Só bid jy omdat jy dankbaar is
Ons moet die opdrag om dankbaar te wees as ons bid nakom. Lees hier wat dit beteken as ons sê dat gebed die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe moet wees.
deur ds. Werner Brotherton
Ons almal het al op so punt gekom wat jy vra: Hoe bid ek? Soms is dit een van die moeilikste dinge om te doen. In jou hartseer, pyn, deurmekaarheid en selfs deur ons blydskap kry ons soms nie die woorde nie. Tog sê ons Heidelbergse Kategismus in vraag en antwoord 116 dat gebed vir die gelowige nodig is, want dit is die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe.
Gebed is die vernaamste deel van ons dankbaarheidslewe …
Vernaamste beteken bekendste. Dit beteken dat ons as gelowiges bekend moet wees vir ons gebede. Wanneer mense dink aan ’n gelowige moet hulle dink aan ’n biddende gelowige.
Bid uit die Psalms
Ons troos is dat ons nie alleen is wanneer ons nie weet hoe om te bid nie. In die Bybel is daar baie gebede wat vir ons as voorbeelde kan dien. Die Psalms spesifiek is ’n goeie plek om heen te gaan wanneer ons nie weet hoe en wat om te bid nie. Ons leer by die Psalmdigters hoe om in alle omstandighede te bid.
Wanneer ons bly is, is daar Psalm 100 as voorbeeld. Vir wanneer ons bang is, is daar Psalm 91. Wanneer ons kwaad is daar die wraakpsalms soos Psalm 43. Jesus leer ons in die bergpredikasie in Matteus 5 dat ons wel net mag kwaad word wanneer daar onreg is. Ons mag nie sommer uit selfsug kwaad word nie.
Ons leer by die Psalmdigters dat hulle baie keer ook die teenoorgestelde gebid het as dit wat hulle gevoel het. Wanneer hulle skryf hoe hulle omring is deur hulle vyande, bid/sing hulle hoe die Here hulle vertroue en sterkte is.
Dis belangrik dat ons leer hoe om te bid
Tog moet ons nie sleg voel as ons steeds sukkel om te bid selfs al is daar ’n hele gebedeboek in die Bybel nie. Die dissipels het ook hiermee gesukkel. Daarom gaan hulle na Jesus toe en vra Hom hoe hulle moet bid.
As ons lewe gekenmerk moet word deur gebede is dit belangrik dat ons leer hoe om te bid. Ons moet leer bid in ons persoonlike stiltetyd, met Huisgodsdiens, en met geleenthede.
Hiervoor is daar oefening nodig. Daarom is dit belangrik dat ons as ouers ons kinders van vroeg af leer bid. Hulle moet met etenstyd en Huisgodsdiens geleentheid kry om te bid sodat dit nie vir hulle vreemd is om te bed nie. As die gelowige se lewe gekenmerk moet word met gebed, moet hy self baie vertroud wees om te bid.
Jou gebed word nie geken aan hoe lank jy bid nie
Dit beteken nie dat ons altyd ’n ingewikkelde of groot gebed hoef te bid soos ’n predikant nie. Kyk maar na die gelykenis van die Fariseër en die Tollenaar wat gaan bid. Die Fariseër het ’n lang uitgebreide gebed, wat egter vol selfsug was, maar die Tollenaar het ’n baie kort gebed waar hy bid om vergifnis. Soms is al wat nodig is ’n kort gebed, wat dalk baie meer as ’n lang uitgebreide gebed sê.
Gebed is hoe ons met God praat
Tog bly gebed belangrik. Gebed is hoe ons met die Here praat. In enige verhouding is daar kommunikasie nodig. Die Here praat met ons deur sy Woord en ons antwoord met gebed en deur die Psalms te sing of te bid.
As ons mooi gaan kyk sal ons selfs sien dat die Bybel ook nêrens daarvan praat dat ons in ’n verhouding met die Here leef nie, maar in gemeenskap met Hom leef. Dit laat ons nog meer besef hoe belangrik dit is dat ons bid.
Bid omdat jy dankbaar is
Ons belydenis maak ’n laaste punt baie duidelik: Ons bid want ons is dankbaar. Die gebed is deel van ons dankbaarheidslewe voor die Here. Ons is dankbaar vir al die Here se goedheid, sy troue sorg oor ons lewens. Ons is ten diepste dankbaar vir ons verlossing in ons Here Jesus Christus. Deur sy werke aan die kruis het ons nou vrye toegang om tot die Here te kan en mag bid. Hoe wonderlik is dit! Daar is nie ’n tussenganger tussen ons en die Here nodig nie!
Die Heilige Gees lei ons ook nog in ons gebede, leer Romeine 8. Nog meer, Hy suiwer ons gebede omdat ons nie reg weet wat ons moet bid nie. Hoeveel meer troos en bemoediging is dit om te bid!