Vind vandag troos in die ewige lewe

Het jy geweet dat jou belydenis van die ewige lewe vir jou onmiddellike hoop, troos en verligting kan gee? Onthou dit in tye wat jy regtig moeg gelewe is.

Verwerk uit ’n preek van ds. Marnix Boersema

Glo opreg in die ewige lewe

Om die troos van die ewige lewe te beleef, moet ons nie net ons emosies inspan nie, maar ook ons verstand. Jy sal die blydskap, wat die Heilige Gees ons gee, beleef, wanneer jy regtig inkoop op die belofte van jou ewige saligheid. Dis nie genoeg om dit net te glo of te weet nie. Jy moet dit ervaar deur dit jou eie te maak.
Jy ervaar blydskap oor die ewige lewe wanneer jy die belofte regtig toeëien. Dit is ’n eiesoortige blydskap wat jy dan ervaar!

Blydskap in die ewige lewe
Dié blydskap is soos die wat ’n reisiger beleef wanneer hy terugkeer huis toe; wat iemand beleef nadat hy ’n skat ontdek het; wat ’n kind verwag, wanneer sy hardloop om deur haar pa omhels te word.
Hierdie blydskap laat jou weet: jy is op pad huis toe; jy het die skat van die ewige lewe saam met God ontdek; jy hardloop in hierdie lewe na jou Vader en jy verwag om met al sy liefde en barmhartigheid omhels te word.

Blydskap as vrug van die Gees
Hierdie blydskap en vreugde is ook deel van die vrug van die Heilige Gees (Galasiërs 5:22). Die blydskap en troos van die ewige lewe is ’n resultaat van die wedergeboorte. Wedergebore gelowiges ontvang die blydskap van ’n ewige lewe.

Hoe ervaar ek hierdie blydskap?
Om die blydskap in die Gees te ervaar, moet jy Christus verwag. Jy móét Jesus Christus se wederkoms verwag. Jy moet vooruitkyk met daardie definitiewe sekerheid, dat Jesus al oppad is! As jy Christus se wederkoms verwag, kan jy nie anders as om jou eie ewige lewe te verwag nie. Want as Christus weer kom, dan kom Hy jou haal.

Dit is ‘n ewige blydskap van binne

Hierdie emosionele ervaring is nie ’n “goeie bui” nie. Dit is ’n onnatuurlike en bonatuurlike blydskap, want dit is blydskap selfs binne-in swaarkry. Daarom sê Jakobus in sy brief: “…julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard … sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.” Die blydskap is ook bonatuurlik, want dit is as gevolg van jou geloof in Jesus Christus, sy opstanding en wederkoms.

Dink terug aan Jesus se lyding

Wanneer jy in geloof dink aan die dag toe Christus gekruisig is en opgestaan het, dan weet jy jou lyding is niks teenoor dit wat Hy reeds gedra het nie. Daar sal ’n einde kom. Jy sal opstaan soos Hy opgestaan het!
Ons lyding en verdrukking herinner ons daaraan dat ons net van God se genade leef. Dit is vir ons vreugde as ons swaarkry, want dan verlang ons soveel te meer huis toe. As jy op aarde ly, sal jy smag na ewige verlossing en ewige vreugde. Só borrel daar in jou ’n emosionele ervaring – ’n blydskap oor die opstanding en wederkoms van Jesus Christus!

Vind blydskap deur jou lyding
Jy sê dalk: Nee, ek kan nie. Dit gaan net te sleg. Ek is net te depressief. Ek is net te moeg. Ek is net te stukkend. Onthou dan die Here se antwoord aan jou in sy Woord: “Maar bly jy in alle omstandighede nugter, verdra lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, voer al die pligte van jou bediening uit” (2 Timoteus 4:5).

  • As dit vir jou voel of jy niks anders kan doen nie, ly dan! En ly gelowig! Dra jou lyding.
  • Doen dit biddend – bid dat die Here jou die gawe van blydskap sal gee te midde van jou lyding (Filippense 4).
  • Bedink die goeie van God. Ly en laat jou gedagtes rus op dit wat goed en lofwaardig is.
  • Bely saam met Job in Job 19:25: “Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as die laaste een oor die stof opstaan.”

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui