Wie het my lag gesteel?

Kruispad gee leidrade om jou in die soektog na die skat van vreugde te by te staan.

Deur San-Mari Mac Intyre

Wanneer laas het jy lekker uit jou maag gelag, of iemand gesien lag dat die trane loop? Daar is elke dag nuwe dinge wat ons lag steel. Lagstelers kan enigiets wees van stres, romantiese verhoudings wat nie uitwerk nie en konflik met ons ouers of vriende tot ’n swak selfbeeld, depressie en geweld.

Hierdie lagstelers is ’n realiteit, maar gelukkig is die skat van vreugde ook ’n realiteit én die teenmiddel vir die lagstelers. Waar begin ek na hierdie skat van vreugde soek? Kyk na die volgende leidrade om jou te help.


Leidraad een: Goddelike vreugde is beter

Voordat jy wegspring om die skat van vreugde te soek, vergewis jouself van die verskil tussen aardse geluk en Godgegewe vreugde.

Aardse geluk, of plesierigheid:

  • is ’n wêreldse term wat ’n tydelike gevoel beskryf.
  • kan gesteel word en jou eindelik ongelukkig maak.
  • is afhanklik van eksterne faktore, en die mense rondom ons hou gewoonlik die sleutel van hierdie tipe geluk vas.
  • se mag lê by mense.

Goddelike vreugde daarteenoor:

  • is ’n geestelike term wat ’n toestand beskryf.
  • is afhanklik van interne faktore, en ons verhouding met God is die sleutel tot ons vreugde.
  • is vreugde waar die mag lê in ons toegewydheid aan God en nie by mense nie.

Leidraad twee: Vreugde is in ’n Boek te vind!

Jy kan jou vreugde in die Bybel vind: “Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink,” (Psalm 1:1-2).

Vreugde word direk aan ons omgaan met die Bybel verbind. Wanneer dit goed gaan met ons en ons gelukkig is, vergeet ons dikwels om die Bybel te lees en te oordink. Sodra ons situasie verander en ons ongelukkig is, spandeer ons skielik meer tyd in God se Woord.

Die geheim van vreugde is om die Bybel te lees wanneer dit goed gaan sowel as wanneer dit sleg gaan. Dit wil sê: lees die Bybel elke dag. Jy moet ook toepas wat jy in die Bybel lees, en seker maak jy dink na oor wat jy gelees het.


Leidraad drie: Vreugde is in ’n Persoon

Ons het reeds by die eerste leidraad ontdek dat ons aardse geluk se mag by die mense rondom ons lê, maar dat vreugde se mag in ’n verhouding met God lê. Die volgende twee tekste vat hierdie waarheid so mooi saam. Let op die woorde: “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer,” (Psalm 37:4). “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” (Filippense 4:4).

Vreugde is dus nie aan die wêreld daar buite gekoppel nie, maar is net in die Here te vind!


Leidraad vier: Vreugde is ’n vrug

Ware vreugde word deur die Heilige Gees aan jou gegee. God ag vreugde so belangrik dat Hy dit as ’n vrug van die Gees lys: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie,” (Galasiërs 5:22-23).

Vreugde is dus ’n direkte gevolg wanneer jy jouself deur die Gees laat lei.


Vat jou lag terug!

Lagstelers haal die vreugde uit die lewe, maar daar is besliste teenvoeters vir hierdie lagstelers. Die uiteinde van hierdie teenvoeters? Ware vreugde! Verstaan die verskil tussen aardse geluk en Goddelike vreugde. Lees die Bybel wanneer jy “gelukkig” én “ongelukkig” is. Dínk oor wat jy in die Bybel lees. Moenie jou vreugde in mense soek nie. Jou vreugde is net in die Here te vind. Vreugde is ’n gevolg van die Gees se werk in jou lewe.


San-Mari is ’n pastorale terapeut in die Noordelike voorstede van Kaapstad wat gespesialiseerde terapie met ‘n Gereformeerde grondslag aan jongmense bied. Sy bied ook werkswinkels aan vir gemeentelede wat jongmense beraad. Sy kan vir terapie of vir die aanbied van werkswinkels gekontak word op haar e-posadres: sanmarivh@gmail.com. 

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui