Vyf riglyne om geestelik fiks te bly

In Hebreërs 12 se eerste verse kry ons vyf riglyne om ons te help om daagliks in ons geloof te volhard.

Deur ds. Maarten van Helden

Die doel van die brief Hebreërs is om gelowiges aan te moedig om in die geloof te volhard. In Hebreërs 12 word ons geloofslewe met ’n wedloop vergelyk. Maar jy moenie daaraan dink as ’n resies om te sien wie eerste kom nie! Dis eerder ’n marathon of hinderniswedloop, waarin die uithouvermoëns van die atlete tot die uiterste beproef word. Die toets is nie om te sien wie wen nie, maar of jy die wedloop kan voltooi. Daarvoor het jy volharding nodig.


Kyk na die volgende 5 riglyne wat Hebreërs 12:1-2 gee om jou te help dat jy nie “geestelik moeg word en uitsak nie” (Hebreërs 12:3).

1. Sien die skare om jou raak

Terwyl ons dan so groot skare geloofsgetuies rondom ons het …” (Hebreërs 12:1).

Ons moet nooit vergeet van die gelowiges wat ons vooruitgegaan het en onder druk volhard het nie. Dink aan die kerkgeskiedenis wat vertel van Christene wat onder druk en vervolging getrou gebly het en oorwin het. Dink aan jou eie voorgangers in die geskiedenis van jou voorgeslagte, jou ouers en grootouers. Almal die bewyse daarvan dat God getrou is aan sy verbond. Hulle almal is die skare op die paviljoen wat jou aanmoedig.
Hierdie vers verwys veral na die vorige hoofstuk (Hebreërs 11) met die voorbeelde van gelowiges soos Abel, Noag en Abraham, wat deur volharding die geloofwedloop voltooi het. As jy mooi gaan kyk na die name sal jy sien dit is nie volmaakte mense nie, maar gewone sondaars soos ons wat deur die genade van God die wenpaal gehaal het.
Die belangrikste wat jy hier moet raaksien is dat jy nie alleen is nie. Jy mag ook nie deelneem asof jy alleen is nie. Jy het medegelowiges wat saam met jou hardloop. Sien mekaar raak, en herinner mekaar aan die genade van God. Besoek mekaar, vertroos mekaar, bid vir mekaar, vermaan mekaar, vergewe mekaar en dien mekaar en doen mee aan die aktiwiteite van die gemeente.


2. Gooi elke las af

“… laat ons elke las van ons afgooi,” (Hebreërs 12:1).

’n Atleet kan nie maklik volhard as hy allerlei dinge onnodig saamdra nie. Die kleredrag van ’n atleet is immers so min as moontlik!
Te veel gelowiges dra hulle byna dood aan geestelike bagasie. Dit veroorsaak onnodig geestelike moegheid. Ons dra ons dood aan laste soos fobies en vrese, sielkundige probleme, selfverwyte, wraakgedagtes, minderwaardigheid, hoogmoed, depressie en selfs siektes waaraan ons nie aandag gee nie. Jy moet aandag gee aan jou geestesgesondheid.
Gaan met jou bekommernisse na die Here toe en vervang dit met vertroue op God. Laat jou deur die Woord van God lei om jou laste af te gooi.
Vergewe en verdra mekaar, en help mekaar met ’n opbouende gees van geloof.
Christus het gely en weet wat swaarkry is, maar Hy kyk vorentoe en deur sy volharding het Hy die wenpaal bereik. So ook die skare wat ons reeds vooruit gegaan het. 


3. Gooi die sonde af

“… ook die sonde wat ons so maklik verstrik,” (Hebreërs 12:1).

As jy dan van jou laste wat jou terughou ontslae raak, moet jy veral van die sonde ontslae raak. Ons leef in ’n wêreld vol versoekings en is gebore sondaars. Stry teen die sonde deur te glo dat jy daarmee kan ophou! Moenie agter die verskoning wegkruip dat jy maar net ’n mens is nie. Dan het jy klaar begin verloor.
Jesus Christus het ons van die mag van die sonde bevry. Stry teen die sondes deur jou eie sondes te identifiseer en voor God te bely.
In die plek van sondige gewoontes moet jy iets stel wat jou gedagtes op God rig. Vra jouself gedurig af wat vir God goed en reg en aanneemlik is. Ophou met sonde beteken dat jy al minder sonde doen. Bekering is daagliks nodig. Vra die Gees om jou te verander en jou denke te vernuwe.


4. Hou vas!

“… laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop …” (Hebreërs 12:2)

Jy moet uithou en aanhou en aan jou Christelike beginsels vashou. Hou aan om in ’n verhouding met Christus te lewe. Moenie verwag dat die lewe maanskyn en rose is nie, dit ís ’n stryd teen verval en sonde en gebreke.
Gebruik elke goeie dag om jouself voor te berei om swaarkry te kan hanteer. Die wedloop is jou hele lewe lank. Dit beteken dat jy die beste gebruik van die goeie tye moet maak om jou innerlike kragte te versterk. Sorg vir jou geestelike fiksheid.
Hou aan lees uit jou Bybel – die Woord is die lamp wat jou die pad wys. Herinner jouself gedurig aan al die beloftes van die Woord. Moenie toelaat dat die teleurstellings van die lewe jou moed breek nie. Moenie uit selfbejammering moed opgee nie. Hou aan, volhard, doen jou bes en weet dat God sy Heilige Gees aan jou gegee het, om by jou te wees en jou langs hierdie pad te bemoedig en te vertroos. Ons kan deur die krag van die Heilige Gees met volharding hardloop.


5. Fokus op die wenpaal

“ … die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Hebreërs 12:2).

Fokus op die wenstreep, die ewige lewe, waar Jesus Christus staan. In terme van die wedloop is Hy ons afrigter, wat self ook die wedloop gehardloop én voltooi het. Hy het eerste gehardloop en eerste klaar gemaak! Volg in Jesus se spore en hou by die pad wat Hy gebaan het – deur sy dood aan die kruis.
Fokus daagliks so op Christus dat jy meer en meer vir die wêreld dood is en vir Christus lewe. Hy gee jou die wenresep. Deur sy voorbeeld in oog te hou, kry jy daagliks nuwe moed. Hy sal jou die krag gee om tot die einde te volhard. Hou vas aan die belofte wat Jesus in Matteus 24:13 gee: “Maar wie tot die einde volhard, sal gered word.”

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui