God gee die groot én die klein
In Kerstyd vier ons dat God die grootste Geskenk, Jesus Christus, aan ons gegee het. Maar, ons kan ook elke dag vier dat Hy alles wat ons nodig het voorsien.
deur ds Lohan Linde
God voorsien. Hy is die Voorsiener. As mens so na hierdie beskrywing kyk, dan is dit amper asof daar ’n ander betekenis bykom. VOOR en SIEN. God het van VOOR die grondlegging van die wêreld al geSIEN! Nie net hoe swak en nietig die mens gaan wees wanneer hulle in die sonde val nie, maar ook wat ons gaan nodig hê om in hierdie wêreld staande te kan bly.
In hierdie komende feestyd, word ons gedagtes gewoonlik getrek na die Groot Geskenk toe, en dit is natuurlik reg so. Dit is die Grootste van alle Geskenke, ons Here Jesus wat as mens die gestalte van ’n slaaf aanneem, wat die Verlossingspad begin loop tot by Golgota, deur Golgota tot by die oop graf.
Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie …
1 Korintiërs 10:13
Hierdie gedeelte in 1 Korintiërs wil ons egter verder vat. Nie net die groot Geskenk nie, maar die alledaagse ook.
Daar is kere wanneer ons met Kersfees regtig bederf is, deurdat jy ’n groot of spesiale geskenk gekry het, iets waarvoor jy of jou ouers lank gespaar het, en jy later wou bars van opgewondenheid dat jy dit mag kry. ’n Nuwe fiets, ’n krieketkolf of rugbybal, ’n nuwe boek van ’n reeks wat jy lees.
Jy is so opgewonde oor daardie een geskenk, dat die ander geskenk vervaag wat daarmee saamkom, veral die sakdoeke wat jou ouma of jou tannie vir jou gekoop het.
Die ironie is dat daardie groot geskenk nie iets is wat jy daagliks gaan gebruik nie. Maar sakdoeke, hoe dankbaar is jy nie vir die sakdoek in jou sak, as jy skielik begin nies of verkoue ontwikkel nie!
Met hierdie beeld wil ek die volgende stel: Hoe wonderlik is dit nie om ’n God te mag dien wat vir ons álles gee nie?
God gee alles vir ons
God gee die Groot Geskenk, ons Verlosser en Saligmaker, maar ook die wonder van dit wat ons daagliks nodig het, sonder dat ons dit dikwels besef.
Om ’n gelowige te wees, beteken nie dat ons nou sommer maar lekker en gemaklik gaan lewe nie. ’n Mens wil amper deesdae voel dat dit die teenoorgestelde gaan wees. Hoe meer die wêreld geloof en Christene begin haat, hoe meer gaan ons anders lyk en optree, en dan gaan dit gebeur dat dit moeilik raak. Moeilik om te stry en te baklei.
Soos ons dit in Heidelbergse Kategismus Sondag 52 bely: Dit is:
Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.
God gee die Heilige Gees
God gee vir ons die Heilige Gees sodat ons die nodige krag het om te kan baklei. Hy voorsien vir ons God die Heilige Gees om in ons harte te werk. Hy verlig ons oë en harte sodat ons die Waarheid van die Woord kan beleef. Sodat ons, wanneer daar beproewings kom, die regte fokus kan behou:
… as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.
1 Korintiërs 10:13
Hierdie beteken natuurlik nie dat ons kan maak en breek soos ons wil nie. Nee, ons het die geskenke, en ons moet dit oppas, dit gebruik, dit toepas in ons lewe, soos Paulus skryf:
Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!
1 Tessalonisense 5:23
Dit is die grootste geskenk, dat ons onberispelik geplaas is voor God, en daarom leef ons in dankbaarheid, selfs deur die swaar en moeilike tye, want God gee vir ons sy Woord om selfs in daardie tye aan te hou jubel:
Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
Kolossense 3:16