Wees lief vir mekaar, want God wil dit hê

deur ds. Johan Nel
Liefde, seker die belangrikste woord in die Bybel. God se hele Wet kan mos in een woord saamgevat word – liefde! In Romeine 13:8 vra God van ons om mekaar lief te hê.
Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit.
Wat moet ons onder liefde verstaan?
Die oorspronklike Grieks het drie woorde vir drie soorte liefde. Filos – is gerig op familie en vriende. Hierdie liefde beteken “ek hou van jou, ek kuier graag by jou, ek doen graag dinge saam met jou soos braai, fliek, vakansie hou.” Eros – het te doen met uiterlike aantrekkingskrag. Hierdie liefde sê “jy is vir my mooi, ek wil aan jou raak.” Dit is die liefde wat maak dat ’n seun en dogter, of man en vrou begin uitgaan en trou en ’n fisiese verhouding met mekaar het. Agapé – het te doen met selfopoffering. Hierdie liefde sê “daar is so ’n sterk geestelike band tussen my en jou, dat ek enigiets vir jou sal doen wat die Here van my vra, al kos dit my ook baie opoffering.
In Romeine 13:9 word die derde woord agapé gebruik. Die liefde wat God hier van ons vra is liefde wat offer. Wanneer Paulus aan die Korintiërs skryf “nou bly geloof, hoop, liefde. Maar die grootste hiervan is die liefde” (1 Korintiërs 13:13), dan gebruik hy ook hierdie derde woord, agapé. Hierdie selfopofferende liefde is ons voor die Here aan mekaar verskuldig. Jy maak ’n belofte aan God hieroor.
Vir wie moet ons lief wees?
“Mekaar” is in die eerste plek die gelowige lidmate in Rome, maar dan ook die gelowige lidmate in elke plaaslike kerk. Die brief aan die Romeine is vir elke gemeente bedoel. Gelowiges is die “mekaar” wat die Here in Romeine 13:8 bedoel. Dit gaan nie oor ’n bloedband (jou gesin en familie), ’n geografiese band (jou bure), of ’n sosiale band nie. Dié opdrag gaan wel oor die band met God in Christus. Jesus Christus bind gelowiges aan mekaar. Die eerste gemeente wat vol van die Heilige Gees naby Christus geleef het, het ook naby mekaar geleef. In Handelinge 2:44-46 lees ons die mense wat in Christus geglo het, het begin om elke dag bymekaar te kom en het alles, hulle lewe, met mekaar gedeel. Die Here praat dus van liefde tussen lidmate in ’n gemeente.
Waarom vra God liefde en nie bloot bedagsaamheid en beleefdheid en vriendelikheid nie?
God bind ’n liefdesband deur sy enigste Seun van Hom af uit die hemel weg te stuur om mens op aarde te word. God het sy eie Seun opgeoffer om vir ons die kruisdood te sterf, sodat Hy ons weer by Hom kon hê as sy kinders. Jesus Christus het Hom aan ons met hierdie liefde gebind. Hierdie liefde is die band wat gelowiges aan mekaar bind. Elke gelowige waar ook al op aarde en wanneer ook al in die geskiedenis, is net op die een manier aan God gebind, deur Jesus Christus se liefde. Hierdie een selfopofferende liefde wat die een Jesus Christus vir elke gelowige het, bind gelowiges geestelik ook aan mekaar. Daarom wil God dat lidmate in ’n gemeente mekaar ook met selfopofferende liefde lief sal hê. Hierdie liefde is die verpligting wat gelowiges teenoor mekaar het.
Die liefde is so belangrik vir God dat sy hele Wet oor juis hierdie liefde gaan. Jesus self het ons geleer: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel, en met jou hele verstand. Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:37-39).
Wees lief vir God en vir Christus deur sy gebooie te gehoorsaam. Sy gebod, die groot gebod is liefde vir Hom en liefde vir jou medemens. In Romeine 13:8 gaan dit oor liefde vir jou medemens, in die eerste plek vir jou medegelowige saam met jou in die gemeente. God vra liefde vir mekaar en nie net vriendelikheid en beleefdheid en bedagsaamheid nie.
Hoe maak ons om prakties die liefde te wys?
Geeneen van ons het vanself hierdie selfopofferende liefde nie. Dié liefde kom van die Heilige Gees af. Hy gee dit aan ons om dit te gebruik. Gaan uit jou pad om ander lidmate in jou gemeente so goed te leer ken dat julle met mekaar oor God en julle geloof in Hom kan praat. Die opoffering wat die Here van julle wil hê is om uit julle pad te gaan om meer te leer van mekaar. Eers wanneer julle mekaar regtig goed ken, sal julle die opofferings vir mekaar kan maak, wat God vra.
Moenie vir ander wag om jou eerste lief te hê nie. Laat die liefde in jou gemeente by jou begin!
1 Response
[…] Wys liefde vir mekaar (Romeine 13:8) […]