Hoe bly jy getrou wanneer jy nie verstaan nie?

Hoe bly jy getrou aan God wanneer jy nie verstaan wat God se plan vir jou is nie? Habakuk leer ons om te wag, te vertrou en aan God vas te hou.

deur ds Ruan Steyn


Hoe bly ’n mens getrou aan die Here wanneer dit moeilik is om sy werke te verstaan?

Dit is een van die redes waarom die boek Habakuk so aangrypend is. Die profeet steek nie weg hoe moeilik dit vir hom is om God se optrede te verstaan nie. Hy het nie kitsoplossings of maklike antwoorde nie. Hy kyk na ’n wêreld waarin dit lyk asof goddeloosheid seëvier, terwyl God stilbly.

Tog eindig Habakuk nie waar hy begin het nie. Sy omstandighede verander nie noodwendig nie, maar sy houding teenoor God verander. Hy beweeg van vrae en klagtes na wag, vertroue en uiteindelik lofprysing.

Habakuk bring sy vrae na God toe

In hoofstuk 1 word Habakuk met ’n moeilike vraag gekonfronteer: Hoe kan ’n goeie en regverdige God toelaat dat onreg en boosheid voortduur?

Hy roep tot die Here om hulp, maar dit voel vir hom asof God swyg en nie luister nie.

Wanneer God wel antwoord, is die antwoord egter nie wat Habakuk verwag het nie. God gaan die wrede Galdeërs gebruik om sy eie goddelose volk te tugtig.

Dit laat Habakuk met nóg groter vrae. Hoe kan ’n heilige en getroue God ’n nasie gebruik wat self so goddeloos is om sy volk te straf?

Habakuk doen iets belangrik: hy vlug nie van God af nie, maar vlug na God toe met sy vrae.

Hy bring sy worsteling en verwyte direk na die Here. Selfs wanneer die omstandighede nie sin maak nie, bely hy dat God sy ewige Rots is (1:12). Habakuk verstaan nie alles wat God doen nie, maar hy weet Wie God is.

Dit is ’n belangrike deel van getrouheid: ons hoef nie alles te verstaan om aan God vas te hou nie.

Hy kies om te wag

Nadat Habakuk sy hart voor die Here uitgestort het, neem hy ’n belangrike besluit:

Ek wil op my wagtoring gaan staan …

Habakuk 2:1

Habakuk besluit om te wag op God se antwoord.

Om op die Here te wag, beteken nie dat jy passief is of ophou om te glo nie. Dit beteken dat jy jou vertroue in God plaas terwyl jy nog nie weet wat Hy gaan doen nie.

God antwoord Habakuk weer in hoofstuk 2. Die antwoord wat hy moet neerskryf en verkondig, bevat hierdie bekende woorde:

Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.

Habakuk 2:4

Die Here trek hier ’n duidelike onderskeid tussen die hoogmoedige mens wat op homself vertrou en die regverdige wat deur geloof aan God vashou.

Die regverdige weet nie noodwendig hoe alles gaan uitwerk nie. Hy weet wel Wie God is en dat God se beloftes betroubaar is.


Dit is waar volharding en getrouheid bymekaar kom. Volharding beteken nie dat ons altyd die antwoorde kry wat ons wil hê nie. Dit beteken dat ons aan God bly vashou wanneer ons nog wag vir die antwoorde.


Van vrae na lofprysing

In hoofstuk 3 verander die toon van Habakuk se woorde. Hy beweeg van debat na gebed en lofprysing.

Hy herinner hom aan God se magtige verlossingsdade in die geskiedenis. Hy kyk terug na wie God is en wat God reeds gedoen het. Dit gee hom die moed om God te vertrou vir dit wat nog voorlê.

Dan kom een van die mooiste geloofsbelydenisse in die Ou Testament:

Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie … nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.

Habakuk 3:17-18

Habakuk weet dat alles kan verander. Die oeste kan misluk. Die ekonomie kan in duie stort. Die volk kan deur ’n tyd van oordeel en swaarkry gaan.

Maar daar is iets wat nie verander nie: God self.

Daarom sê Habakuk nie: “Ek sal juig omdat alles uiteindelik goed sal gaan” nie. Hy sê: “Ek sal juig in die Here.”

Sy vreugde is nie meer afhanklik van sy omstandighede nie. Dit is gewortel in die Here, sy Redder.

Wat leer Habakuk ons oor getrouheid?

Habakuk gee vir ons ’n pragtige beeld van wat dit beteken om getrou te bly wanneer ons God nie verstaan nie.

1. Geloof hang nie van voorspoed af nie.

Habakuk beskryf ’n situasie waarin daar geen oes, geen druiwe en geen vee is nie. Dit beteken ’n totale ekonomiese ramp. Tog bly sy vertroue in die Here staan. Ons geloof kan nie uiteindelik gebou wees op die vraag of alles met ons goed gaan nie. Ons vertrou God omdat Hy God is.

2. Ons vreugde lê in die Gewer, nie net in sy gawes nie.

Habakuk jubel nie oor die oes wat hy het nie. Hy jubel in die Here, sy Redder. Wanneer die gawes waarvan ons afhanklik geraak het, verdwyn, bly die Gewer steeds daar.

3. God gee krag vir die volgende tree.

Habakuk eindig met die belydenis dat God sy krag is en sy voete soos dié van ’n ribbok maak, sodat hy op hoë plekke kan loop (3:19).

God belowe nie noodwendig dat Hy Habakuk van elke moeilike situasie sal weghou nie. Hy belowe wel sy teenwoordigheid en gee hom die krag om verder te gaan.

Dit is ware volharding. Getrou, selfs wanneer jy nie verstaan nie

Habakuk leer ons dat volharding nie beteken dat ons altyd antwoorde kry wat vir ons sin maak nie.

Dit beteken dat ons, wanneer ons worstel, steeds na die Here toe gaan. Ons kan ons vrae en ons onsekerheid voor Hom bring. Ons kan wag wanneer ons nog nie verstaan nie. En ons kan uiteindelik sê: “Nogtans sal ek in die Here jubel.”

4. Ons hoef nie die hele pad vooruit te kan sien om getrou te bly vir die volgende tree nie.

Ons weet dalk nie wat môre gaan bring nie. Ons verstaan dalk nie waarom God sekere dinge toelaat nie. Maar ons weet Wie ons God is.

Wanneer ons Hom nie verstaan nie, kan ons steeds op Hom vertrou. Wanneer ons swak is, bly Hy getrou. En daarom kan ons aan Hom bly vashou, omdat Hy ons vashou.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui