Wat is Christelike dissipelskap?
In hierdie artikel kyk Kruispad-tydskrif na wat ’n dissipel en ’n apostel is, en of alle Christene dissipels is. Lees hier meer.
deur Peet van der Westhuizen
In die evangelies lees ons dat die Here Jesus baie dissipels gehad het. Ons lees ook in besonder van die 12 dissipels wat deur die Here Jesus self geroep is om Hom te volg. Later lees ons ook van die apostels, in Handelinge en verder deur die Nuwe Testament. Ons hoor ook baie kere dat daar gesê word ons moet dissipels van Jesus wees.
Maar nou moet ons die volgende vrae vra: Weet ons werklik wat ’n dissipel is? Is daar ’n verskil tussen ’n dissipel en ’n apostel? Beteken om ’n Christen te wees dat jy ’n dissipel is? In hierdie artikel gaan ons die bostaande vrae meer in diepte bespreek.
Wat is ’n dissipel?
Die woord wat ons in Afrikaans met dissipel vertaal, het ten diepste die betekenis van leerling of volgeling. Die woord dissipel verwys dus na iemand wat die leerling of volgeling van iemand anders is.
In die Nuwe Testament lees ons dat Jesus dissipels geroep het om Hom te volg. Terwyl hulle Hom nagevolg het, het hy hulle ook geleer Wie Hy is en Wie God is en wat God van gelowiges eis.
Om ’n dissipel van Jesus te wees is dus om Hom na te volg en by Hom te leer. Met ander woorde om ’n lewe te leef waardeur Hy geëer word en waarin jy doen wat Hy deur sy Woord van jou vra.
Wat is die verskil tussen ’n dissipel en ’n apostel?
Noudat ons beter weet wat ’n dissipel is, kan ons kyk na die woord apostel. Is daar dan ’n verskil tussen ’n dissipel en ’n apostel?. Die Griekse woord wat ons met apostel vertaal beteken boodskapper, gestuurde. Met ander woorde, iemand wat gestuur is om ’n spesifieke boodskap te verkondig.
Wanneer daar in die Nuwe Testament van apostels gepraat word, word daar slegs na die 12 dissipels, wat die binnekring van Jesus se dissipels uitgemaak het en self deur Hom geroep is. Die apostels was dus mense wat Jesus nagevolg het tydens sy lewe op aarde en by Hom geleer het, en na sy Hemelvaart uitgestuur is om die evangelie te gaan verkondig.
Daar is egter uitsonderings, want later, na Judas Iskariot se dood is Mattias in sy plek as apostel gekies (Handelinge 1:25-26). Verder is Paulus, na Jesus se Hemelvaart, deur Jesus op die pad na Damaskus geroep om Hom na te volg en die boodskap van die evangelie te gaan verkondig:
Hy het gevra: ‘Wie is U, Here?’ En Hy antwoord: ‘Ek is Jesus, wat jy vervolg. Maar staan op en gaan na die stad, en daar sal vir jou gesê word wat jy moet doen.’
Handelinge 9:5-6
So kry ons vandag nie meer apostels nie, aangesien die apostels ’n baie spesifieke groep mense was.
Is alle Christene dissipels?
Maar nou bly die vraag of alle Christene dissipels is? Die antwoord is ja. Alle Christene is dissipels van Jesus. Die Here Jesus het verder ook aan die gelowiges in Matteus 28:19 opdrag gegee om dissipels van al die nasies te maak.
Om ’n gelowige te wees beteken om Jesus na te volg en gevolglik ook om ’n dissipel of ’n volgeling van Hom te wees. Maar om ’n dissipel van Jesus te wees, beteken ook dat ons oor Hom moet getuig. Ons moet ander mense van Hom vertel, van Wie Hy is en wat Hy vir ons gedoen het. Ons moet hulle leer Wie Hy is en wat dit beteken om Hom na te volg.