Die ewige troos waarvan Openbaring vertel

God werk reeds om ons in sy ewige woning te bring. Dit moet ons hoogste begeerte in hierdie lewe wees om daar uit te kom, waar ons geen trane meer sal hê nie.
deur ds Werner Brotherton
As jy die beste samelewing moes verbeel, hoe sou dit lyk? Hoe sou die samelewing lyk? Watter tipe kos sou daar wees? Baie mense het al deur die geskiedenis ’n droom oor ’n beter plek gehad, ’n utopie, net om die droom te verloor deur oorloë of ’n ander gevolg van die sonde.
Vir gelowiges is utopie wel nie ’n leë droom nie. Die boodskap van die Bybel is dat God reeds besig is om te werk om ons in sy ewige woning in te bring waar ’n volmaakte gemeenskap sal wees met oorvloed van alles wat ons nodig het. Dit is die koninkryk van God. Dit is die nuwe Jerusalem waarvan Johannes so heerlik in Openbaring 21 praat.
’n Voorsmaak van die ewigheid
Tog het ons reeds in hierdie lewe voorsmake van hierdie dag wat kom. Hebreërs 6:5 sê dat ons iets van die kragte van die toekomstige wêreld gesmaak het in hierdie lewe. Elke keer wanneer ons die prediking van God se Woord hoor beleef ons iets van die ewigheid.
Daar waar ons onder die erediens sit onder die beskerming van God, waar ons geestelik gevoed word, daar kry ons ’n voorsmakie van die ewigheid. Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 58 gee ons só ’n mooi antwoord op die vraag: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe? Hier is die antwoord:
Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar, ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit – ’n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie – om God daarin ewig te prys.
Wat ’n mooi prentjie skilder die kategismus vir ons! Die ewigheid is iets wat ons werklik nie kan uitdink nie, dit is nie iets wat ons ons eens kan verbeel nie. Romeine 8:18 sê dat nie eers die slegste wat ons hier op aarde opweeg teen die goeie wat in die ewigheid wag nie. Hoe vertroostend is dit nie!
Die koninkryk van die hemel wag
Jesus Christus het tydens sy lewe op aarde voortdurend ons aandag op die koninkryk gevestig. In baie van sy gelykenisse kom leer Hy ons oor die Koninkryk van die hemele. Hy het ons kom leer om verby hierdie wêreld te kyk. Daar kom iets beter.
Tog moet ons nou steeds leef, ons moet nou reeds die nuwe lewe leef, terwyl ons wag op die ewige troos wat kom.
Ja, daar in die hemele sal God ons laaste traan afvee, en daarna sal ons nie meer trane ken nie. Ons sal nie meer die vloek oor die sonde, die dood, ken nie. Ons sal nie meer met moeite werk nie. En, ons sal nie meer in die sweet van ons aangesig eet nie. Nog meer, dan is ons ewig by die Here!
Die ewige lewe moet jou grootste utopie wees
Dit moet ons hoogste begeerte in hierdie lewe wees. Nie om ’n geliefde weer te sien nie, nie om weg te wees van al die sleg nie, maar om by die Here te wees. Alles anders is sekondêr. Ja, in die ewigheid is ons by ons Bruidegom, ons Verlosser! Daar sal ons God sien in al sy heerlikheid, glorie en majesteit. Daar sal ons Hom volmaak gehoorsaam. En, daar sal ons lewe in volheid, want alleen by Hom is die waaragtige lewe!