Hoekom moes Jesus teruggaan hemel toe?

Jesus Christus is weg van die Vader in vernedering en is nou terug by die Vader in heerlikheid. Wat beteken dit? Hoekom moes Jesus hemel toe gaan?


deur ds Werner Brotherton

Baie van wat Christus kom doen het, het nie vir sy dissipels sin gemaak nie. Eers toe Petrus en Johannes die leë graf sien met die doeke wat netjies daar lê het hulle verstaan dat Christus moes opstaan soos wat die Ou Testament dit voorspel het. So het hulle ook nie Christus se Hemelvaart verstaan nie. Net na Christus opgevaar het na die hemel vra die engele aan die apostels waarom hulle so rondstaan. Hulle sal Christus sien terugkom soos Hy opgevaar het.

Hulle het dit nie verstaan nie en tog is dit met hulle gedeel. In die Evangelie lees ons dat vrouens wat by Christus se graf gekom het boodskappe na die apostels moes neem. Maria, wat Petrus en Johannes gaan roep het om te sê die graf is leeg, moes wel ’n ander boodskap vir hulle bring. Terwyl sy op soek is na Jesus se liggaam, en Jesus selfs as die tuinier aansien, noem Jesus haar naam. Skielik besef sy dit is Jesus wat hier voor haar staan.

Jesus sê toe vir haar: “Moet My nie vashou nie, want Ek het nog nie na die Vader toe opgevaar nie. Maar gaan na my broers toe en sê vir hulle: ‘Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God, wat ook julle God is.’ ”

Johannes 20:17

Jesus stuur Maria om iets heeltemal anders te gaan verkondig. Sy moet aan die apostels gaan deel dat Christus terugkeer na sy Vader en dat Maria nie aan hom moet raak nie. ’n Beter vertaling sou eerder wees om te sê dat Maria hom nie moet vaskleef nie. Sy kan Hom nie daar hou nie, omdat Hy nog na sy Vader moet gaan.


Jesus sê aan sy dissipels dat Hy na sy Vader moet teruggaan

Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.

Johannes 16:28

In Johannes 16:28 lees ons dat Jesus ook aan sy dissipels gesê het dat Hy na die Vader moet terugkeer. Wat beteken dit as Christus sê dat Hy moet terugkeer na sy Vader? Christus sê dat Hy by die Vader was. Dit is natuurlik voor Hy mens geword het. Hiermee leer ons van Christus se Goddelikheid. Christus as die Seun het dus van die Vader vertrek na die aarde toe. Steeds was Hy God, maar Hy het die menslike natuur aangeneem. En in hierdie mensheid was Hy nie meer by die Vader nie.

Ons moet dus verstaan dat die Seun die Vader verlaat het sodat Hy vir ons die Wysheid van God, ons geregtigheid, heiligheid en versoening kan word. Christus moes egter weer teruggaan na die Vader. Hy moes teruggaan om sy werk te voleindig. Hy moes teruggaan om vir ons in te tree by die Vader.


Jesus bid om herstel te word in sy heerlikheid

Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen. Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.

Johannes 17:4-5

Jesus moes weer herstel word in sy heerlikheid. Iets waarvoor Christus gebid het in Johannes 17:5. Hy bid dat die Vader Hom weer sal herstel in sy heerlikheid. Onthou, Christus is heilig, totaal en al sondeloos. Hy het neergedaal na die dieptes van die hel. Hy moes tussen die sonde kom bly, en nog meer – al ons sondes op Hom neem!

Dit was ’n totale vernedering — naak aan ’n kruis, in ’n graf! Al het Christus se heerlikheid geskitter aan die kruis waar Hy die Satan oorwin het, en Hy ten volle gehoorsaam was aan die Here se wil, het Hy steeds verlang om herstel te word in heerlikheid.

Christus verlang om verenig te word met die Vader. Weg van die sonde en die seer op die aarde. Vir die mense was Jesus net ’n gewone mens. In Johannes 17:5 leer ons dat Christus nie maar ’n “nuwe” God is nie, ook nie dat Hy net ’n tyd lank God is nie, maar dat Hy van ewigheid af God is. Nog voordat die wêreld was. Deur Hom is alle dinge tog geskape (Johannes 1).


In al sy heerlikheid het Christus teruggegaan na die Vader om te regeer tot in alle ewigheid saam met die Vader. Hy moes ook teruggaan sodat Hy sy Heilige Gees kon uitstort om ons te oortuig dat Christus nie net vir ander nie, maar ook vir my en jou kom sterf het, dat ons eendag gelykvormig kan word aan die heerlikheid van Christus.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui