Drome en visioene in die Bybel én vandag

God het in die Bybel deur drome en visioene gepraat. Wat beteken dit vir ons vandag, en hoe moet ons onderskei tussen ’n gewone droom en God se openbaring?
deur ds Ruan Steyn
Op verskeie plekke in die Skrif lees ons dat God deur drome en visioene met mense gepraat het. God het drome gebruik om duidelike boodskappe, waarskuwings en leiding te gee. In ’n tyd waar die charismatiese beweging groot aanhang geniet en sterk fokus op drome en visioene plaas, laat dit gelowiges vandag met ’n belangrike vraag: Beteken dit dat God vandag deur drome en visioene met ons praat?
Om hierdie vraag te beantwoord, is dit belangrik om kortliks te kyk hoe drome in die Bybel gefunksioneer het en hoe God se openbaring deur die geskiedenis heen ontvou het.
Voor die sondeval
Voor die sondeval het God direk met Adam en Eva gepraat en saam met hulle in die tuin van Eden gewandel. Nadat die sondeval plaasgevind het, het die mens nie meer daardie intieme toegang tot God gehad nie (vgl. Genesis 3).
Drome in die Ou Testament en Nuwe Testament
In die Ou Testament was drome een van die maniere waarop God sy wil, karakter en verlossingsplan aan sy volk bekend gemaak het. Hierdie openbaring het onder andere deur profete plaasgevind. Drome was nie net toekomsvoorspellings nie, maar kon ook ’n waarskuwing wees om gehoorsaam te wees aan die Here se verbond. Die hele Ou Testament het uitgeloop op en vooruitgewys na Jesus Christus as die volkome vervulling van al God se beloftes.
In die Nuwe Testament kom drome nie so prominent soos in die Ou Testament na vore nie. Waar drome wel verskyn, soos by Josef, Maria se eggenoot, of Pilatus se vrou, funksioneer dit as ’n direkte boodskap waarvan die betekenis en vervulling uiteindelik in Christus gevind word.
Vier verskillende maniere waarop God drome in die Bybel gebruik het
In die Bybel sien ons verskillende maniere waarop God drome gebruik het:
1. Drome ten opsigte van die verbond aan gelowiges en die aartsvaders
In hierdie drome openbaar God Hom aan sy uitverkore dienaars om sy verbond te bevestig, hulle te vertroos of om hulle toe te rus vir hulle dienswerk. ’n Voorbeeld daarvan is Jakob se droom by Bet-El (Gen. 28:12-15), waar God opnuut sy verbond bevestig en sy teenwoordigheid belowe.
In 1 Konings 3:5-15 lees ons dat God in ’n nagtelike droom aan Salomo verskyn het om ’n uitnodiging aan hom te rig om te vra wat hy begeer.
2. Drome aan heidense heersers om God se soewereiniteit te openbaar
In Genesis 20:3-7 en 31:24 lees ons dat God vir Abimeleg en Laban in ’n droom gewaarsku het om die aartsvaders en die verbondslyn nie aan te tas nie. Die Here se drome aan Nebukadnesar is ook ’n voorbeeld waar Hy sy soewereiniteit bevestig en sy koninkryk teenoor wêreldse koninkryke kontrasteer.
’n Goeie voorbeeld in die Nuwe Testament is Pilatus se vrou wat gedroom het dat Jesus onskuldig is (Matt. 27:19).
3. Profetiese en apokaliptiese drome en visioene
Ons lees in Daniël 7:1-28 oor die droom wat Daniël ontvang het oor die koms van die “Seun van die mens”, wat die ewige heerskappy ontvang. Hier dien die droom as ’n direkte apokaliptiese profesie oor die Messiaanse Koninkryk.
Die boek Openbaring is nog ’n voorbeeld van profetiese en apokaliptiese visioene.
4. Drome rondom die beskerming van Christus
In die Evangelies verskyn drome rondom die geboorte en vroeë kinderjare van Jesus. Josef, Maria se eggenoot, ontvang vier afsonderlike drome (Matt. 1:20-21; 2:13; 2:19-20) waarin hy beveel word om Maria as sy vrou te neem, na Egipte te vlug, terug te keer na Israel en uiteindelik uit Nasaret te vertrek.
Die wyse manne word ook in ’n droom gewaarsku om nie na Herodes terug te keer nie (Matt. 2:12).
Hierdie drome het ’n spesifieke doel gehad om die vleesgeworde Seun van God in sy swakheid as kind teen die duiwelse aanslae te bewaar.
Praat God vandag nog op dieselfde manier?
Die eenvoudige antwoord is ’n duidelike “nee”. Een van die bekendste Skrifgedeeltes wat dit bevestig, is Hebreërs 1:1-2:
In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun…
Die “ou tyd” verwys na die tyd van die Ou Testament, voor Christus se koms. Selfs in die Ou Testament was drome nie die hoogste vorm van openbaring nie. ’n Direkte openbaring en gemeenskap met God, soos wat Hy met Moses gehad het, is belangriker as drome (vgl. Num. 12:6-8; Jer. 23:28). Deuteronomium 13:1-3 leer ons dat dromers mense kan verlei. Daarom is dit belangrik om alles aan die Here se Woord te toets.
Die Here gee nie vandag nuwe openbaring aan ons deur drome en visioene nie, maar het sy voltooide en finale geskrewe Woord aan ons gegee, die Ou en Nuwe Testament. Die Skrif is genoegsaam vir ons redding en geloof (2 Tim. 3:16-17). Omdat God se openbaring in die Bybel volledig is, is daar geen behoefte aan nuwe openbarings of profesieë buite die Skrif nie.
Juis weens Christus se koms en verlossingswerk het daar ’n radikale wending plaasgevind. In Joël 2:29 lees ons van die profetiese belofte dat die Heilige Gees uitgestort gaan word. Op Pinksterdag is die Gees uitgestort (vgl. Hand. 2:17), en dit dui op die tyd van die Nuwe Verbond. Ons het nie meer spesiale openbarings nodig nie, want die Here werk deur sy Gees en sy Woord.
Openbaring of psigologie?
Daar is ’n ander aspek wat ons ook in gedagte moet neem: die psigologiese aspek van drome. Wanneer ons aan drome dink, moet ons die wetenskaplike en psigologiese werklikheid nie buite rekening laat nie. Navorsing toon dat die oorgrote meerderheid drome ’n produk van die menslike onderbewussyn is. Drome help ons brein om dinge gedurende die slaap te verwerk, soos ervarings, trauma, wense en vrese.
Hoe moet ons drome vandag hanteer?
Dit is nie onmoontlik dat ’n droom ons tot nadenke kan bring nie, maar drome is beslis nie die norm waardeur God vandag sy wil aan ons bekend maak nie. Ons het sy Woord, en dit is waarheen ons moet gaan om God se wil te ken. Ons moet onthou:
- Drome is nie gelyk aan die Skrif nie. ’n Droom mag nooit gebruik word om nuwe leerstellings te skep of Bybelse waarhede te weerspreek nie.
- Toets alles aan die Skrif. Enige indruk of boodskap moet altyd in ooreenstemming wees met God se geskrewe Woord. Drome wat hiermee in stryd is, kom beslis nie van God af nie.
- Wees versigtig en bid. Omdat ons onderbewussyn so ’n groot rol speel, kan dit gevaarlik en verwarrend wees om elke droom as ’n direkte profetiese boodskap te probeer vertolk. As ’n droom jou bekommer of tot ernstige nadenke bring, kan jy dit in gebed voor die Here bring en met ’n betroubare gelowige daaroor praat.
God is vandag steeds kragtig aan die werk deur sy Heilige Gees, maar Hy werk nie vandag op dieselfde buitengewone en grondleggende manier as tydens die era van die profete en apostels nie. Die Heilige Gees lei ons vandag in alle waarheid, en daardie waarheid vind ons volkome geopenbaar in die onfeilbare Woord van God.
