Getrou wanneer jy alleen God volg

Noag het God gehoorsaam al kon hy nog nie sien wat sou gebeur nie. Wat leer sy volharding ons oor geloof en getrouheid aan God?

deur ds Lohan Linde


Wie is ons? Is ons die mense wat van buite af staan en Noag met “vrot appels” gooi? Of is ons doelgerigte Christene met ’n ewige hoop, besig om aan die ark te bou?

Hebreërs 11:7 sê:

Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was ’n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

Noag se opdrag moes ongelooflik gewees het.

God sê vir hom om ’n ark te bou. Nie omdat Noag die reën sien aankom het nie. Nie omdat die wêreld rondom hom bewys het dat ’n vloed op pad is nie. Hy moes God eenvoudig glo en gehoorsaam.

En hy moes lank aanhou.

Noag het aangehou bou

Ons weet nie presies hoe lank dit geneem het om die ark te bou nie. Wat ons wel weet, is dat Noag vir ’n lang tyd moes werk aan iets waarvan die uiteinde nog onsigbaar was.

Dink net daaraan. Hout moes verkry en voorberei word. Die ark moes gebou word. Dag na dag, maand na maand en jaar na jaar moes Noag voortgaan met die werk wat God hom gegee het.

En intussen het die mense rondom hom hulle gewone lewe voortgesit. Dink net hoeveel keer sou Noag moes verduidelik wat hy doen. Hoeveel keer sou mense hom uitgelag het? Hoeveel keer sou hy gewonder het of ander mense dalk dink hy is dwaas? Ons weet nie. Maar een ding weet ons: Noag het aangehou.

Sy geloof het hom nie net laat begin bou nie. Sy geloof het hom laat volhard in gehoorsaamheid.

Geloof gehoorsaam voordat dit alles kan sien

Hebreërs 11:1 sê:

Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

Dit is presies wat ons in Noag se lewe sien.

Noag het nie alles gesien wat God belowe het nie. Hy het nie die vloed gesien voordat hy die ark begin bou het nie. Hy het nie geweet presies hoe alles sou verloop nie. Maar hy het God se woord vertrou.

Dit is wat geloof doen. Geloof beteken nie dat ons alles verstaan of alles kan sien nie. Dit beteken dat ons God vertrou omdat Hý betroubaar is.

Noag se gehoorsaamheid het ook nie begin omdat hy ’n besonder sterk mens was nie. Genesis 6:8 sê: “Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here.” God het Noag uit genade geroep en hom ’n bepaalde taak gegee.

Dit is waar ons eie volharding ook begin. Ons hoef nie op ons eie krag te vertrou nie. God roep ons, Hy red ons en Hy gee ons die krag om Hom te dien.

Die wêreld gaan aan

Terwyl Noag bou, gaan die mense rondom hom voort met hulle lewens. Jesus gebruik later die dae van Noag as ’n waarskuwing oor sy wederkoms. Hy sê:

In die dae voor die vloed het die mense aangehou eet en drink en trou en in die huwelik uitgee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het.

Matteus 24:38

Hulle het geleef asof daar niks buitengewoons op pad was nie.

Dit is dalk een van die grootste lesse wat Noag se verhaal vir ons bevat. Dit is maklik om te dink dat daar nog baie tyd is. Nog tyd om ernstig te raak oor my geloof. Nog tyd om die Here te dien. Nóg tyd om vir ander van Jesus te vertel. Nog tyd om te verander. Maar ons weet nie wat môre bring nie. En ons weet ook nie wanneer Christus weer sal kom nie.

Daarom is die vraag nie wanneer gaan dit gebeur nie. Die vraag is: “Is ek vandag getrou?”

Waarmee is jy besig?

Noag het ’n duidelike opdrag gehad. Hy moes die ark bou. Ons het nie dieselfde opdrag nie. Ons hoef nie ’n ark te bou nie. Maar ons het ook ’n opdrag.

Ons moet as Christene getrou aan God leef. Ons moet die evangelie verkondig. Ons moet ons gesinne en gemeentes dien. Ons moet die Here se liefde aan die mense rondom ons wys. Ons moet leef as mense wat weet dat hierdie wêreld nie ons eindbestemming is nie.

En ons moet dit aanhou doen.

Selfs wanneer niemand ons daarvoor prys nie. Selfs wanneer ander mense nie verstaan nie. Selfs wanneer ons nie onmiddellik die vrug van ons werk sien nie. Selfs wanneer dit makliker sou wees om maar net saam met almal aan te gaan.

Want die wêreld rondom Noag het aangegaan asof niks gaan gebeur nie. Maar Noag het gebou.

Leef met verwagting

Hoe opgewonde is ons nog oor ons geloof? Dink aan die gevoel wanneer jou verjaardag om die draai is en jy nie kan wag om te sien watse geskenke jy gaan kry nie. Ons geloof behoort ook ’n afwagting te hê.

Ons het reeds die grootste geskenk ontvang: Jesus Christus het gekom om ons te verlos. En daarom sien ons ook met verwagting uit na sy wederkoms.

Jesus se eerste koms herinner ons daaraan dat God sy beloftes hou. Hy het belowe om ’n Verlosser te stuur, en Hy het gekom. Daarom kan ons ook vertrou dat Hy sy belofte oor sy wederkoms sal hou.

Ons weet nie wanneer dit sal wees nie. Maar ons weet Wie kom. Dit verander hoe ons vandag leef.

Bou jy?

Noag se volharding herinner ons daaraan dat getrouheid dikwels beteken om aan te hou met dit wat God ons gegee het om te doen, selfs wanneer die wêreld rondom ons nie verstaan nie.

Ons hoef nie alles te sien voordat ons gehoorsaam is nie. Ons hoef ook nie te weet wanneer die Here sy plan volledig gaan voltooi nie. Ons moet Hom vertrou en vandag getrou wees.

Daarom is die vraag vir ons: Bou jy? Is jy die een wat besig is om te partytjie, besig is om die ark van buite af met klippe en vrot appels te gooi, of is jy die een wat besig is om te bou?

Is jou geloof iets waarmee jy net praat, of iets waarvolgens jy elke dag leef? Is jy besig om getrou te wees in jou huis, jou gemeente, jou werk en jou verhoudings? Is jy besig om vir die mense rondom jou te wys dat jy hoop op iets wat groter is as hierdie wêreld?

Noag het aangehou bou omdat hy God se Woord vertrou het.

Mag ons ook so leef: met ons oë op Christus, ons voete in hierdie wêreld en ons harte gerig op die hoop wat voorlê.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui