Kry nuwe perspektief om sinvol te lewe

In Psalm 90 leer ons dat ons tyd op aarde nie onbeperk is nie. In plaas daarvan om jou tyd gejaagd te gebruik, gebruik dit sinvol.

deur ds Ruan Steyn


Elke nuwe jaar bring ’n gevoel van hoop, verwagting en die kans om weer nuut te begin. Ware vernuwing lê nie bloot in goeie nuwejaarsvoornemens nie, maar in ’n hart wat ware wysheid soek. Psalm 90 is een van die psalms wat hierdie waarheid vir ons leer. Psalm 90 is ’n gebed wat Moses geskryf het. Die gebed is nie net ’n refleksie oor tyd nie, maar ’n oproep tot ’n nuwe manier van leef.

Die psalm begin deur God se ewigheid te beklemtoon (vers 1-2): Hy is van geslag tot geslag vir ons ’n toevlug. Moses het dié waarheid ook in Deuteronomium 33:27 gespreek:

Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou.

Teenoor God se ewigheid staan die mens se verganklikheid (verse 3-11): ons lewe is soos gras wat in die oggend uitspruit en teen die aand verlep en verdroog. Die duidelike kontras tussen God se ewigheid en die mens se verganklikheid herinner ons dat tyd ’n kosbare geskenk is.

Wanneer ’n nuwe jaar aanbreek, dink ons dikwels aan nuwe planne, al ons prestasies en drome. Opsigself is daar niks daarmee verkeerd nie. Psalm 90 leer egter vir ons dat ons tyd nie onbeperk is nie – die mens se lewe is kort en die tyd is min.  

Daarom roep die psalm ons op om ons dae te tel, soos vers 12 ons herinner:

Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer, sodat ons ’n hart vol wysheid kan verwerf.

2020-vertaling

Hoe tel ons, ons dae soos Moses sê?

Wanneer ons besef dat die lewe kort is en dat ons nie onbeperkte tyd het nie, gaan dit ons bemoedig om op te hou om God te ignoreer terwyl ons al ons planne, drome en prestasies najaag. Ons gaan Hom soek, Hom eer en elke oomblik vir Hom lewe. Daarvoor het ons die Here se hulp nodig – Hy moet vir ons leer om ons dae te tel (ons lewensdae na waarde te skat).

Wat bedoel Moses daarmee?

  • Bewustheid – ons moet besef dat elke dag waarde het en dat ons dit nie sommer moet vermors op dinge wat nie ewigheidswaarde het nie.
  • Doelgerigtheid – om te leef met ’n fokus op die Here, om sy wil na te jaag en te lewe vir die opbouing en uitbreiding van sy koninkryk.
  • Wysheid – om nie net intellektuele kennis te hê nie, maar ’n ingesteldheid wat jou hele menswees tot die regte optrede lei, die soeke na God se wil en die uitleef daarvan. Dit gaan daaroor om ’n lewe te ly wat God eer.

Die tel van ons dae is ’n geestelike ingesteldheid. Dit vra dat ons elke oomblik sal sien as ’n geleentheid om God te dien en ’n seën vir ander te wees.

Ons tel nie ons dae omdat ons verlossing daarin lê nie. Ons tel ons dae omdat ons bewus is van ons swakheid, ons menigvuldige sonde en ons verganklikheid. Tog glo ons van harte dat die Here Jesus vir ons gesterf het en daarom gebruik ons elke oomblik om Hom daarvoor te dank en te eer.


’n Nuwe perspektief vir ’n nuwe jaar

In plaas daarvan om net weer gejaagd voort te leef, leef ons eerder sinvol. Hierdie psalm bied vir ons ’n alternatiewe manier om die nuwe jaar te benader: nie net voornemens nie, maar wysheid; nie net om jou tyd te bestuur nie, maar om tyd te heilig (aan God toe te wy); nie net te oorleef nie, maar betekenisvol te leef.

Praktiese toepassing vir die nuwe jaar:

  • Begin elke dag met gebed en in totale afhanklikheid voor die Here.
  • Stel Skrifgetroue doelwitte en prioriteite: Kies doelwitte wat nie net aardse sukses bring nie, maar geestelike groei bewerk.
  • Leef met dankbaarheid: Tel jou dae deur jou seëninge te tel en die Here daarvoor te dank.
  • Bou kosbare verhoudings: Gebruik jou tyd om ander te dien, liefde aan hulle te betoon en om die evangelie aan verlorenes te verkondig.
  • Soek wysheid in God se Woord: Laat die Skrif altyd jou rigtingwyser vir jou besluite en planne wees.

Mag jy hierdie nuwe jaar ’n nuwe perspektief hê: om jou tyd sinvol tot eer van die Here te bestee. Wanneer jy hierdie nuwe perspektief het en dit najaag, kan jy verseker wees van die waarhede in Psalm 90: die Here sal jou versadig maak met sy troue liefde (vers 14) en Hy sal jou handewerk in stand hou en jou seën (vers 17).

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui