Bid vir die Here se daaglikse versorging

Wat beteken dit as jy in gebed vir jou “daaglikse brood” vra? Lees hier wat dit beteken vir hoe ons moet bid.

deur ds. Daniël Myburgh

Op wie maak jý vir fisiese versorging staat? As babas en kleuters maak ons ten volle op ons ouers vir versorging en beskerming staat. Maar soos ons weet is dit nie vir ewig só eenvoudig nie! Soos ons volwasse word, en deur die wêreld beïnvloed word, dink ons, ons kan sélf regkom. Omdat ons baie keer dink dat ons vir onsself moet sorg en in die Here se Vaderliefde twyfel, leer Hy ons om aktief daarvoor te bid.


Dit is nie ’n opdrag nie!
Die eerste ding wat belangrik van hierdie bede is, is dat ons dit nie moet sien asof ons vir God ’n opdrag gee nie. ’n Ware gelowige sal altyd met die regte gesindheid bid – altyd met nederigheid en ’n besef dat God se wil altyd bó ’n mens se wil is. Daarom kan ons by elkeen van die bedes in die Onse Vader-gebed, “as dit U wil is” byvoeg.


God sorg vir alles wat ons liggame benodig

Verder is die verklaring van hierdie bede volgens Heidelbergse Kategismus Sondag 50 ook vir ons belangrik. Wanneer ons hierdie bede bid, dan erken ons dat God die Vader ons met álles versorg wat ons liggame nodig het. Dit is uiters belangrik dat ons, ons vertroue slégs in God stel, en nie in onsself of in iemand naby aan ons nie. God is die Gewer van alle dinge – Hy gee vir ons méér as wat ons nodig het, selfs al voel dit soms vir ons asof ons meer verdien. Alles wat die Here vir ons gee, is genade, selfs iets so eenvoudig en alledaags soos brood. Hy sorg vir almal van ons – of ons skatryk is of brandarm. Hierdie bede is op álle gelowiges van toepassing, want alles kom uit die Here se hand. Alles wat ons het, is ons s’n omdat die Hére dit vir ons gee. Van die mees basiese – soos die brood in die kombuis, tot die mees kosbare – soos jou geloof in Jesus Christus.


Hoe kry ons die brood waarvoor ons bid?

Ons kry die brood waarvoor ons bid deur daarvoor te werk, natuurlik! Om die vermoë te hê om te werk en ’n salaris te verdien, kom óók van die Here af. Hy alleen stel jou in staat om iets te kan doen om geld te kry sodat jy kos kan koop. My vermoë om eendag goed in my beroep te wees, is nie omdat ék, uit my eie uit, so begaafd is nie, maar omdat die Hére aan my die nodige gawes gee. In werklikheid is dit Gód wat vir ons sorg en nie óns wat vir onsself sorg nie.


Daaglikse brood gaan oor ons daaglikse afhanklikheid aan God

Daarom leer Christus ons ook bid vir ons dááglikse brood. Hy leer ons bid vir dit wat ons op daardie spesifieke dag nodig het – môre bid ons weer vir dit wat ons dán nodig het. Sodoende bly ons besef dat ons élke dag van die Here afhanklik is. Ons leer om deur gebed in gesprek met God te bly. Om slegs te vra vir dit wat ons vir dáárdie dag nodig het, leer ons ook om die Here te vertrou vir die toekoms. Al kan ons nie sien wat môre of volgende jaar gaan gebeur nie, kan ons séker weet dat die Here ook dán vir ons sal sorg. Sodra ons dit besef, dan sal ons rustig raak en met die geloof van Matteus 6:28-33 kan leef:

Let op hoe groei die veldlelies: hulle swoeg nie, en hulle maak nie klere nie. Maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is, en môre verbrand word, só versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie, julle kleingelowiges? Julle moet dus nie julle bekommer en vra: ‘wat moet ons eet, of wat moet ons drink, of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader wéét tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer hulle allereers vir die Koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook ál hierdie dinge gee.


Daarom, omdat ons na God kyk as ons Volkome Versorger, kan ons almal opreg bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” Dit beteken dat ons tevrede sal wees met dit wat God uit sy Vaderliefde vir ons gee. Ons moet goed verstaan dat ons nét vir dit moet vra wat nodig is om God opreg te dien en eer. Gelowiges wat verwag om deur die Here bederf te word, verstaan sy genade verkeerd. Alles wat die Here vir ons gee, gee Hy vir ons omdat Hy ons liefhet, en nie omdat óns so wonderlik is nie. Soos elkeen van ons weet, gee die Here baie méér as net die brood waarvoor ons nederig vra. En daarom behoort ons tevrede en vergenoegd te wees met dít waarmee die Here ons so ryklik seën.


So kom ons vertrou die Here – selfs nog méér as wat klein kindertjies hulle ouers vertrou. Die Here sal ons nie, soos ander mense, teleurstel nie. Daarvan kan jy séker wees wanneer jy weer hierdie bede bid.


Lees die artikel, “Hoekom is gebed so belangrik vir ’n Christen se geloofslewe?”, ’n inleiding tot die Onse Vader, en hoekom jou gebedslewe so belangrik is vir jou geloofslewe. Volg dan ook die skakel na elkeen van die bedes wat die Onse Vader uitmaak om meer daarvan te leer.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui