Mattias, die nuwe twaalfde dissipel

Hoekom was dit nodig om ’n dissipel in Judas se plek te kry? Lees hier meer oor hoekom Judas vervang is en wat ons van Mattias weet.
deur Philip Wepener
Lees Handelinge 1:12-26
Net voor Jesus se hemelvaart gee Hy aan die dissipels opdrag om in Jerusalem te wag vir die Heilige Gees wat hulle binne enkele dae sou ontvang (Handelinge 1:4-5). In hierdie dae het daar ’n groot vergadering gebeur, waarvan Petrus die leiding geneem het. Die taak van dié vergadering was om Judas Iskariot, die dissipel wat Jesus verraai het en homself opgehang het (Matteus 27:5), met ’n nuwe dissipel te vervang.
Hoekom was dit nodig om Judas Iskariot met ‘n nuwe dissipel te vervang?
- Toe Jesus sy openbare bediening begin het, het Hy oorspronklik twaalf manne gekies om Hom vir drie jaar te volg (Lukas 6:12-16). Judas het egter Jesus verraai en homself opgehang, daarom moes die oorblywende elf dissipels ’n twaalfde man kies om sy plek in te neem.
- Jesus het twaalf dissipels (apostels) gekies om die twaalf stamme van Israel te verteenwoordig (Lukas 22:28-30).
- “Die Skrifwoord wat die Heilige Gees uitgespreek het, moes vervul word” (Handelinge 1:16). Petrus haal twee Psalmverse aan en gebruik dit as Skrifgronde oor hoekom Judas se amp vervang moes word (Psalm 69:26; 109:8). Soos koning Dawid, die skrywer van dié twee Psalms, verraai is en begeer het dat iemand anders sy verraaier se amp vervul, so ook is dit op die Here Jesus van toepassing.
Aan watter kwalifikasies moes die nuwe dissipel voldoen?
Nie enige iemand kon as ’n nuwe dissipel gekies word nie. Volgens Petrus moes die nuwe dissipel aan die volgende vereistes voldoen (Handelinge 1:21-22):
- Die dissipel moes ’n ooggetuie van die Here Jesus self wees. Hy moes die Here self fisies gesien en gehoor het (sien ook 1 Johannes 1:1).
- Hy moes ’n ooggetuie gewees het gedurende die hele drie jaar wat Jesus onder die twaalf dissipels geleer en gedoen het (sy prediking, genesings en wonderwerke).
- Die dissipel moes ook ’n ooggetuie van Jesus se doop, sy kruisiging en opstanding wees (sien ook Handelinge 10:38-41).
Wie was die nuwe dissipel wat aan hierdie kwalifikasies voldoen het?
Die vergadering het twee name genomineer: “Josef, bekend as Barsabbas, wat ook Justus genoem is, en Mattias,” (Handelinge 1:23). Nêrens in die vier Evangelies word iets oor twee manne genoem nie, maar vanuit Lukas 10:1 was daar 72 ander dissipels wat Jesus na elke dorp en plek gestuur het. Dit is moontlik dat Josef en Mattias deel van hierdie groep dissipels was, maar dit bly onseker.
U, Here, wat almal se harte ken, wys U uit hierdie twee die een aan wat U gekies het …
Handelinge 1:24-25
Die vergadering het tot God gebid en gesmeek om uit te wys wie die een is wat Hy in Judas se plek wil kies. Om God se wil te bepaal het die vergadering gebruik gemaak van ’n metode wat destyds algemeen was (Spreuke 16:33). Nadat hulle gebid het, het hulle geloot (dobbelstene gegooi of lootjies getrek) en die lot het op Mattias geval. Mattias het die nuwe twaalfde dissipel geword.
Wat weet ons van die nuwe dissipel, Mattias?
Mattias se dissipelskap is onbekend, maar die feit dat God hom uitgekies het wys dat hy ’n getroue dissipel van Jesus was en dat hy aan die kwalfikasies van ’n apostel voldoen het. Nêrens in die Bybel lees ons weer van Mattias nie, maar ons moenie minderwaardig van hom dink of aflei dat hy ’n mislukking was nie.
Wat leer ons uit hierdie gedeelte?
Handelinge 1:12-26 beskryf vir ons dat die Here Jesus nie die amp van dissipel vakant wou gelaat het nie, maar dat die twaalf voltallig moes uitgaan waarvoor Hy hulle gestuur het: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies …” (Matteus 28:19a).
Hierdie gedeelte moedig die kerk aan om nie haar gebede na te laat nie. Gebed moet ’n ware merkteken van die kerk wees. Die kerk moet aanhou bid en op God vertrou dat Hy sy wil bekend maak, veral aangesien dissipels só nodig is.
Is jy gehoorsaam aan die opdrag van Matteus 28:19? Ons moet nooit dié opdrag vergeet om nog dissipels te maak nie. Bid tot God, wat ons harte ken, dat Hy vir ons dissipels sal uitwys.