Van Kakebeenshoogte tot Roepersfontein

Wanneer Simson ’n 1000 man met ’n eselskakebeen doodmaak vergeet hy vir ’n oomblik dat hy dit net deur die Here se hand reggekry het. Lees meer hier.

deur ds Theuns de Bruyn


In Rigters 15 vind ons die kerk van die Here op ’n baie onstuimige plek. So was die dae van die Rigters, onstuimig. Dit was ’n tyd waarin die volk gedurig van die Here afvallig geraak het. Die Here sou sy volk met sy oordele tugtig sodat ander volke oor hulle regeer het.

Wanneer die volk dan tot bekering kom en tot die Here roep, stuur Hy rigters om hulle te bevry van hulle vyande se oorheersing. Simson is die laaste rigter wat in die boek Rigters bespreek word. En die volk is inderdaad in hierdie tyd op ’n laagtepunt. Hulle word deur die Filistyne oorheers.

Maar dit is opmerklik dat hulle Rigter eintlik heeltemal alleen veg. Die vorige rigters het die volk in die oorloë gelei, maar Simson veg feitlik heeltyd alleen. Trouens, wanneer die Filistyne in Rigters 15 teen die volk van die Here optrek, lewer hulle hom sommer uit. Hulle bind hom vas en handig hom aan die Filistyne oor, sonder om hom eers te probeer help.

Daarin sien ons reeds hoe Simson ’n skaduwee is van Jesus Christus. Christus het immers sy volk sonder hulp verlos. Hy is deur hulle self oorgelewer om gekruisig te word. Hy het die oorwinning oor die sonde en die dood ook sonder ons toedoen behaal. Maar ons sien ook Simson se tekortkominge. Ons sien in hom ook presies hoekom hy minder as Christus is. Ons sien dit wanneer Simson praat oor:


Simson by Kakebeenshoogte

Simson is vasgebind en oorgelewer. Sy vyande juig! Hulle gaan nou goed wraak neem op hierdie Israeliet wat hulle soveel skade berokken het. Maar hulle hou nie rekening met die God van die volk vir wie hulle verdruk nie.

Die Heilige Gees neem van Simson beslag, en rus hom toe met buitengewone gawes om sy roeping deur te voer. Simson se toue smelt as’t ware weg. En dan vind die geweldige veldslag plaas – een ongewapende man teen ’n leërmag. Maar die Heilige Gees werk bonatuurlik. Simson kry die kakebeen van ’n dooie donkie wat daar naby lê. Dit sal sy wapen wees. En dit moet ons ook nie verbaas nie. As God met jou is kan jy veel meer doen. Simson slaan ’n duisend Filistyne dood.

En dan sing Simson feitlik ’n loflied aan homself en die eselskakebeen:

Met ’n eselskakebeen het ek een klomp, twee klompe, met ’n eselskakebeen het ek duisend man verslaan. En toe hy klaar gespreek het, gooi hy die kakebeen uit sy hand en noem dié plek Kakebeenshoogte.

Rigters 15:16-17

Simson het heeltemal vergeet dat dit die Here se oorwinning is. Hy roem ewe skielik op homself en die dooie ding in sy hand. En nou benoem hy die plek waar hy staan volgens sy hoogmoed. Dié plek moet vir die nageslag bekend staan as Kakebeenshoogte, sodat almal sy oorwinning onthou.

Ons kan so maklik in dieselfde strik as Simson trap. Ons kan in tye van voorspoed en prestasie so maklik op Kakebeenshoogte gaan staan. Hoe dink jy oor jou prestasies? Wanneer jy moeilike omstandighede oorkom en swaar dinge verwerk, is dit maklik om uit te roep: Kakebeenshoogte! Dit was ek en ’n paar dooie dinge wat hierdie of daardie prestasie bereik het!


Van Kakebeenshoogte tot Roepersfontein

Simson was hoogmoedig oor die oorwinning wat hy in die Here behaal het. Hy het nie die Here erken nie. Hy het eerder die eselskakebeen erken. Sy roem was in homself. Maar, die Here was nog nie klaar met hom nie. Daarom leer Rigters 15 ons nie net van Kakebeenshoogte nie, maar ook van:

Roepersfontein

Lees Rigters 16:18:

Daarop kry hy baie dors en roep die Here aan en sê: U het deur die hand van u kneg hierdie groot verlossing gegee, en moet ek nou van dors sterwe en in die hand van die onbesnedenes val?

Die Here herinner Simson aan wie die lof en eer vir die oorwinning toekom. Hy bring ’n geweldige dors oor Simson. Die Here wys die hoogmoedige Simson hoe kwesbaar hy is. Hy wat ’n duisend man doodgeslaan het met net ’n kakebeen, bly maar ’n gewone mens. Hy besef skielik dat sy lewe in gedrang is.

En so werk die Here ook baie keer met ons. Wanneer sy kinders hoogmoedig raak verneder hy ons. Hy tugtig ons sodat ons sal besef dat ons geheel en al van hom afhanklik is. Hy tugtig ons om ons te laat besef hoe klein ons is. God is groot en ons is klein.

Skielik roep Simson uit dat dit die Here was wat die verlossing gebring het. Hy was net die instrument. Hoe anders klink dit nie as die “loflied aan Simson” nie. In sy besef van sy kleinheid roep hy die Here aan. Hy roep en hy erken dat hy sonder God se krag sal doodgaan.

Ons lees in vers 19:

Toe kloof God die holte wat by Legi is, en daar kom water uit; en hy het gedrink, en sy gees het teruggekom, en hy het weer opgelewe. Daarom noem hulle dit Roepersfontein …

Simson se prestasie-naam sou nie die geslagte oorleef nie. En uit die oorspronklike taal is dit duidelik dat dit ook hy was wat die nuwe naam gegee het. Hy het die plek Roepersfontein genoem. Hy het die Here in sy nood aangeroep en die Here het ’n fontein laat ontspring.

Wat lê tussen Kakebeenshoogte en Roepersfontein?

Wat lê tussen die mens se prestasie-waan en God se genadige krag in ons nood? Wanneer ons besef dat ons sonder God se genade uitgelewer is aan die verskriklike dood, dan staan ons tussen Kakebeenshoogte en Roepersfontein.

Dan besef ons uiteindelik dat daar sonder God se hulp in Christus geen lewe of verlossing van ons doodsvyande bestaan nie. Wanneer die Here deur sy Gees in ons werk om te sien dat ons prestasie sonder Hom niks is nie, dan is ons van ons eie Kakebeenshoogte af op pad na Roepersfontein toe.

Om van Kakebeenhoogte tot Roepersfontein te kom is nodig om van harte te glo dat die Here deur die hand van sy kneg verlos het. Ons kan uiteindelik dus sê: Tussen Kakebeenhoogte en Roepersfontein lê Golgota. Wanneer die Heilige Gees ons van die een na die ander bring doen Hy dit deur ons op Golgota te wys. Hy wys aan ons die lydende Kneg van God. Hy oortuig ons van ons sonde en bring ons tot die besef dat ons die Here nodig het.


Wie sal immers kan roem in sy prestasies as Hy die Seun van God as gekruisigde leer ken? Sien in Hom dat jou prestasies jou nie van die sonde en die dood kon red nie. Sien in Hom dat jou prestasie jou nie die anderkant van die graf sou kon laat sien nie. In Hom het die Here ingegryp, sonder jou toedoen. Hy het in Christus die fontein van die ewige lewe voorsien. Wanneer jy op Kakebeenhoogte verneder word, kyk dus na Golgota en roep. In Christus het ons altyd voor die Here ’n pleitgrond. Roep tot Hom in Christus, Hy sal hoor.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui