Moenie dat bitterheid jou verlam nie!

Nie net het ons die opdrag om te vergewe nie, maar om nie te vergewe nie kan tot bitterheid lei. Leer uit die verhaal van Naomi meer oor bitterheid en hoe om dit te voorkom.


deur ds. Jan-Louis Lee

In Rut 1 lees ons van ’n interessante gesin: Elimeleg met sy seuns en vrou, Naomi – wat in Moab ’n tuiste gaan vind. Dit is ’n bekende verhaal; eindelik keer Naomi en haar skoondogter sonder ’n enkele sent terug na Betlehem.

Dan lees ons in Rut 1:20-21 iets baie opvallend:

Toe antwoord sy hulle: Noem my nie Naómi nie: noem my Mara, want die Almagtige het my baie bitterheid aangedoen. Vol het ek weggetrek, maar leeg het die Here my laat terugkom. Waarom sou julle my Naómi noem, terwyl die Here teen my getuig het, en die Almagtige my kwaad aangedoen het?

Die omstandighede waarin Naomi (wat “die lieflike”) beteken, haar nou bevind, maak haar bitter – selfs so bitter dat sy haarself aanmatig om ’n sylangse beskuldiging na God – die Almagtige – te slinger. God het, volgens Naomi, teen haar gedraai.


Die kern van die woord bitter
Die woord ‘bitterheid’ of ‘bitter’ word meermale in die Skrif gebruik, in die sin van ’n slegte ervaring, ’n teleurstelling of hartseer en angs. Daar word ook soms verwys na ’n gevoel van desperaatheid en intense benoudheid wat in ons taal tot uitdrukking kom as ’n figuurlike verwysing na ’n bitter smaak in die mond. Sommige woordeboeke verbind hierdie woord ook aan die woord ‘giftig’ – ’n dodelike stof wat die dood veroorsaak.


Die bitterheid in Naomi

Naomi in Rut 1 word deur bitterheid verteer, selfs lamgelê, sodat, wanneer sy terugkeer na Betlehem sy nie meer die lieflike is nie; maar as ’t ware ’n identiteitsverandering ondergaan het, en nou ’n bitter, kwaai, ou vrou is.

  • Bitterheid het haar hart so in beslag geneem dat sy alles negatief rondom haar ervaar;
  • Sy voel sy is die teiken van God se oordeel;
  • Sy sit vasgevang in die tonnelvisie van slagoffermentaliteit en sy kan nie daaruit beweeg nie.

En hoewel Naomi se lewenslot ’n self-toegediende wond is, omdat sy in ongeloof en ongehoorsaamheid na Moab toe vertrek het; leer hierdie gebeure ons iets kragtig oor die manier waarop bitterheid ons harte lamlê en ons gedagtes in beslag neem. 


Bitterheid is verlammend

  • Bitterheid lê jou lam want dit veroorsaak ’n tipe tonnelvisie waar jou lewe deur ’n enkele saak of voorval geabsorbeer word.
  • Verbittering maak jou benoud en beangs, omdat jy tob oor dinge waaroor jy geen beheer het nie.
  • Dit is ’n onwelkome besoeker wat jou gedagtes vashou en enige ander positiewe denke onmoontlik maak.
  • Dit laat baie in ’n slagoffer-mentaliteit vasgevang sit.
  • Dit hol jou van binne-af uit.

Kortom: Bitterheid is soos ’n gif wat jou stadig doodmaak.


Alles wat kan lei tot bitterheid

Nou weet ons dat daar soms groot dinge met mense in hierdie wêreld gebeur. Groot onreg, groot hartseer, groot pyn. Dikwels word dit vanuit ’n hoek na jou kant toe geslinger wat jy nie verwag het nie – soos wanneer ’n vriend of geliefde jou teleurstel of leed aandoen.   

En wanneer daardie onenigheid ontstaan, dan voel dit soos ’n brug wat verbrand is, vertroue wat geskend is en jy sukkel om met die verhouding aan te gaan.

Ander kere is daar dinge wat met ons gebeur vanuit ’n ongekende hoek: ’n Dronk bestuurder veroorsaak die dood van geliefdes, ’n plaasmoord neem die lewe van familie, ’n swendelaar steel jou hardverdiende geld.

In beide gevalle staan ’n mens geskok oor wat een mens aan ’n ander kan doen, maak dit jou ontsettend hartseer – en wat baie dikwels gebeur is dat mense sukkel om te vergewe. 

Nog meer: baie mense – ja, baie gelowiges – sit in ’n spiraal van skok, hartseer, woede, en eindelik: bitterheid.
’n Bitterheid wat maak dat hulle weier om te vergewe.

Maar nou is dit so verskriklik hartseer om te moet raaksien dat hierdie bitterheid absoluut geen effek het op die teiken daarvan nie. Hulle bly – kosteloos – in jou gedagtes en dit hol jou stukkie vir stukkie uit.


Vergifnis is ’n nie-opsionele opdrag

Ons Here Jesus gee ’n opdrag wat ons nie kan ontwyk of miskyk nie: Ons moet mekaar vergewe. In Matteus 18:21 en verder leer Jesus uitvoerig oor die genade van vergifnis; dat ’n mens eintlik nie moet boekhou van die kere wat vergifnis aan ’n spesifieke persoon bedien is nie; en dat ons in lankmoedigheid, met groot barmhartigheid mekaar in liefde moet vergewe.

Die gelykenis van die dienskneg wat kwytgeskeld is deur die koning, maar self nie dié wat hom iets verskuldig was, kwytgeskeld het nie – herinner ons baie treffend aan ons eie vergifnis: Christus se offer het ons met hom kom versoen. Hy het werklik die diepste en ernstigste skuld afgeskryf wat afgeskryf kon word: God se majesteit is kwaad aangedoen; Hy het vergewe – onvoorwaardelik.

Daarom bid ons: “en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree …” (Matteus 6:12).


Vergifnis is ’n proses

En juis hiérin lê die verhouding tussen bitterheid en vergifnis. Ons besef maar al te goed, as gebroke erdekruike dat ons vanuit eie krag nooit sal kan vergewe nie. Dit is ’n proses: om elke dag in gebed vir God te vra dat Hy my só sal help dat ek dit kan doen, wat vir my onmoontlik voel om te doen. En vandag doen ek dit beter as gister.

Maar meer nog: vergifnis veronderstel nie dat ons weer boesemvriende is, dat ons nou weer aangaan asof niks gebeur het nie. Dit beteken wel dat ek my gewaande reg tot vergelding prysgee en dit oorlaat aan die Here, wat ons harte en sinne ken (Psalm 139). Soms beteken dit om te vergewe – selfs al is daar nie gevra om vergifnis nie, selfs al ontken daardie persoon dat hy of sy jou te na gekom het. 

Dit beteken dat ek ook my hart bewaar, soos die Spreukedigter ons leer in Spreuke 4:23-24:

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie.

Iemand het per geleentheid gesê om nie te vergewe nie, is soos om gif te drink en te wag dat ’n ander persoon doodgaan. Bitterheid is ’n gif wat my hele wese deurspoel, my vreugde wegneem en my vaardigheid as instrument in die Here se koninkryk heeltemal vernietig. Dit is ’n angel wat nooit uitgehaal word nie, ’n stok in die speke.

Deur te vergewe en die houvas van bitterheid op jou lewe prys te gee, ontsluit jy weer jou hart om die genade van Christus raak te sien, want dit is in tonnemaat aan jou bedien. Mag die Here jou help om te vergewe.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui