Wat staan op jou gebedslys?
Gebruik jy ’n gebedslys? Kruispad kyk kortliks na wat ’n gebedslys is, en hoe jy dit kan gebruik om jou gebedslewe te verryk.
Deur ds. Gerhard van Rhyn
Wat is ’n gebedslys?
- Presies wat dit sê: ’n Lys waarop jy alles neerskryf waarvoor jy wil bid.
- Dit help jou om te bid.
- Hierdie lys kan jy op ’n stuk papier, in ’n boekie, op jou rekenaar, selfoon, tablet, of waar ook al vir jou gemaklik is, maak.
Wat is ’n gebedslys nie?
- Dit is nie ’n inkopielys waar jy net vir die Here alles noem wat jy wil hê nie.
- Dit is nie ’n rympie om uit jou kop te leer sodat jy jou gesprekke met die Here net opsê en aframmel nie.
- Dit sal nie keer dat jou gebede met die Here gesprekke is nie.
Waarom het ek ’n gebedslys nodig?
- Dit help jou om alles te onthou waarvoor jy wil bid.
- Dit help jou om jou gesprek met God te hou sonder dat jou gedagtes dwaal.
- Dit help jou om vir alles te bid waarvoor jy behoort te bid.
- Dit help jou om te sien hoe die Here in die verlede gesorg het wanneer jy na jou vorige gebedslysies kyk.
Hoe lyk my gebedslys?
Onthou, alles waarvoor jy moet bid kom op jou gebedslys. Gebed is ’n tweerigtinggesprek: Die Here leer ons in sy Woord waarvoor ons moet bid, en praat daardeur met ons. Wanneer ons bid, praat ons met Hom.
1. Loof die Here
Dit beteken om Hom te prys en vreugde te vind in Wié Hy is: Hy is die Almagtige God wat vir jou lief is.
2. Sê dankie
Dank God vir sy liefde, sy sorg, dat jy sy kind is en in Jesus glo, dat Hy vir jou alles gee wat jy nodig het, dat Hy jou beskerm en dat jy veilig by Hom is.
3. Sê vir die Here hoe nodig jy Hom het
Hier bely jy jou sonde en sê dat jy nie verdien om sy kind te wees nie. Jy doen dit nie om jouself af te kraak of te laat skuldig voel nie, maar om vir die Here te sê dat jy Hom elke sekonde van elke dag van jou lewe nodig het, omdat Hy vir jou lewe in Jesus Christus gee.
4. Bid vir ander
Ander gelowiges, mense wat nog nie van die Here gehoor het nie, mense wat deur moeilike tye gaan, mense wat die Here oor jou aangestel het (jou ma en pa, jou onderwysers, die regering, ensovoorts). Vra die Here om al hierdie mense in sy genade te lei en om by hulle te wees.
5. Bid vir jouself
Hier vra jy vir die Here alles wat jy nodig het, vir krag om alles te doen wat Hy wil hê jy moet doen, vir beskerming, vir leiding deur die Gees, vir volharding in die geloof, vir vertroue in Jesus en om tot sy eer te lewe.
6. Loof en dank Hom
Die laaste ding op jou lysie is om weer die Here te loof vir wie Hy is en om vir Hom dankie te sê.
7. Eindig jou gebed met amen
Dit beteken dat jy heeltemal op die Here vertrou en dat jy weet dat Hy altyd jou gebede beantwoord.
Dink net watter wonderlike voorreg dit is om te bid: Jy kan met God praat en Hy wil hê jy moet met Hom praat. Probeer bietjie om ’n gebedslys te maak, jy sal nie spyt wees nie!