Getrou wanneer jy lank moet wag

Kaleb moes 45 jaar wag voordat hy die vervulling van God se belofte gesien het. Leer hier hoe om God te vertrou en getrou te bly terwyl ons wag.

deur ds Daniël Myburgh


In Numeri 14 lees ons die besondere geskiedenis van Josua en Kaleb wat die land Kanaän gaan verken het. Die land is deur die Here aan Israel beloof. Dit was die land waarheen Hy hulle gelei het.

Tog was dinge nie so eenvoudig nie. Besonderse sterk reuse het in Kanaän gewoon (vergelyk Numeri 14:6-9). Die meeste van die verspieders het bang geword. Hulle het nie geglo dat Israel die land sou kon inneem nie.

Net Josua en Kaleb het anders gereageer. Hulle het geweet dat die Here wat die land beloof het, ook die vermoë het om dit aan hulle te gee.

Kaleb se gesindheid was anders as dié van die res van die volk. Hy was positief en hoopvol. Hy het besef: met die hulp van die Here kan ons hierdie mense oorwin.

Hy het die Here vertrou omdat hy geweet het dat God by sy volk is. Daarom sê hy in Numeri 14:9: “Moenie vir hulle bang wees nie!”

Vyf-en-veertig jaar se wag

In sy onbeskryflike genade het God die volk se sonde vergewe. Maar as gevolg van hulle vrees en kleingeloof het die Here hulle nie toegelaat om dadelik die land in te gaan nie.

Kaleb is egter uitgesonder. Die Here sê van hom:

Maar omdat my dienaar Kaleb ’n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit.

Numeri 14:24

Kaleb sou dus die Beloofde Land erf. En tog gaan die tyd verby. Die jare stap aan, maar dit lyk asof niks gebeur nie. Kaleb trek saam met die volk deur die woestyn. Moses sterf en Josua word die nuwe leier van Israel. Maar Kaleb bly wag.

Vyf-en-veertig jaar nadat die Here sy belofte aan hom gemaak het, sê Kaleb:

En nou, kyk, die Here het my laat leef, soos Hy gesê het, nou reeds vyf-en-veertig jaar nadat die Here hierdie woorde vir Moses gesê het toe Israel nog in die woestyn rondgetrek het. En nou, kyk, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud.

Josua 14:10

Vyf-en-veertig jaar. Dit is ’n lang tyd om te wag. Hoe is dit moontlik dat Kaleb so lank op die Here se belofte kon bly wag? Hoe kry hy dit reg om geduldig te bly?

Kaleb se geduld en geloof is alleen moontlik deur die werk van die Heilige Gees. Die Heilige Gees gee aan hom die vaste vertroue om die ewige Verbondsgod te glo wanneer Hy sê dat iets sal gebeur, ongeag hoe lank dit neem voordat die belofte in vervulling gaan.

Kaleb het nie nét gewag nie

Dit is opvallend dat Kaleb nie net wag nie. Wanneer hy uiteindelik by Josua kom, vra hy vir die vervulling van die Here se belofte. In vers 12 sê hy:

Gee dan nou hierdie berggebied vir my, soos die Here daardie dag gesê het.

Kaleb het geduldig gewag, maar hy het ook gebid. Hy het die Here aan sy belofte herinner en gevra dat die belofte in vervulling moet gaan.

Dit mag dalk vir ons vreemd klink. Hoe kan ons as mense die Here aan sy beloftes herinner? Tog leer die Bybel ons dat gelowiges die Here soms aan sy beloftes mag herinner en Hom daarvoor mag smeek (vgl. Jesaja 62:6-7).

Dit beteken nie dat ons God tot iets kan dwing nie. Ons herinner Hom aan sy beloftes omdat ons weet dat Hy getrou is.

Kaleb het geweet dat die Here sy Woord sou hou. Daarom kon hy wag. En daarom kon hy ook met vrymoedigheid bid dat die Here sy belofte sou vervul.

Wanneer jy moet wag

Wanneer jy voel asof die Here nie in jou lewe uitkoms bring nie, of asof daar geen verandering in jou omstandighede is nie, wag geduldig op die Here (Psalm 27:14; 130:5-6).

Maar vra jouself ook biddend af: Is dit waarvoor ek wag werklik ’n belofte van die Here? Of is dit iets wat ek self graag wil hê?

Ons kan nie elke begeerte wat ons het, ’n belofte van God maak nie. Maar wanneer God iets belowe het, kan ons seker wees dat Hy dit sal vervul.

Ons weet nie altyd hoe lank ons sal moet wag nie. Kaleb moes vyf-en-veertig jaar wag. Maar hy het nie opgehou om God te vertrou nie. Hy het aan God se belofte vasgehou.

God is getrou aan sy beloftes. Daarom kan ons ook getrou bly, selfs wanneer die wag lank word.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui