Wat onderskei Nagmaal van Pasga?

Die belangrikste wat jy moet weet is dat nagmaal nié ’n Christelike weergawe van die Pasga is nie! Uit notas van ds. Maarten van Helden kyk ons na die verskille.

Paasfees vind op dieselfde tyd plaas wanneer die Jode die Pasga vier (Pesach in Hebreeus en Passover in Engels). Tydens dié fees herdenk die Jode die feit dat God die Israeliete van slawerny in Egipte bevry het.


In die boek Eksodus lees ons dat God die kinders van Israel gehelp het deur tien plae oor die Farao en die Egiptenare te stuur. Die tiende en laaste plaag was die dood van die eersgebore seuns. Waar die meeste van die ander plae (behalwe die eerste drie) nie die Israeliete en hul diere geraak het nie, kon hierdie plaag hul egter tref indien hul nie op God vertrou het nie. Die enigste beskerming wat die Israeliete gehad het, was om die bloed van ’n geslagte lammetjie aan die kosyne van hul deure te smeer. Wanneer die Engel van God dié bloed gesien het, het hy verby die huis beweeg en vandaar die naam van dié fees.

For the LORD will pass through the land to strike down the Egyptians. But when He sees the blood on the top and sides of the doorframe, the LORD will pass over your home. He will not permit his death angel to enter your house and strike you down,” Exodus 12:23.

Die Pasga is destyds ingestel met hierdie wonderbaarlike uittog uit Egipte. In Eksodus 12 lees ons ’n hele lys van vereistes vir die viering van die Pasga in Israel en ook wat sou gebeur as hulle dit nie doen nie. Pasga is elke jaar gevier as ’n herdenking van die genadige uitredding uit die land van slawerny. Die Joodse jaarkalender begin onder andere in hierdie maand.

Die Engel van die Here het daardie nag deur die land beweeg en elke gesin wat nie die beskerming van die bloed gehad het nie, het ’n eersgebore seun, en/of dier, aan die dood verloor. By gesinne wat deur die bloed van die lam beskerm is, het die Engel van die Here slegs verby beweeg (He passed over). Elke gesin in Egipte is getref en so is die Farao, wat ook as ’n god beskou is, deur die God van Israel getref (Eksodus 11:5).

God het deur die dood van die eersgeborenes van Egipte sy eersgeborene (die volk Israel – Eksodus 4:22) vrygekoop (Jeremia 31:9; Hosea 11:1). Hierna volg die wet van Moses waarin elke manlik eersgeborene van Israel (mens en dier) losgekoop moes word (Eksodus 13:14-16).

’n Gewone Pasga in Israel het ongeveer soos volg verloop:

VIER BEKERS het die rondte gedoen.

Die eerste beker word deur die huisvader geseën en sirkuleer saam met bitter kruie wat in asyn gedoop is. Dit dien as herinnering aan die bittere verdrukking in Egipte. Die jongste aan tafel vra: “Wat onderskei hierdie nag van ander nagte? (Manisjtana halajla haseh?) In antwoord vertel die pa dan die volle verhaal van die verdrukking in Egipte en die heerlike verlossing wat God bewerk het.

Die tweede beker volg saam met ongesuurde brood (matzoes) wat brekend aangestuur word. Dan word daar gesê: “Dit is die brood van ellende wat ons vaders in Egipte geëet het.” Hierna word die Paaslam (wat vooraf geslag en gebraai is) geëet. Die pa vertel terwyl daar geëet word die storie van die bloed van die offerlam wat hulle in Egipte aan die deurkosyne moes smeer om hulle van die dood te red.

Die derde beker is die “beker van danksegging” genoem. Tydens hierdie derde rondte breek die reddingsgedagte voluit deur. Dank word teenoor God uitgespreek vir al sy reddingsdade.
Daarna sing hulle van Psalms 113-118 (Die Hallel) en ook Psalm 136 in beurtsange met die refrein: “want sy goedertierenheid sal bestaan in ewigheid“.

Die vierde beker dien as afsluiting, die Lofsang word gesing en daarna het hulle die res van die dag gesellig bymekaar deurgebring.

Tydens die laaste Pasga in die bo-kamer in Jerusalem het Jesus kort voor die kruisiging die nagmaal ingestel. Hiermee verval die viering van die Pasga of Paasfees omdat Christus met sy kruisiging en dood die profesie van die offerlam vervul het.


Wat van die pasga is gehou?

Daar is net twee van die pasgamomente wat behoue gebly het nadat Jesus die nagmaal ingestel het:
Die brood wat ons breek en die beker van danksegging

In die oorgang van die Pasga na die nagmaal het die volgende dus weggeval:

  1. Die bitter kruie – want in Christus het die verdrukking verbygegaan en is daar net blydskap vir ware verlossing.
  2. Die gebraaide paaslam, want die Paaslam van God, Jesus self, sou die volgende oggend aan ’n kruis geslag word.
  3. Die afsluitingsbeker omdat daar geen einde is aan die feesvreugde wat Jesus Christus vir sy kinders gebring het nie. Matteus 26:29 verklaar die weglating van die Afsluiting: “Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”

Die Nagmaal is dus nie ’n Christelike weergawe van die Pasga nie!

In die Nagmaal vier ons die feit dat Christus die Paaslam is wat geslag is (1 Korintiërs 5:7): God het by ons verbygegaan in sy straf, omdat Christus in ons plek die straf gedra het. Die Pasga vind sy vervulling in die nagmaal!


Het jy geweet?
Die Oosters-Ortodokse Kerk vier nie Paasfees elke jaar op dieselfde naweek as ons nie, want hulle kalender verskil van ons s’n.


Het jy geweet?
Paassondag word altyd op die eerste Sondag na die eerste volmaan na of op die 21ste Maart gevier. Indien die eerste volmaan op ’n Sondag val, word Paassondag die eerste Sondag daarna gevier.

Verwerk uit nota’s van ds. Maarten van Helden.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui