Josef se drome: God se plan is groter

Josef se drome het ’n groot toekoms voorgestel, maar intussen het sy werklikheid net slegter gelyk. Wat kan sy verhaal ons leer oor God se plan wanneer ons nie die groter prentjie kan sien nie?
deur ds Werner Brotherton
Daar gebeur baie dinge in ons lewe wat ons nie altyd verstaan nie. Soms gebeur daar groot dinge wat ons hele lewe verander, en ons weet nie waarom dit gebeur nie.
Dit was ook die geval met Josef. Hy was nog ’n jong man toe hy drome gehad het wat gewys het dat sy familie eendag voor hom sou buig. In sy eerste droom het hy gesien hoe sy gerf opstaan terwyl die gerwe van sy broers rondom syne buig. In sy tweede droom het hy die son, die maan en elf sterre gesien wat voor hom buig.
Josef se broers het verstaan wat die drome impliseer: dat Josef eendag oor hulle sou heers. Hulle was glad nie gelukkig daaroor nie (Genesis 37:8, 10). Josef kon self ook nie weet hoe God hierdie drome sou gebruik of wat tussen die drome en die vervulling daarvan sou gebeur nie.
Josef se agtergrond tot hier
Josef se broers het hom gehaat en hom uiteindelik aan die Ismaeliete verkoop. Hy is na Egipte geneem en aan Potifar verkoop. Daar het dit aanvanklik goed met hom gegaan, maar nadat Potifar se vrou hom vals beskuldig het, het Josef in die tronk beland.
Selfs daar was die Here met Josef. Hy het die drome van die skinker en die bakker uitgelê en die skinker gevra om hom by die farao te onthou, sodat hy uit die tronk bevry kon word. Die skinker het hom egter vergeet (Genesis 40:14, 23).
Uiteindelik is Josef uit die tronk gehaal om Farao se drome uit te lê. Hy het aan Farao verduidelik dat God deur die drome bekend gemaak het wat gaan gebeur. Josef is daarna aangestel om Egipte voor te berei vir die komende hongersnood.
Deur al hierdie gebeure heen sien ons telkens dieselfde waarheid. Genesis 39:23 sê: “Die Here was met hom.”
Die droom wys nie die hele pad nie
As ons na Josef se verhaal kyk, besef ons hoe min hy van die groter prentjie kon sien toe hy sy drome gehad het.
Hy het nie geweet dat sy pad deur ’n put, slawerny en ’n tronk sou loop nie. Hy het nie geweet dat die skinker hom sou vergeet nie. Hy het ook nie geweet dat God hom uiteindelik in ’n posisie sou plaas waar hy die voedselvoorrade van Egipte kon bestuur en sy eie familie van hongersnood kon help red nie.
Die droom het nie vir Josef die hele pad gewys nie.
Ons weet ook nie altyd wat God besig is om te doen wanneer ons deur moeilike omstandighede gaan nie. Ons kan maklik moedeloos word wanneer dinge nie verloop soos ons verwag het nie. Ons kan wonder waarom die Here iets toelaat en waarheen alles op pad is.
Ons weet nie presies wat Josef gedurende hierdie jare gedink of gevoel het nie. Die Bybel vertel wel vir ons dat hy, selfs in moeilike omstandighede, voortgegaan het om sy verantwoordelikheid te doen en ander mense raak te sien. In die tronk het hy die bekommernis van die skinker en die bakker raakgesien en gevra waarom hulle so ontsteld is.
Josef se eie omstandighede was moeilik, maar hy het steeds aandag gehad vir die mense rondom hom.
Eers later word die groter prentjie sigbaar
Jare later het Josef se broers voor hom gestaan. Hulle het hom nie herken nie, maar hulle het hom nodig gehad omdat daar hongersnood was.
Nou kon Josef terugkyk oor alles wat gebeur het. Hy kon sien dat sy broers hom werklik kwaad wou aandoen, maar dat God selfs hulle verkeerde dade binne sy groter plan gebruik het.
Josef sê later vir hulle:
Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen.
Genesis 50:20
Dit beteken nie dat wat Josef se broers gedoen het, skielik goed was nie. Hulle het verkeerd gedoen en Josef het werklik daaronder gely. Maar hulle optrede was nie groter as God se regering oor Josef se lewe nie.
Josef kon uiteindelik sien wat hy as jong man nog nie kon sien nie.
God se plan is groter as wat ons kan sien
Josef se verhaal herinner ons daaraan dat ons nie altyd die groter prentjie van ons lewe kan sien nie. Ons sien dikwels net wat op hierdie oomblik voor ons lê. Josef se drome het hom nie die hele pad gewys nie. God sien egter die hele pad.
Die pynlike en moeilike dinge wat Josef beleef het, het deel geword van die pad waardeur God hom gebring het tot die plek waar hy kon help om duisende mense se lewens te red.
Ons uitdagings het dalk nie dieselfde uiteinde as Josef s’n nie. Ons weet nie altyd waarom sekere dinge in ons lewe gebeur of wat die uiteinde daarvan sal wees nie.
Maar ons kan weet dat ons lewe in die hande van die Here is. Ons hoef nie eers die hele plan te verstaan voordat ons Hom kan vertrou nie.
God se uiteindelike doel is soveel groter as wat ons ooit sal kan dink of droom, want die Here laat dit alles gebeur tot Sy heerlikheid en eer.
Lees meer oor Josef se drome hier:
