Wat doen jy wanneer jy nie kan aangaan nie?

Die verlamde man in Markus 2 se vriende het hom na Jesus gedra. Soms is geloof nie om sterk te wees nie, maar om toe te laat dat ander jou dra.
deur ds Ruan Steyn
Ons leef in ’n kultuur wat selfgemaakte mense bewonder. Die wêreld prys die individu wat onafhanklik is, wat sy eie probleme oplos en wat sonder hulp deur die storms van die lewe kan stap.
Die werklikheid is dat daar tye kom wanneer ons eenvoudig nie self kan regkom nie; tye wanneer die lewe ons hard slaan; tye van rou, depressie, geloofsworstelinge en siekte.
Dit is juis in hierdie oomblikke van magteloosheid dat die Evangelie ons herinner aan ’n radikale waarheid: ons is nie gemaak om alleen na Jesus toe te loop nie. Soms moet ons gedra word. Ons het nie nodig om ons eie laste te dra nie, want ons dra mekaar se laste (Galasiërs 6:2).
In Markus 2:1-12 vind ons een van die mees aangrypende verhale van broederskap en geloof. ’n Verlamde man word deur sy vriende na Jesus toe gebring. Die huis is te vol, die skare is ongenaakbaar en die deure is gesluit. Hierdie vriende weier egter om om te draai. Hulle klim op die dak, breek die teëls oop en laat die man reg voor die voete van Jesus afsak.
Ons is nie gemaak om alleen te glo nie
Die Skrif beklemtoon die gemeenskap van die heiliges. Geloof is wel persoonlik, maar dit is nooit privaat of geïsoleerd nie. Ons sien dit in Jesus se woorde: “Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Seun, jou sondes word jou vergewe’” (vers 5).
Jesus genees en vergewe die man nie op grond van sy eie belydenis nie, maar toe Hy die geloof van sy vriende sien. Daar is tye wanneer jou geloof swak voel, jou gebede opraak en jou oë te vol trane is om verder te sien. Dit is wanneer die geloof van jou broers en susters namens jou intree. Hulle gebede dra jou wanneer jy stom is; hulle hoop hou jou vas wanneer jy wil opgee.
Die moed om hulp te aanvaar
Die moeilikste deel van hierdie verhaal is dikwels nie om die vriende te wees wat dra nie, maar om die persoon op die draagbaar te wees. Om hulp te vra, vra ons om ons eie trots te kruisig. Dit beteken ons moet die skerms laat sak en erken: ek kan nie vandag nie; ek het hulp nodig.
Om jou te laat dra, is ’n daad van diepe kwesbaarheid. Dit beteken dat ander mense jou swakheid sien. Tog is dit presies waar die genesing begin. Solank as wat ons ons eie “verlamming” ontken, bly ons buite die huis waar Jesus besig is om te genees. Eers wanneer ons instem om op die draagbaar te gaan lê, gee ons vir die liggaam van Christus die geleentheid om te wees wat dit moet wees: die draers van mekaar se laste.
Ware vriende dra meer as net jou nood
Daar is ’n groot verskil tussen mense wat bloot jammer vir jou voel en vriende wat jou daadwerklik help. Die wêreld is vol mense wat vinnig simpatie bied, maar die Kerk van die Here is geroep tot radikale voorbidding en praktiese diensbaarheid.
Die vriende het nie net langs die verlamde man gesit en saam met hom oor sy lot gekla nie. Hulle het die gewig op hulle skouers gelaai. Hulle het die risiko’s geneem. Dit is die roeping van die kerk en spesifiek die diakonaat: om nie net met woorde lief te hê nie, maar met die daad.
Die doel van hierdie “dra-werk” is nooit net fisiese hulp nie. Die vriende het die man nie bloot gehelp om sy omstandighede te verbeter nie; hulle het hom na Jesus toe gebring. Dit help nie ons help mekaar net om sielkundig of finansieel te oorleef nie. As ons mekaar nie voor die voete van die Here neerlê nie, het ons die belangrikste deel van ons roeping gemis.
Jesus gee meer as waarvoor ons vra
Toe die man uiteindelik voor Jesus lê, gebeur die onverwagte. Jesus genees nie dadelik die verlamde man nie. Hy sê eers: “Jou sondes word vergewe.”
Ons dink dikwels ons grootste nood is ons omstandighede, ons gesondheid of ons emosies. Jesus wys dat ons grootste nood ons verhouding met God is. Deur die man eers geestelik te genees en daarna fisies, wys Jesus dat Hy die hele mens nuut maak.
Wanneer ons toelaat dat ander ons na Jesus toe dra, kry ons dikwels soveel meer as waarvoor ons gevra het. Ons kry nie net krag vir die dag nie; ons kry ewige vrede. Ware vriende staan ons nie net in ons fisiese nood by nie, maar ook in ons geestelike nood. Ware vriende vat ons na die voete van Jesus toe.
Wie dra jou wanneer jy nie meer kan nie?
Die lewe is ’n opeenvolging van seisoene. Daar is seisoene waar jy sterk is, waar jou geloof vuurwarm is en jou skouers breed is. In daardie seisoene moet jy rondkyk in jou gemeente, jou vriendekring of in die samelewing en vra: Wie lê vandag op ’n draagbaar? Wie se las kan jy dra? Wie het nodig om by Jesus se voete te sit?
As jy vandag die een is wat in die donker sit, wat voel asof jy nie meer kan nie, moenie jouself isoleer nie. Laat toe dat die Kerk haar roeping uitleef. Geloof beteken soms bloot om stil te lê, terwyl diegene wat jou liefhet jou na Jesus se voete toe dra.
Hoekom wil ons by Jesus se voete wees? Omdat Hy nie net ’n gewone mens is nie. Hy is die Seun van God, die Een wat vergewe, herstel en met God versoen.
Daar kom tye wanneer jy die een is wat dra. Maar daar kom ook tye wanneer jy die een op die draagbaar is. Moenie skaam wees vir daardie seisoene nie. Soms is geloof nie om self sterk genoeg te wees nie. Soms is geloof om toe te laat dat ander jou na Jesus toe dra. En wanneer hulle dit doen, ontdek jy dat die Een na wie hulle jou dra, reeds daar vir jou wag.
