Sien Saul se donkies in jou lewe raak
Wanneer die donkies van Saul se pa wegraak is dit alledaags, maar God het ’n plan om Saul tot koning te salf. Lees hier hoe God ons ook roep.

deur ds Lohan Linde
Dit is moeilik om Saul ’n regverdige kans te gee. Vir meeste van ons is hy maar net die slegte, die skelm, die mal ou koning in die wonderlike geskiedenis van koning Dawid. Maar vir eers wil ons kyk na die spesiale manier waarop die Here vir Saul roep, hoe God vir Saul al die kanse en toerusting gee om ’n suksesvolle koning te wees.
En dit gebeur op die wonderlikste manier, so asof dit per ongeluk, so amper toevallig plaasvind. Alles wat gebeur is wel nie toevallig nie, dit gebeur deur die leidende hand van die Here.
Saul se pa se donkies raak weg
Toe daar op ’n keer donkies van Kis, Saul se pa, weggeraak het, het hy vir sy seun Saul gesê: ‘Vat een van die slawe saam, maak klaar en gaan soek die donkies.’
1 Samuel 9:3
Saul sou dit wel nie besef het toe die berig kom dat sy pa se donkies weggeraak het nie. Dit is iets wat waarskynlik nie ongewoon sou wees nie. Dit gebeur soms in boerderye dat diere êrens die pad byster raak.
Tog is hierdie donkies wat weggeraak het die manier waarop die Here vir Saul met Samuel in kontak bring.
Maar hoe toevallig sou dinge nie gelyk het nie? Donkies wat verdwyn, iets wat amper as alledaags gesien kon word, die donkies wat nie gevind kan word nie.
Die slaaf sê toe vir Saul: ‘Nee, wag! In hierdie stad is ‘n man van God. Dié man geniet hoë aansien. Alles wat hy sê, gebeur net so. Kom ons gaan soontoe. Dalk kan hy vir ons sê waar om te soek.’
1 Samuel 9:6
God werk met ’n plan om Saul by Samuel te bring
Wanneer Saul die soektog wil opgee, is die donkies “toevallig” by die stad van Samuel en kry hulle “toevallig” die twee diensmeisies wat vir hulle aanwysings na Samuel kan gee. Hierdie dinge wat so per ongeluk kan lyk, maar wat niks anders is as die Here se wonderbaarlike bestuur van die skepping.
Ons sien juis dat dit die Here is wat alles bestuur as ons lees dat die Here al die dag voor die gebeure vir Samuel laat weet dat hy vir Saul sal ontmoet, en dat Saul die koning oor Israel moet wees.
‘Môre teen hierdie tyd sal Ek ’n man uit die gebied van Benjamin na jou toe stuur. Jy moet hom tot regeerder oor my volk Israel salf.’
1 Samuel 9:16
Stap vir stap berei God hom versigtig voor op die koningskap wat vir hom voorlê. Ja, so is ons God, Hy is pastoraal en liefdevol.
Samuel berei Saul stelselmatig op sy koningskap voor
God konfronteer Saul nie onmiddellik met sy toekomstige taak nie. Hy maak dit nie onmiddellik ’n publieke saak nie. Samuel praat eers met Saul op ’n persoonlike vlak. So gee hy Saul eers tyd om met die spesiale amp klaar te kom. In hul eerste ontmoeting maak Samuel ’n bedekte verwysing na die koningskap. Hy vra die retoriese vraag:
Maar aan wie behoort die kosbaarste goed in die hele Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?
1 Samuel 9:20
Saul antwoord dan ook met gepaste nederigheid:
‘Ek is maar net ’n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die stam Benjamin! Waarom praat u so met my?’
By die feesmaal word Saul as die eregas behandel en ontvang hy die beste deel van die vleis. Daarna praat Samuel met Saul op die dak van sy huis.
Samuel berei Saul versigtig voor op die boodskap wat hy die volgende oggend vir hom moet gee, sodat dit nie as ’n groot skok vir hom kom nie. Samuel wag met die salwing vir die regte oomblik. Dit moet privaat gebeur. Daarom stuur hy Saul se slaaf voor hulle uit. Samuel wil alleen met Saul wees. Samuel wil vir Saul salf tot koning.
Waarom word iemand tot koning gesalf ?
Die vraag kan dan ontstaan oor waarom iemand gesalf moet word. Waarom word hierdie aksie uitgeoefen om aan te dui dat Saul die koning is?
Daar kan twee redes wees daarvoor.
Eerstens wys die salwing dat die Here iemand tot ’n spesiale diens roep. Die Here dui deur die salwing aan dat iemand deur Hom gekies is om sy dienaar te wees, die persoon kry gesag van die Here om die sekere werk te doen waarvoor die Here hom geroep het.
Dit maak dit duidelik, die gesag kom van God, en van God alleen.
Tweedens wys die salwing daarop dat die persoon toegerus word om die taak te verrig waartoe hy geroep is. Dit simboliseer dat die Here sy Gees aan hierdie persoon skenk sodat hy die werk kan verrig.
God roep Saul, maar laat hom nie alleen nie
Dit is duidelik dat die Here mense roep om in sy diens te staan, maar Hy laat hulle nie net alleen nie. Hy maak hulle ook bekwaam vir hulle werk.
Ons sien dan ook in 1 Samuel 10 hoe Saul duidelik in diens van die Here staan.
Ons lees in vers 10 die volgende:
Die Gees van God het kragtig in hom gewerk, en hy het saam met hulle as profeet opgetree.
Saul word deur die Here geroep, die Here gebruik hom, maar deur die Gees maak Hy vir Saul vaardig om as profeet op te tree. Saul is hier koning en profeet.
God roep ons ook om in sy diens te staan
Hy wat ons roep is ewig getrou. Hy roep ons almal om in sy diens te staan. Maar Hy laat ons nie alleen nie, Hy maak ons ook bekwaam vir ons diens. Deur die krag van die Gees word ons gelei in ons diens as koning, priester en profeet.
Verder kan ons ook terugkyk op ons lewens en sien hoe die Here ons pad gelei het. Mag ons sien waar die Here ons gebruik. Mag ons sien hoe ons elkeen ’n verskil kan maak.
En mag ons die donkies raaksien en waardeer.
