Ons koning is regverdig en nederig
In Sagaria 9 lees ons dat Jesus op ’n donkie gaan ry en sien dit dan in Johannes 12. Lees hier hoe die donkie wys op vrede en nederigheid, en Jesus se wonderbaarlikheid.
deur ds Werner Brotherton

As jy vir jou ’n koning kon kies om oor jou te regeer, hoe sou hy lyk? As mense wil ons graag ’n sekere tipe koning hê. Ons wil ’n koning hê wat sterk en beslissend is. Hy moet militêr baie sterk en strategies goed wees.
Dit is ook die tipe koning wat Israel wou hê en daarom praat die Here deur Sagaria met die volk. Hy kom leer hulle watter tipe Koning hulle moet verwag. Sagaria profeteer wonderlike dinge oor die karakter van die komende Koning! Hy is Regverdig, nederig en verlossend. Hy kom die wil van God volkome na as getroue verbondshouer voleinder.
Al hierdie profesieë was verkondig lank voordat dit werklik plaasgevind het. Ons leer heelwat oor ons Koning en Verlosser Jesus Christus in hierdie profesie.
Jesus kom as regverdige Koning
Daar is in Jesus se heerskappy geen onreg nie. Sy heerskappy is volmaak in lyn met God se wil en bevele. Die sleg word gestraf en die goeie word geprys en beloon. Die wonderlike is dat elkeen van ons, wat in Christus ingeplant is deur die geloof, deel het aan hierdie koninkryk. Ons is burgers van daardie Koninkryk.
Jesus is die Koning wat ware verlossing bring
Israel se Koning word tweedens beskryf as ’n Koning wat verlossing bring. Die oorspronklike taal beteken eerder iets in die sin van: Hy het Homself as Verlosser kom betoon. In Johannes 12:17-18 lees ons iets besonders by Jesus se intog op die donkie Jerusalem in. Hulle dink aan Jesus wat Lasarus uit die dood opgewek het terwyl Hy op die donkie ry. Hulle besef skielik dat hierdie Persoon Homself as Verlosser betoon het.
En Jesus het ’n jong donkie gekry en daarop gaan sit, soos daar geskryf staan: ‘Moenie vrees nie, dogter van Sion! Kyk, jou Koning kom, Hy sit op ’n donkievul.’
Johannes 12:14-15
Jesus as die nederige Koning
Sagaria het laastens geprofeteer van Jesus se nederige heerskappy. Jesus het Homself nie vertoon met wêreldse simbole van mag soos ’n oorlogsperd, wapenrusting, swaard, boog of hoe ook al nie. Nee, Hy het eerder op ’n donkie ingery. ’n Donkie wat nie gebruik was vir oorlog nie.
Donkies was destyds gebruik om te wys op ’n nederige heerskappy. ’n Heerskappy wat vrede bring. Tog is dit nie die tipe koning wat die wêreld wil hê nie. Daarom het hulle Hom nie geken toe Hy die wêreld ingekom het nie (Johannes 1).
Die heerlikheid van Sagaria se profesie lê in die feit dat hy vir die volk sê dat hierdie groot Koning hulle Koning is. Dit is Wie hulle moet verwag.
Sagaria het dit vir die volk Israel geprofeteer toe hulle nie werklik ’n goeie koning geken het nie. In die geskiedenis van Israel was daar meer net ’n paar goeie konings. Hulle kon eintlik nie meer onthou wat dit beteken om ’n koning te hê wat sterk en magtig is en nie aan iemand anders ondergeskik was soos ’n handpop nie.
Loof en prys die ware Koning
Christus kom as ware Koning. Hy kom as Koning van die konings! Hy kom vir God se volk, regverdig. En Hy vertoon Homself as ’n Verlosser deur Homself te verneder tot aan die kruis. Hy kom om vrede te bring, die donkie het ook gewys op vrede.
Wanneer ons so dink hoe wonderlik Christus is, hoe kan ons dan anders as om Hom te loof en te prys! Juis daarom word ons opgeroep om Hom te prys.
