Abraham se getroue pak-donkie

In Genesis 22:1-19 lees ons van Abraham wat stap, met ’n donkie as pakdier, om sy seun te gaan offer. Ook Jesus is jare later op ’n donkie. Lees hier meer.

deur ds Daniël Myburgh


In die Bybel lees ons gereeld van donkies. Ons lees van wilde donkies maar ook mak donkies. Die mense in die Bybelse tyd het hierdie “wonderlike ding” in die natuur gesien en gou agtergekom hoe uniek en besonders ’n donkie is.

Donkies is baie geharde diere wat goed aanpas in droë, warm en klipperige gebiede, soos die Ou Nabye-Oosterse streke, is. Daarom het die mense van daardie tyd die donkies mak gemaak juis omdat hulle so gehard en aanpasbaar is. Donkies is reeds tóé al ingespan om landerye te ploeg of om – soos Abraham se donkie – ’n swaar vrag te dra. Selfs al is donkies se liggaamsbou redelik klein en skraal, kan ’n gesonde donkie byna 30% van sy eie liggaamsgewig dra.

Baie mense dink dat dit nét die armer mense was wat donkies gehad het, maar donkies word met álle sosiale klasse geassosieer. Dink maar weer aan Abraham – hy was ’n baie ryk man, en tog het hy ook die nut, waarde en noodsaaklikheid van die donkie ingesien al is dit so dat donkies gewoonlik met nederigheid en minderwaardigheid geassosieer word.

Donkies is geken vir hul getrouheid en betroubaarheid. Hulle is uiters lojale diere en sal letterlik die ekstra myl saam met hul eienaar stap. En tog lees ons in Genesis 22 dat Abraham se donkie nie héél pad saam met hom en Isak gestap het nie.

Die pakdonkie in Genesis

Al gaan hierdie verhaal in Genesis 22 oor Abraham se geloofstoets en oor Isak se liefdevolle bereidwilligheid, moet ons nie die rol van die donkie, as pakdier, miskyk nie. Die donkie speel ’n belangrike rol in hierdie verhaal, aangesien dit die enigste manier was hoe die offer-toerusting tot bó op die berg gedra kon word. Die hout en die vuur en die mes …

Die krag van ’n pakdier is nodig hiervoor, want die mens se krag is te min om op die moeilike pad te fokus en óók nog om sélf die swaar, ongemaklike, vrag te dra. As dit nie vir die donkie was nie, dan sou die items vir die offer-ritueel nooit teen die berge van Moria kon uitkom nie.

Maar die donkie kan nie namens Isak stap nie

En tog kom daar ’n stadium in vers 5 waar Abraham vir sy slawe sê dat hulle saam met die donkie op ’n sekere plek moet wag sodat hy en Isak sélf verder kan reis. Die donkie se doel is nou voltooi. Isak moes nou sélf die offer-toerusting dra. Hy moes sélf dít dra wat hom aan die Verbondsgod sou laat offer (Genesis 22:2).

In totale gehoorsaamheid, bereidwilligheid en in vaste geloof stap hierdie pa en seun teen die berg op – want “die Here sal voorsien” (vers 8). En só word Isak op die offer-altaar neergesit – klaar gereed vir die mes wat hom wou slag (vgl. Romeine 8:36; Skrifberyming 10:4). Maar dan voorsien die Almagtige Sélf ’n lam vir die offer (vers 13).


In Jerusalem is daar weer ’n donkie

Jare later sou die Lam van God, Jesus Christus, óók met ’n donkie in die gebied van Moria rondbeweeg. Op die rug van ’n donkie ry Hy Jerusalem binne sodat die profesie van Sagaria 9:9 vervul kan word (vgl. Lukas 19: 28-38). Maar daarna is die doel van Jesus se donkie, as pakdier, voltooi en stap Jesus Sélf verder.

Hy stap teen die berg Golgota op terwyl Hy Sélf sy offer-toerusting, die kruis, gedra het (Johannes 19:17). Daardie dag voorsien ons Verbondsgod op die berg – waarskynlik in die gebied van Moria (2 Kronieke 3: 1). Jesus Christus word – in ons plek – vir ál ons sondeskuld geoffer.


Dink aan die donkie se plek in die Bybel

So sien ons, regdeur die Skrif, die noodsaaklikheid van die donkie, as pakdier, duidelik raak. Selfs al is dit ’n nederige dier wat op die oog af soos ’n minderwaardige dier lyk, het die donkie sy plek in die samelewing – selfs in die vervulling van die Evangelie. Dink daaraan wanneer jy weer een van hierdie uiters lojale diere sien.

Maar onthou óók die beperkinge van die donkie – selfs al is die donkie werklik ‘n “wonderlike ding” gaan dit tog oor die Een Wie op hierdie pakdier se rug was – oor ons Énigste Koning, Jesus Christus: Die Volmaakte Offer aan die kruis en die Enigste Oorwinnaar oor die dood.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui