Moenie die gewone donkie miskyk nie

Bíleam en sy pratende donkie in Numeri 22 is ’n bekende verhaal. Lees hier hoekom ons dit nie net as ’n interessante verhaal moet sien nie, maar daaruit leer.
deur ds Johann de Waal
Die verhaal van Bíleam en sy donkie in Numeri 22 is een van die vreemdste, maar ook een van die mooiste maniere waarop die Bybel vir ons wys dat God sy wil deur gewone dinge laat geskied. Dit begin met ’n profeet wat nie regtig heelhartig vir God leef nie.
Bíleam was bekend as iemand wat boodskappe oordra, maar sy hart was halfpad: Hy wou graag die ryk beloning hê wat Balak, koning van Moab, hom belowe het. Maar, hy wou ook nie te openlik teen God ingaan nie. Hy probeer dus om op twee paaie tegelyk te loop—’n pad van selfbelang, maar ook ’n pad van skynbare gehoorsaamheid. En dit is juis in hierdie innerlike verdeeldheid dat God intree op ’n manier wat niemand sou verwag nie.
God gebruik ’n pratende donkie om Bíleam tereg te wys
Terwyl Bíleam op sy donkie ry om Balak te ontmoet, staan ’n engel van die HERE met sy uitgestrekte swaard in die pad. Ironies genoeg sien die donkie die engel, maar die profeet sien niks. Die dier draai drie keer weg van gevaar af: Eers gaan sy in die veld in; toe druk sy Bíleam se voet teen ’n muur vas; en uiteindelik gaan lê sy sommer plat onder hom.
Bíleam, verblind deur woede en ongeduld, slaan haar elke keer. Onbewus daarvan dat hierdie “dom” dier eintlik sy lewe probeer red. En dan gebeur die onmoontlike: God open die mond van die donkie, en sy praat met Bíleam. Sy vra hom waarom hy haar slaan. En net daarna open God Bíleam se oë sodat hy die engel sien wat hy heeltyd misgekyk het. Die engel sê vir hom dat as die donkie nie elke keer weggedraai het nie, sou hy Bíleam doodgemaak het. Die donkie was sy redding. Hy sou verseker met die bekende Afrikaanse liedjie saamstem, “Die donkie is ’n wonderlike ding”.
God hoef nie ’n groot skouspel te gebruik om ons aandag te kry nie
Maar hierdie verhaal is nie net daar sodat ons ’n bietjie verstom kan wees oor ’n pratende donkie nie. Die Here wil juis wys hoe Hy sy wil laat geskied deur die mees gewone, onverwagse, alledaagse dinge.
God het nie ’n hemelse visioen of ’n donderslag gebruik om Bíleam tot stilstand te bring nie. Hy het ’n donkie gebruik—iets so eenvoudig dat niemand ooit sou dink God kan daardeur werk nie. Maar die Here is nie afhanklik van groot skouspel nie. Hy is Koning oor die skepping, en die kleinste element, selfs ’n dier, staan tot sy beskikking.
Die donkie weet meer as die mens!
Die einste Johannes Calvyn sê selfs dat dit geen toeval is dat God juis ’n donkie gebruik om vir Bíleam tereg te wys nie. Volgens Calvyn is dit God se doel om Bíleam se trots te breek en hom te verneder met ’n donkie wat meer as hy weet. ’n Man wat gedink het hy is wys en geestelik ingestel moes uiteindelik erken dat hy minder insig gehad het as die eenvoudige dier waarop hy ry.
Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam …
1 Korintiërs 1:27
Calvyn wys ook daarop dat God hiermee die waarheid van 1 Korintiërs 1:27 bevestig: God gebruik dikwels die swakkeling en die dwaas om die sterkes en die wyses te beskaam.
Wanneer die Here sy wil uitvoer, is Hy nie afhanklik van mense se gesag, geleerdheid of slimheid nie. Hy gebruik wat Hy wil, hoe Hy wil, en wanneer Hy wil. Die hele skepping staan tot sy beskikking, en Hy openbaar Hom as die almagtige Skepper wat selfs die mond van ’n dier kan oopmaak om ’n boodskap oor te dra.
God werk deur die gewone dinge
Vir ons jong gelowiges is daar ’n groot en kosbare les hierin. God praat soms met ons op maniere wat ons nie verwag nie. Dit hoef nie dramaties te wees nie. Dit kan kom deur ’n Bybelvers wat jou tref, ’n gesprek met ’n vriend, ’n moeilike situasie, ’n teleurstelling, ’n gewetensbesef, of selfs iemand wat jou reghelp wanneer jy verkeerd is.
Baie keer is mense so gefokus op iets groots en besonders dat hulle nie oplet hoe God in die gewone dinge werk nie. Bíleam kon nie die engel sien nie, maar die donkie kon. En soms is dit ook so met ons: Ons sien nie die gevaar, die waarskuwing, of die leiding wat God voor ons sit nie, omdat ons harte vol geraas, trots of eie planne is. Dan gebruik die Here ’n “donkie”—iets eenvoudig, klein of onverwags—om ons stil te maak en ons aandag te kry.
Die mens se planne is nie bo God se wil nie
Nog ’n belangrike les is dat God se wil altyd geskied. Al probeer Bíleam om ’n plan te maak wat half teen God se opdrag ingaan, kom God hom tegemoet en stop hom. Geen koning, geen profeet, geen menslike plan kan die wil van God keer nie. Wat Hy besluit, staan vas. Daarom kan ons vertrou dat God elke situasie in sy hand hou, selfs die dinge wat vir ons vreemd of moeilik lyk. Hy is die Here wat alles bestuur, tot in die kleinste detail.
Sien raak as God op ’n ongewone manier met jou praat
Die verhaal eindig met ’n donkie wat meer insig gehad het as die profeet. Dit is ’n herinnering aan ons almal om nederig te wees, om te luister, en om nie te dink dat God net deur “groot” dinge werk nie. Hy is teenwoordig in die gewone, in die alledaagse, in die situasies wat ander miskyk. As ons bereid is om op te let, sal ons sien hoe God deur die eenvoudigste oomblikke sy liefde, sy beskerming en sy leiding vir ons wys.
Die vraag wat die verhaal by ons laat, is eenvoudig: sal jy bereid wees om te luister wanneer God op ’n ongewone manier met jou praat? Of sal jy, soos Bíleam, kwaad raak en nie sien wat God voor jou sit nie? Soms red God jou lewe deur ’n spreekwoordelike donkie. Jy moet net oplet.
