God maak nuut wat verouderd is
God belowe nie ’n nuwe “jy” nie, Hy belowe nuwe lewe in jou. Ontdek hoe God jou denke, tyd en identiteit wil vernuwe, en ook die van jou gemeente.

Ons leef in ’n wêreld wat mal is oor “nuut”. Nuwe fone, nuwe apps, nuwe tendense, nuwe weergawes van onsself. Oral hoor jy: “word ’n beter jy”, “herontdek jouself”, “begin oor”. Maar God se belofte van vernuwing werk anders. Hy roep ons nie na ’n beter weergawe van onsself nie. Hy nooi ons in by sy nuwe werk in ons lewens.
Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom …
Jesaja 43:1819
Jesaja 43 is geskryf vir mense wat moedeloos was, vasgevang in ballingskap en ou patrone. God kom nie met ’n motiveringspraatjie nie. Hy kom met ’n belofte: “Ek gaan iets nuuts doen.” Nie omdat hulle dit verdien nie, maar omdat Hy getrou is.
God bring vernuwing, nie selfverbetering nie
Ons kultuur leer ons om aan onsself te werk. Werk harder, dink positiewer, doen beter. Maar die Bybel leer ons om aan God vas te hou. Ware vernuwing begin nie by dissipline nie, maar by oorgawe. God skep nuwe lewe binne ou, gebroke mense.
Dis belangrik om dit te hoor: God vra nie dat jy eers “nuut genoeg” moet word voordat Hy jou gebruik nie. Hy bring die nuutheid. Hý skep dit. Hy doen dit selfs binne jou ou omstandighede, jou ou gewoontes en jou ou vrae.
Jesaja 43:19 sê God maak paaie in die woestyn en riviere in die droë wêreld. Vernuwing gebeur dikwels nie in maklike seisoene nie, maar in moeilike tye. Dis juis in droogte, verwarring en wagperiodes dat God iets nuuts begin laat groei.
Jy hoef nie eers uit jou “woestyn” te kom voordat God kan werk nie. Hy werk daarbinne.
Vernuwing gebeur binne jou denke
Romeine 12:2 sê God verander ons deur ons denke te vernuwe. Jou denke oor tyd, werk en identiteit vorm jou hele lewe. As dit nie vernuwe word nie, bly jy vasgevang in uitbranding, prestasiedruk en vergelyking.
God wil jou help om anders oor tyd te dink. Nie as iets wat jy moet “oorleef” nie, maar as iets wat jy in sy teenwoordigheid mag leef. Hy wil jou help om anders oor werk te dink – nie net as ’n bron van inkomste nie, maar as ’n plek van roeping. Hy wil jou help om anders oor jouself te dink: Nie net as wat jy doen of waarin jy presteer nie, maar as wie jy in Christus is.
Vernuwing binne jou gemeente
God se belofte van iets nuuts geld nie net individue nie, maar ook vir sy kerk. Gemeentes raak soms vas in ou patrone, ou vrese en ou gewoontes. Ons hou vas aan wat “altyd so gewerk het”, selfs wanneer God iets dieper, egter en meer lewend wil doen.
Vernuwing beteken nie om alles weg te gooi nie. Dit beteken om God toe te laat om nuwe lewe te blaas in dit wat oud geword het.
’n Vraag vir jou: Waar het jy begin dink: “Dis maar net hoe ek is”?
Waar het jy opgehou glo dat God jou kan verander? Waar het jou geestelike lewe net ’n gewoonte geword en nie meer ’n verhouding nie?
God fluister vandag nog: “Kyk, Ek gaan iets nuuts doen.” Nie eendag nie. Nou. Binne jou. Binne jou gewone lewe.
Vernuwing is nie ’n nuwe weergawe van jou nie. Dis God se nuwe lewe in jou. Dit is nie prestasie nie, maar genade. Nie selfhelp nie, maar Godshulp.
Laat Hom toe om jou denke te vernuwe. Jou tyd, jou werk, jou identiteit. Want God maak nie net nuwe dinge nie, Hy maak wat oud is weer nuut.
