Vernedering en verhoging op Olyfberg

Olyfberg, waar die tuin van Getsemané is, is ’n plek waar Jesus beide verneder en verhoog is. Lees meer daaroor hier, en hoe dit ons na Christus se wederkoms moet laat uitsien.

deur ds Dirk Meijer

Aan die oostekant van die stad Jerusalem loop ’n klein bergreeks wat die naam Olyfberg ontvang het. Hierdie berg is so genoem weens die groot aantal olyfbome wat teen die hange daarvan geplant is, waarvan die olywe geoes en uitgepers is om onder andere olyfolie van te maak. Die bekende “tuin van Getsemané” is teen die voet van dié berg geleë, en is ook so genoem omdat die woord “Getsamané” letterlik “oliepers” beteken.

Die Olyfberg word dikwels in die Bybel vermeld weens belangrike dinge wat daar gebeur het. Wanneer ons dit alles bymekaarbring kan ons sien hoe die Olyfberg vir ons wys op die diep vernedering, maar ook die heerlike verhoging, van ons Here Jesus Christus.

Vernedering op Olyfberg

Reeds in die Ou Testament word ons gewys op diep vernedering wat plaasgevind het op die Olyfberg. In 2 Samuel 15:30 lees ons byvoorbeeld van koning Dawid wat al huilende tot op die bo-kant van die Olyfberg geklim het omdat hy vir sy lewe moes vlug van sy seun Absalom. In die Ou Testament rys die Olyfberg uit die vlaktes op om ons te vertel van die gruwels en gevolge van sonde.

Nogtans, die hartseer van die Ou Testament gryp vooruit na nog veel groter hartseer in die Nuwe Testament soos ons dit sien in die lewe van ons Here Jesus Christus. Jesus het die Olyfberg dikwels besoek, ook as ’n plek van stilte weg van al die baie mense in Jerusalem (Lukas 21:37; 22:39). Tussen al die baie kere dat Christus op die Olyfberg was, is daar veral drie geleenthede wat besonderse vermelding ontvang om ons te wys op sy diep vernedering ter wille van ons sondes.

Jesus se vernedering ter wille van ons

1. Die eerste is ’n week voor Christus se kruisiging toe Hy van die Olyfberg af op die rug van ’n donkie in Jerusalem ingery het met ’n skare wat Hom toejuig (Lukas 19:29-44). Tussendeur die skare se vreugdevolle gejuig, hoor ons egter van Christus se trane. Hy huil oor die toestand en die toekoms van Jerusalem (vers 41-44).

2. Die tweede besonderse vermelding is wanneer Christus in die week voor sy kruisiging sy dissipels op die Olyfberg onderrig oor die toekoms van Jerusalem (Matteus 24-25). Hierdie toespraak van Christus staan bekend as sy profetiese rede waarin ’n swaar oordeel oor Jerusalem aangekondig word. Ook dít druk vir ons die hartseer gevolge van sonde uit.

3. ’n Derde keer in dieselfde week vind ons vir Christus op die Olyfberg. Dit is die aand van sy kruisiging. Nadat Jesus in Jerusalem saam met sy dissipels Pasga gevier het, en die eerste Nagmaal ingestel het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg (Matteus 26:30). Daar, in die tuin van Getsemané, het Christus geweldig angstig geword. Hy het gebid tot sy Vader vir hulp. Daar is Hy uiteindelik gevang om veroordeel te word tot die dood aan die kruis.

Dit is nie net olyfolie wat uit die olyfperse gevloei het op die Olyfberg nie. Veel benouender het die trane van ons Here Jesus Christus gevloei oor die diep vernedering wat Hy ter wille van ons sondes moes deurgaan.


Verhoging op Olyfberg

Die pad van ons Here Jesus Christus stop egter nooit by vernedering nie. Daarom ook nie die geskiedenis en gebeure op die Olyfberg nie. Na Christus se kruisdood, begrafnis en opstanding vind ons Hom en sy dissipels nogmaals op die Olyfberg (Handelinge 1). Dié keer nie in ’n staat van vernedering nie, maar in alle heerlikheid soos wat Hy van die Olyfberg af opvaar na die hemel.

Teenoor Dawid wat al huilende die Olyfberg opgeklim het, en soveel anders as toe Christus wenende gebid het die aand van sy kruisiging, vind ons nou vir Christus as triomfantelike Koning wat sy hemeltroon bestyg. Hy is die almagtige Koning wat vanaf die regterhand van sy Vader sy kerk vergader, regeer en beskerm. Sy hemelvaart vanaf die Olyfberg moet ons daaraan herinner.

Kyk na Olyfberg, kyk na die toekoms

Dit moet ons egter nie net herinner nie. Dit moet ons ook laat kyk na die toekoms. Daar, op die Olyfberg, was twee engele wat die dissipels moes oproep: “waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien opvaar het” (Handelinge 1:11). Die Olyfberg laat ons met ’n intense verlange uitsien na die wederkoms van Christus!

Wanneer ons voor die Olyfberg te staan kom, word ons herinner aan die diep vernedering wat Christus vir ons sondes deurgegaan het. Ons word opgeroep om te besef dat Hy verhoog is as Koning van alle konings. Ons word gedring om vooruit te kyk na sy wederkoms wanneer Hy alle dinge sal voltrek.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui