Wat sê die Bybel mag ons nooit uitstel nie?

Die Bybel gee baie voorbeelde van wat ons nie mag uitstel nie – die belangrikste hiervan is om ons saak met die Here reg te stel. Lees hier.


deur Wilna Myburgh

Van uitstel kom afstel. Dit is sekerlik ’n spreekwoord wat ons almal ken. Én waarmee ons almal al mee tereggewys is, van die tyd wat jy nie dadelik jou kamer aan die kant gemaak het, of jou huiswerk eerste ding gedoen het nie!

Iets waarvan ons dalk nie van altyd af bewus is nie, is dat sekere sake jou gaan inhaal, maak nie saak hóé jy uitstel nie. Dis waar die tweede spreekwoord van uitstel inkom – Uitstel is nog nie afstel nie.

Dink aan iets soos inkomstebelasting – jy kan jou jaarlikse opgawe uitstel, en uitstel, maar êrens gaan die Ontvanger jou aanmaan om dit te doen. En, as jy dit dan nog uitstel, gaan jy moet boete betaal. En, as jy na alles dit nog steeds nie doen nie, kan jy sommer in die tronk beland. Maar, êrens in hierdie verhaal sou jou oorspronklike uitstel jou al ingehaal het, en sou jy alles wat jy uitgestel het, in elk geval moes doen!

Dis net ’n wêreldse voorbeeld. In ons geestelike lewens is daar ook goed wat ons gaan inhaal as ons dit aanhou uitstel. Die grootste hiervan is sekerlik om ons saak met die Here reg te maak. Ons weet nie wanneer Jesus Christus terugkom na die aarde nie. Steeds stel baie van ons uit om ons lewens volkome aan die Here oor te gee. Die Hebreërs-skrywer maan ons juis aan:

Maar solank daar nog ’n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie.

Hebreërs 3:13

Dit is een van die grootste sake wat ons nie mag uitstel nie. Tog gee die Bybel vir ons ook ander opdragte oor uitstel.


Stel dadelik sake met jou broer reg

As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe. As iemand ’n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ’n skikking …

Matteus 5:23-25

In hierdie verse staan dit duidelik uit dat jy moet vrede gaan maak die oomblik wat dit jou byval. Moenie aangaan en besluit jy sal later gaan regmaak nie! Die laaste vers sê weer dat ons gou moet regstel wat verbrou is. Hoe moeilik dit ookal is, moet ons nie uitstel om vrede met ons teenstanders te maak nie.


Maak dadelik reg met iemand wat jou kwaad gemaak het

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.

Efesiërs 4:26-27

Daar is baie verse in die Bybel wat ons beveel om vrede te maak, hetsy vrede met jou broer of jou vyand. In hierdie verse sien ons dat daar ’n tydsbepaling is: Moenie jou dág kwaad afsluit nie. Dit sluit aan by Matteus 5 se verse dat ons dadelik moet regmaak.


Kom jou belofte aan die Here na

Wanneer jy ’n gelofte aflê teenoor die Here jou God, moet jy nie traag wees om dit na te kom nie, anders sal die Here jou God jou tot verantwoording roep en sal jy skuldig wees. Wanneer jy nie ’n gelofte aflê nie, sal jy nie skuldig wees nie …

Deuteronomium 23:21-22

Hierdie vers sit vir ons uiteen hoekom ons nie ligtelik ’n gelofte aan die Here moet maak nie. Wanneer jy God belowe dat jy iets gaan doen, mag jy dit nie uitstel nie. Die opdrag kry ons ook in Prediker 5:3-5.


Moenie wag om die evangelie te deel nie

Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen’ … ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word.

Lukas 14:21-23

Ons lees in Lukas die gelykenis van ’n man wat mense na ’n groot maaltyd uitnooi. Hy stuur sy slaaf uit om die mense te nooi, maar daar bly steeds plek vir nog mense. Wat belangrik is hier is die dringendheid waarmee die slaaf uitgestuur word. So moet ons, sonder huiwer, die Woord aan almal verkondig.


Moenie uitstel wanneer jy die evangelie hoor nie

Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het.”

Hebreërs 3:15

Ons het geen idee hoe lank ons lewens gaan wees nie, en geen idee wat more gaan gebeur nie. Jakobus 4:14 beklemtoon dit: “Hoe is julle lewe dan? Dit is maar ’n miswolkie, wat net vir ’n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn.” As ons dan die evangelie hoor, en weet dat ons ons lewens aan die Here moet oorgee, moet ons nie uitstel om dit te doen nie.

Hebreërs stel dat ons nie hardkoppig moet wees nie. Net soos ons nie weet hoe lank ons op aarde gaan wees nie, weet ons nie wanneer Jesus terugkom nie. Lukas 12:40 sê dit: “Ook julle moet gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n tyd wanneer julle Hom nie verwag nie.”


Daar is soveel voorbeelde in die Bybel wat ons waarsku dat ons gereed moet wees vir Jesus se koms. Ons durf dit nie uitstel nie! Daar is ’n tydsbeperking aan hierdie uitstel, en ons weet nie wat hierdie tyd is nie. Daarom moet ons dadelik, sonder uitstel, sonder huiwer, ons lewens volkome aan die Here oorgee.

Wanneer ons die ewigheid uitstel totdat dit afstel word, sal ons die ewige gevolge van ons uitstel moet ly. Maar onthou ook, as jy tot vandag toe uitgestel het, kan jy nou nog – onmiddellik – iets daaraan doen.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui