anders in die sin dat Hy heerliker as enigiets op aarde is. Dit beteken dat God bo alles anders die allerbeste is. Niks op aarde kan eers naby aan sy heerlikheid kom nie. Niks kan Hom effektief naboots nie. Alles is met die sonde belaai, God is sondeloos.
Dit is ook om hierdie rede dat ons nie ’n beeld van Hom mag maak nie. Alle beelde wat ons van God probeer maak, gaan so plat val dat dit eintlik vir God ’n belediging is.
Hoe word die naam van die Here misbruik?
As die heerlikheid van God so groot is dat ons nie ’n beeld van Hom mag maak nie, hoe moet ons dan oor God praat?
Wanneer ons die naam van die Here misbruik, dan erken ons nie God se heiligheid nie. As ons God se naam as ’n vloekwoord of plekhouer gebruik, maak ons sy Naam tot niks. Hierdie beteken ongelukkig dat omtrent alle programme op TV God se naam tot niks maak.
Laster beteken nie bloot om God se naam te gebruik wanneer ons nie werklik met Hom wil praat nie, dit is slegs ’n bygevolg van ’n algemene veragting van Hom. Om te laster beteken om op enige manier van, met of oor God te praat of op enige manier na Hom te verwys op ‘n manier wat Hom nie respekteer nie.
Ons moet God eer met hoe ons praat
Ons lewe in die wêreld, maar ons is nie van die wêreld nie. God gee die opdrag dat ons heilig moet wees, want Hy is heilig (1 Petrus 1:16). Hierdie beteken dat ons anders moet wees, want God is anders. Dit beteken dat God regverdig is, dus moes ons regverdig wees. God is liefdevol, dus moet ons ook liefdevol wees, ensovoorts.
Die wêreld eer God nie met hoe hulle praat nie, ons moet God eer met hoe ons praat. As ons werklik God wil eer met hoe ons praat, moet dit nie net by praat bly nie. Ons moet ook God in ons dade eer. Ons moet nie net bloot passief nié laster nie, ons moet ook God aktief eer in beide ons woorde en in ons dade. Ware Godsdiens is ’n aktiewe saak, dit gebeur nie net sommer nie.
Hoekom is laster so verkeerd?
Jy mag dalk op hierdie punt vra hoekom is dit vir God so ’n groot saak as ons laster? Menslik gesproke klink dit dalk of God ’n vreeslike groot ego het. Hierdie is nie die geval nie, want Hy kan nie ’n ego hê as Hy werklik alle respek verdien nie.
Mense is gewillig om mense wat goed is in iets te respekteer, want mense erken ander se vaardighede. Mense raak nie kwaad as Max Verstappen sê hy ry vinnig nie, want dit is waar. As Lionel Messi sê hy speel goed sokker, raak mense nie kwaad nie, want dit is waar. Die punt wat ek probeer maak is dat ons as mense gewillig is om mense respek te gee as hulle vaardig is.
Geen mens verdien respek op dieselfde vlak as God nie, alles wat Hy is en doen verdien respek, daarom het God nie ’n ego nie. Dit is onmoontlik vir God om ’n ego te hê, want alles wat hy eis kom Hom werklik toe. Dus moet ons in ons lewe alle eer en respek aan God betoon.
Hoe eer ons God?
Nadat jy hierdie gelees het, mag jy dalk vra hoe kry ons dit reg om God te eer. Die eise wat gestel is klink vreeslik hoog. Dit is slegs deur Christus se offer aan die kruis en die Heilige Gees se leiding dat ons dit kan regkry. God sonder ons af om Hom te eer deur om sy Seun se redding aan ons te skenk. Ons kry dit nie uit onsself uit reg nie.
Alhoewel hierdie genoem word in die slot van die skryfstuk, kan dit nie in ons lewens ’n nagedagte vir ons wees nie. Ons kan geen van die bogenoemde alleen regkry nie. Ons kan dit slegs doen in nederige afhanklikheid van ons redder, Jesus Christus.