Wie gee betekenis aan ons drome?

Ons leef soms asof God ver is. Ons maak ons planne, werk aan ons doelwitte en probeer self sin maak van wat met ons gebeur. Dit is maklik om te leef asof God die wêreld geskep het, maar Hom daarna aan sy eie skepping oorgelaat het.
Die Bybel leer ons egter om met geloofsoë na ons lewe te kyk. God het nie sy skepping aan die gang gesit en daarna verdwyn nie. Hy is steeds werksaam en regeer alles volgens sy plan. Dit sien ons ook duidelik in Genesis 40 en 41.
deur ds Philip Wepener
Die betekenis van drome kom van God
Genesis 40 en 41 vertel hoe God deur drome aan die skinker, die bakker en die farao bekend gemaak het wat met hulle en met Egipte sou gebeur. Josef was daarvan oortuig dat die betekenis van hierdie drome van God af kom.
In Genesis 40:8 sê Josef vir die skinker en die bakker:
Hoort verklarings nie by God nie? Vertel dit tog vir my!
En wanneer die farao later van Josef verwag om sy droom uit te lê, antwoord Josef in Genesis 41:16:
Dit berus nie by my nie! God sal die farao ’n antwoord gee wat vir hom gunstig is.
So het God die gebeure gelei dat Josef op die regte tyd en op die regte plek was om sy familie, die nageslag van Abraham en Sara, tydens ’n swaar hongersnood te red. Daarmee het God nie net Josef en sy familie bewaar nie, maar ook die verbondslyn waaruit die Verlosser, Jesus Christus, uiteindelik gebore sou word.
In Genesis 40 en 41 sien ons hoe God selfs die kleinste besonderhede in Josef se lewe gebruik om sy plan uit te voer. Hy het Josef nooit verlaat nie. God het reeds vooraf ’n toekomstige redding beskik en in menslike gebeure ingegryp om sy plan uit te voer. Hy het dit onder andere gedoen deur drome te gebruik om bekend te maak wat sou gebeur.
Die betekenis van hierdie drome het nie by Josef berus nie. Dit het van God af gekom.
Vyf dinge wat die Bybel oor drome leer
Drome speel ’n groot rol in Genesis 40 en 41, sowel as in ander gedeeltes van die Bybel. Daarom is dit belangrik om te vra wat die Bybel ons oor drome leer, veral in die lig van die vrae wat ons vandag daaroor het.
1. Nie alle drome kom van God af nie
Ons droom almal, maar dit beteken nie dat elke droom ’n besondere betekenis of ’n boodskap van God het nie. Drome is deel van ons gewone slaap, en ons onthou ook nie altyd wat ons gedroom het nie.
Ons hoef dus nie elke vreemde, aangrypende of besonder realistiese droom te probeer verklaar asof dit noodwendig iets van God beteken nie.
2. In die Bybel sien ons dat sommige drome van God kom
Dwarsdeur die Bybel sien ons dat God by bepaalde geleenthede deur drome met mense gepraat het, selfs met ongelowiges of heidene. Ook vandag is daar getuienisse van mense, onder andere uit Moslem-agtergronde, wat vertel dat drome ’n groot rol gespeel het in hulle kennismaking met Jesus Christus.
Sulke getuienisse moet egter altyd aan die Bybel getoets word en kan nooit op dieselfde vlak as God se openbaring in sy Woord geplaas word nie.
In die Bybel is drome soms sterk simbolies en is die betekenis daarvan nie altyd onmiddellik duidelik nie. Wanneer God die betekenis daarvan bekend maak, kom die uitleg uiteindelik van Hom.
3. Die Bybel waarsku ons teen mense wat drome gebruik om gesag aan hulle boodskap te verleen
Deuteronomium 13:1-5 en Jeremia 23:25-28 waarsku juis teen valse profete wat hulle op drome beroep. Daarom moet ons versigtig wees vir iemand wat bloot op grond van ’n droom daarop aanspraak maak dat hy of sy ’n boodskap van God ontvang het.
Onthou: Wie gee betekenis aan ons drome? God alleen. Nie mense nie.
4. Ons moet alles aan die Woord van God toets
Ons moet nie buite die Bybel na nuwe openbarings soek asof die Bybel onvoldoende is nie. Die Bybel is God se gesagvolle Woord en die maatstaf waaraan ons alles moet toets.
Daarom mag geen droom gebruik word om iets te leer wat met die Bybel bots, of om ’n nuwe leerstelling daar te stel nie.
5. God kan op buitengewone maniere werk
Ons kan erken dat God in sy voorsienigheid ook op buitengewone maniere met mense kan werk. Die feit dat God in die Bybel soms deur drome gepraat het, beteken egter nie dat elke besondere of aangrypende droom ’n boodskap van God is nie.
Indien ’n droom ’n mens tot ernstige nadenke bring, moet die inhoud daarvan steeds aan die Woord van God getoets word. ’n Droom kan nooit met die Bybel gelykgestel word wat gesag of belangrikheid betref nie.
Waarom het God in die Bybel soms deur drome gepraat?
Wanneer God in die Bybel deur ’n droom met iemand gepraat het, het Hy daarmee sy eie doel gedien. Soms het Hy bekend gemaak wat sou gebeur, iemand gewaarsku of iemand voorberei vir dit wat Hy sou doen.
Genesis 40 en 41 leer ons egter nie dat ons voortdurend na besondere betekenisse of boodskappe in ons drome moet soek nie. Dit leer ons eerder om raak te sien dat God soewerein is en dat Hy sy plan uitvoer.
God bly werksaam in sy skepping
God het nie sy skepping aan die gang gesit en Hom daarna daarvan onttrek nie. Hy is vandag steeds werksaam. Selfs wanneer ons nie kan sien wat God doen nie, bly Hy in sy voorsienigheid regeer en voer Hy sy plan uit.
Ons hoef daarom nie elke droom te interpreteer of in elke droom na ’n boodskap te soek nie. Ons vertrou nie op ons drome om God se wil te ken nie. Ons vertrou op die God wat oor ons lewe én oor ons drome regeer en wat Hom aan ons in sy Woord bekendgemaak het.
So wie gee betekenis aan ons drome? God. Maar dit beteken nie dat elke droom wat ons droom, ’n boodskap van God bevat nie.

1 Response
[…] Wie gee betekenis aan ons drome? […]