Die tien gebooie is vandag nog geldig

Jesus se woorde in Matteus 5 dat Hy die wet kom vervul het vertel ons presies waar die tien gebooie vandag in ons lewens inpas. Lees hier.

deur ds Johan Nel

Waarom moet ons die Wet van God bestudeer? Daar is ’n hele paar redes. Hoewel daar meer redes is, kyk ons net na vier.

  1. Daar is onder Christengelowiges vandag ’n sterk standpunt dat die tyd van die Wet verby is en dat ons in die tyd van die genade leef.
  2. Daar is vandag steeds by baie Christene groot misverstande oor die plek wat die wet in my lewe het.
  3. Die Here praat met ons en leer ons baie deur sy Wet.
  4. Die manier om te weet hoe sondig ek is en hoe nodig ek Jesus, my Verlosser het, leer ek deur God se Wet.

Verstaan die gebooie deur Jesus Christus

Voor mens na elkeen van die gebooie kyk , moet ons eers verstaan waar dit inpas. Daar is nie ’n beter plek, eerder ’n beter Persoon, om by te begin as Jesus Christus ons Here nie.

In sy baie bekende en belangrike bergprediking het Jesus ook oor God se Wet gepraat. Hy het baie interessante en meer nog, baie belangrike dinge oor die Wet gesê.

Lees ons Verlosser se woorde:

Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry. Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.

Matteus 5:17-18

Die tyd van die wet is nie verby nie

Met Jesus se heel eerste woorde oor die Wet is dit reeds duidelik dat die mens wat glo en sê dat die tyd van die Wet verby is, heeltemal van Jesus verskil. So iemand is daarom heeltemal verkeerd en onder ’n totale wanindruk. Die mens wat so glo en praat, sal moet verander en terugkom van die dwaalweg weg van Jesus af en weer naby Hom en vir Hom leef.


Kom ons kyk na wat Jesus ons met hierdie woorde van Hom leer

Die heel eerste wat ons moet besef is dat Jesus Christus, die Seun van die lewende God, ons Verlosser, met ons praat. Sy Vader het Hom gestuur om ons van God se wonderlike verlossingsplan te leer. Hierdie woorde van die Here Jesus is deel daarvan. Wanneer Jesus oor die wet en die profete, dit is die hele Ou Testament praat, praat Hy as ons hoogste Profeet en Leraar daaroor met die gesag van God, omdat Hy self God is.

Die agtergrond van hierdie woorde van Jesus is dat die Fariseërs en skrifgeleerdes, wat hulleself gesien het as die groot leraars van die Wet, Jesus begin beskuldig het dat Hy die Wet omver kom gooi het en daardeur onrus begin veroorsaak het.

Met hierdie woorde het Jesus al die mense geleer dat die geestelike leiers heeltemal verkeerd was. Hy wat Jesus is het juis gekom om die hele Ou Testament sy werklike betekenis te gee. En, dit wat in die Ou Testament staan te doen op die volmaakte manier soos God dit nog altyd wou gehad het.


Jesus is self ernstig oor die wet

Verder het Jesus gewys en geleer hoe ernstig Hyself oor die wet is. Ons kry sy woorde in vers 18: “Dit verseker Ek julle”. In die Grieks staan daar die woord “amen”. Amen beteken dit wat gesê is, is waar; dit is vas en seker. Wat is so vas en seker? Luister na die Here Jesus: “Die hemel en die aarde sal eerder vergaan, as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles vervul is” (Matteus 5:18).

In die 1933-vertaling staan dit geskryf as: “een jota of een titteltjie van die wet”. Die letter jota is die kleinste letter in die Hebreeuse alfabet. Hy is kleiner as die helfte van ’n gewone letter. Die letterstrepie in die Hebreeuse alfabet is nog kleiner. Dit is ’n baie klein strepie regs onderaan ’n letter om die een letter van die ander te onderskei.


Wat het Jesus met hierdie woorde gesê?

  • God se wet en die res van die hele Ou Testament is volmaak.
  • Sy wet en die res van die Ou Testament kan nooit verander nie.
  • Die vereistes in die Wet is permanent – solank die hemel en die aarde bestaan, solank sal die hele Ou Testament bestaan.
  • Dan, in alles wat in die Ou Testament staan, het Jesus self ’n sentrale plek.
  • Hy gee aan elke kleinste detail in die Ou Testament die werklike betekenis van wat daar staan.
  • Hy wat Jesus is, het gekom om deur sy verlossingswerk alles te doen wat in die Ou Testament staan.

Wat beteken hierdie woorde van Jesus vir my vandag?

  • Die tyd van die Ou Testament, die wet en profete, is nie verby nie en sal in ewigheid nie verbygaan nie. Dit is baie belangrik dat ek dit sal weet en sal glo.
  • Die Joodse geestelike leiers het die Ou Testament net as wette en reëls gelees met Jesus nêrens in hulle gedagtes en harte nie. So mag ek die Ou Testament glad nie lees nie.
  • Jesus Christus, my Verlosser, wil glad nie hê dat ek die Wet sal lees as net reëls wat ek moet en wat ek nie mag nie. Wanneer ek die Wet en Ou Testament lees of daarna luister moet ek elke keer na Jesus soek. Hier is dit baie belangrik dat ek sal bid en die Heilige Gees sal vra om my te help.
  • Wanneer ek die Wet van die Here en die res van die Ou Testament lees met Jesus in die middelpunt, dan leer ek God regtig ken.

Hierdie artikel is verwerk uit ’n preek van ds. Johan Nel. Kry die volledige preek hier.

You may also like...

1 Response

  1. Hennie Blomerus sê:

    Baie dankie vir die verduideliking oor die Wet en OT. Dit is opmerklik hoe min die Wet nog gelees word tydens Eredienste, dit is baie jammer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui