3 redes waarom dit belangrik is om Hemelvaart te vier

Lees hier hoekom ons saam met die kerk regoor die wêreld die dag van Jesus Christus se Hemelvaart moet vier.

deur ds. Ruan Steyn

In Namibië is Hemelvaart jaarliks ’n belangrike Christelike feesdag wat regoor die land deur Christene gevier word. In Suid-Afrika is Hemelvaart nie meer ’n vakansiedag nie en word nie soos ander Christelike feesdae gevier nie.

Selfs Johannes Calvyn, die bekende kerkhervormer, het geglo dat dit nie nodig is om die Christelike feesdae te vier nie. Gelowiges behoort egter daagliks (veral op ’n Sondag) die lyding, kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus te herdenk en te vier. Calvyn en die ander kerkhervormers het geglo dat elke gelowige self kan besluit of hy of sy die Christelike feesdae wil vier.


Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?

Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 18, gee ’n antwoord op hierdie vraag. Eerstens bely ons in Sondag 18, vraag en antwoord 46, die volgende: “Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem en Hy is vir ons daar ten goede totdat Hy weer kom om oor die lewendes en die dooies te oordeel.”

Vraag en antwoord 49 gee vir ons ’n duideliker antwoord van hóékom dit belangrik is dat ons Hemelvaartsdag moet vier: Ons bely …

  • Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is.
  • Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ’n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem.
  • Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur, deur wie se krag ons soek wat daar bo is, waar Christus aan die regterhand van God sit, en nie wat op die aarde is nie.

3 Punte oor waarom Hemelvaart belangrik is

Hier sien ons drie punte oor waarom Hemelvaart belangrik is en tot groot nut vir gelowiges is.

1. Jesus is ons Voorspraak by die Vader

Johannes skryf hiervan in 1 Johannes 2:1 “ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader.” In die Ou Testament lees ons dat die hoëpriester die jaarlikse versoenoffer aan die Here gebring het deur die bloed van die offerlam op die verbondsark te sprinkel wat in die allerheiligste deel van die tempel gestaan het (Levitikus 16). Die hoëpriester kon net eenkeer ’n jaar in die allerheiligste ingaan.

Dit is wat Jesus gedoen het. Nadat Jesus aan die kruis gesterf het en die dood oorwin het, het Hy na God in die allerheiligste gegaan as ’n bewys dat die sondeskuld betaal is (Hebreërs 4:14). Jesus is dus ons Voorspraak by die Vader wat vir ons intree.

2. Jesus se hemelvaart is die waarborg vir gelowiges se hemelvaart.

Jesus het self die belofte aan sy dissipels gemaak: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:2-3). En, “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle ook by My moet wees …” (Johannes 17:24).

Jesus se hemelvaart hou ’n geweldige troos vir gelowiges in, want wanneer ons sterf, gaan ons ook by God in die hemel wees. Hy gaan met sy wederkoms al die gelowiges saam met Hom na die Vader neem (1 Tessalonisense 4:17).

3. Jesus stuur sy Gees as Waarborg na ons toe.

In Johannes 14:16,26 lees ons: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid … en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.”

Met Jesus se hemelvaart het Hy belowe dat Hy die mens nie alleen gaan laat nie (Matteus 28:20), en daarom het Hy sy Gees gestuur om by ons te wees. Alhoewel Jesus nie meer in sy menslike natuur by ons is nie, is Hy in sy Godheid, genade en Gees elke oomblik by ons.


Is dit regtig belangrik vir gelowiges om Hemelvaart te vier? Ja!

Ons vier Christus se oorwinning en sy koningskap (Matteus 28:16-20; Efesiërs 1:20-21); die feit dat ons Hoëpriester homself vir ons geoffer het en nou die Voorspraak by ons Vader is; die wete dat wanneer ons eendag gaan sterf, ons ook by die Vader gaan wees; die geweldige troos wat ons het aangesien die Heilige Gees elke oomblik by ons is. En dan natuurlik – ons vier dit nie alleen nie, maar saam met die Kerk regoor die wêreld.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui