Eli, vader van twee slegte seuns

Eli is een van die beste voorbeelde van wat om as vader nié te doen nie. Sy seuns, Hofni en Pinehas is deugniete wat ons oor gelowige ouers se taak leer. Lees hier.
deur ds Jan-Louis Lee
Soms, as jy wil weet hoe iets reg gedoen moet word, is dit insiggewend om eers te kyk hoe dit verkeerd gedoen is – want ’n slegte voorbeeld wys jou dikwels presies wat om nié te doen nie.
Daarin is Eli as vader sekerlik die béste –slegste- voorbeeld.
Ons tref hom vir die eerste keer aan waar hy die arme Hanna – heel onverdiend – as deugniet uitkryt en haar beskuldig dat sy dronk is (1 Samuel 1:14-16). Dít terwyl sy haar hart in stilgebed voor die Here uitgegiet het.
Die deugniete, Hofni en Pinehas
Heel ironies woon Eli onder een dak saam met twee uitstekende voorbeelde van eersteklas-deugniete: Hofni en Pinehas, sy seuns (1 Samuel 2:12 en verder).
Maar Eli se seuns was slegte mense; hulle het nie met die Here rekening gehou nie.
Hulle was priesters, maar voer eindelik ’n skrikbewind by die heiligdom: hulle eis met geweld offervleis van die volk – selfs meer as wat hulle sou toekom, hulle was korrup en seksueel losbandig.
Dit het die gevolg gehad dat die volk die offerande aan die Here verag – die godsdienstige situasie in Israel het drasties gely onder hierdie twee manne.
En terwyl hy presies weet wat sy taak as pa was, om by wyse van spreuke die ‘boompie te buig terwyl hy nog jonk is’, versaak Eli klaaglik sy taak.
Eli, as pa, vat nie sy kinders vas nie
Die Skrif leer: “Wie sy roede terughou, haat sy kind; maar hy wat hom liefhet, tugtig hom vroegtydig …” (Spreuke 13:24).
Sy vermaning en tugtiging is maar bitter tandeloos. Hy uiter iets in die lyn van: Ag, wat moet ek van julle hoor? Dis nie goed nie, hou op!
Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade? Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie.
1 Samuel 2:23b-24
Hy het hulle verkeerde lewens in ’n sekere sin tog aangespreek, maar nooit werklik opgetree nie.
Die Here spreek Eli aan
Dit gryp ’n mens eintlik aan die hart as jy besef dat Eli so ernstig misluk het as pa dat God hom daaroor konfronteer in 1 Samuel 2:29 met woorde wat jou bloed moet laat stol:
Waarom ag jy jou seuns meer as vir My?
Hoekom is jy banger vir die reaksie van jou seuns, as jy hulle vasvat, as jy hulle buig en regtrek om op die weg van die Here te stap, as vir God?
Dis asof ’n mens vir Eli wil vra: wat kan jou seuns aan jou doen as jy hulle keer? Is jy werklik liewer vir hulle sonde en agteruitgang, as wat jy vir God is?
Daarom het die Here ’n oordeel oor Eli se nageslag gebring, en besluit om Hofni en Pinehas dood te maak (1 Samuel 2:27-36).
En wat met jou twee seuns Hofni en Pinehas sal gebeur, sal vir jou die teken wees: op dieselfde dag sal hulle albei sterf.
1 Samuel 2:34
Die gevolg van Eli se styl van tugtiging
Vandag het ons baie sulke voorbeelde – ouers wat bang is vir die woede-uitbarstings van hulle peuters as hulle nie ’n speelding in die winkel mag kry nie, ouers wat wegskram van ’n tiener-humeuraanval wat mag lei tot ’n deur wat toegeklap word omdat ’n selfoon weggevat is, ouers wat reëls maak maar nie daarby hou nie omdat die kinders se reaksie besonder negatief is.
Eli se vaderskapstyl het diep geestelike implikasies:
- As ouers toelaat dat slegte invloede of vriende ’n rol in hulle kinders se lewens speel.
- As kerk en huisgodsdiens en geloof eindelik opsioneel raak.
- Verkeerde optrede word toegelaat en tug vermy om konflik te voorkom.
- Om die ‘keeping up with the Joneses’-leefstyl te handhaaf en onrealistiese finansiële verwagtinge van hulle kinders te duld.
- Wanneer ouers gedrag wat onaanvaarbaar, sondig en gevaarlik is verontskuldig en goedpraat met verskonings soos ‘dis net ’n fase’, of ‘dis darem nie so erg soos daai en daai nie …’
Hoe kinders gelowig groot gemaak moet word
Maar Eli se negatiewe voorbeeld leer ons wat ouers is – en almal wat die Here nog daardie voorreg sal skenk – die groot geheim van ouerskap: en dit is om te onthou dat ons bloot rentmeesters van ons kinders is. Hulle behoort aan God, Hy het hulle oneindiger liewer as wat ons hulle ooit kan hê.
En daarom moet ons as ouers alles in die stryd werp om hulle gelowig groot te maak.
1. God is die hoofgesag oor jou kinders
Eerstens beteken dit dan dat ouers moet erken dat God die primêre gesag oor hulle kinders se lewens het. Dit maak van jou as pa ’n biddende pa, op jou knieë, daagliks, ter wille van jou kinders. Selfs al sou kinders dan later, vir ’n ruk, afdwaal, rus hulle verlossing in die hande van die Here.
Hanna bely dit in 1 Samuel 1:28:
So staan ek hom dan ook af aan die HERE al die dae wat hy leef …
2. Kinders leer deur hul ouers se voorbeeld
Daarna moet ouers besef dat kinders nie bloot deur ons onderrig leer nie, maar deur ons voorbeeld. Woorde wek, maar voorbeelde trek. Ouers moet saam methulle kinders Christus volg, want hulle leer daardeur. Saam bid, saam die Skrif ondersoek, saam kerk toe gaan, saam dien, saam gemeenskap van gelowiges beoefen.
En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.
Efesiërs 6:4
Dit is belangrik dat dit konsekwent sal wees, nooit opsioneel raak nie en altyd opreg is.
3. Sonde moet aangespreek word
’n Verdere belangrike ding wat Eli ons leer is om nie die sonde te ignoreer of te verskoon nie. ’n Tandelose vermaning is minder as niks werd nie; want dit trek nooit ’n streep nie, dit wys nooit werklik waar die grens vir bepaalde gedrag behoort te wees nie: dis in wese ’n aanmoediging!
Hebreërs 12:6 leer ons dat die Here dié wat Hy liefhet, tugtig. Dit beteken om in liefde terug te help, met woord en met daad te vermaan – met die doel om God te eer.
Ouers moet vasstaan in geloof
Jy het seker al die uitdrukking gehoor: ouerskap is om te leef met jou hart buite jou. Kinders se optrede is onvoorspelbaar en hoewel hulle jou baie vreugde gee, kan jy soms tot radeloosheid en hartseer gedryf word. Daarom word ouers in goeie en in slegte tye opgeroep tot volgehoue gebed, geloof en hoop.
Eli se lewe is ’n groot waarskuwing vir jou, pa. Dit is ’n herinnering aan die heilige roeping wat jy het en dit is ’n wekroep daartoe om ’n aktiewe en betrokke ouer te wees – ferm en liefdevol, maar een wat grense trek en daarby hou ter wille van die eer van die Here.
