Sion – waar God is, toe en nou

Leer hier meer oor Sion waarvan ons in die Bybel lees. Sion is belangrik van die Ou Testament, tot die Nuwe Testament, tot vir ons vandag.


deur ds Werner Brotherton

Psalm 48 is maar een van ’n paar Psalms waar ons van Sion sing. Ons kry die woord Sion meer as 150 keer in die Bybel! Wat is Sion? Dit is ’n berg in Jerusalem. Maar dis nie net enige berg nie – dit is die berg waar die Here sy tempel laat bou het. Dit is waar die Here besluit het om sy teenwoordigheid in die middel van sy volk in die Ou Testament te laat woon.

Waarom is Sion vir ons so belangrik?

Sion was aanvanklik die historiese stad wat Dawid van die Kanaäniete ingeneem het (2 Samuel 5:6-7). Dawid het die ark in sy nuwe hoofstad gaan vestig, en sy seun Salomo het daar ’n tempel laat bou.

Die Jode het geglo dat God op die berg Sion teenwoordig is (1 Konings 8). Daarom word Sion beskou as die plek van redding en uitkoms (Joël 2:32). Die Messias sou volgens die Joodse verwagting, daar tot redding van sy volk verskyn.

Daar word ook na Sion as die heilige berg of die berg van die Here verwys. Sion was vir die volk Israel hulle baken van hoop. Dit is waar hulle vrede was, want dit is waar die ark van die verbond was, in die tempel. Daar was die aardse troon van die Here.

Sion is ook belangrik vir ons

Die berg Sion is wel nie net vir die Ou Testamentiese gelowiges ’n baken van hoop nie, maar ook vir ons vandag! In Openbaring 14 lees ons weer van die berg Sion, maar met verwysing na die eindtyd wanneer Jesus Christus weer in, deur, op en met die wolke sal verskyn. In Openbaring 7 het die Here opdrag gegee dat al die uitverkorenes versamel moet word sodat die eindoordeel nie oor hulle uitgegiet word nie.

Die uitverkorenes, lees ons in Openbaring 14, versamel op die berg Sion. Daar op Sion is die gelowiges veilig in die bewaring van hulle Verlosser. Hulle is saam met die Lam, Jesus Christus, op die berg Sion. Daar beleef hulle op ’n besondere manier die teenwoordigheid en bewaring van die Here.

Die ewige Sion wag

Daarom leef ons as gelowiges met die verwagting en verlange van die ewige Sion wat wag. Ons kan wel iets van die ewige Sion reeds in hierdie lewe beleef, want die Here se teenwoordigheid is nie meer gebind aan ’n aardse Sion nie. Die Here is nou teenwoordig by ons, deur in ons te woon, deur Sy Gees.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui